Verbruiningsbehandelings: Wat is veilig en wat gaan vlek?

(Foto: Pexels/Argief)

Met die Desembervakansie in volle swang, wil baie van ons graag ʼn goue gelaat hê nog voordat ons by die swembad of strand kom. Danksy moderne skoonheidstegnologie is daar talle verbruiningsbehandelings om van te kies.

Maroela Media het met Anneke Megit, akademiese programkoördineerder, en Isanri Roodt, ʼn velsorglektrise by die Isa Carstens-skoonheidsakademie, oor wenke vir veilige en vleklose verbruining gesels.

Is sonblootstelling en verbruining deur die son dieselfde ding?

Volgens Anneke en Isanri is sonblootstelling nie altyd negatief nie, maar sonverbruining (tanning) is wel.

Sonblootstelling het verskeie positiewe effekte op die liggaam, insluitende die vrystel van endorfiene, die produksie van vitamien D in die vel wat help met kalsiumabsorpsie en verbeterde bloedsirkulasie in die liggaam.

Verbruining van die vel deur die son het negatiewe effekte waarvan velkanker, voortydige veroudering en sonbrand van die algemeenste effekte is.

Hoe gemaak as jy wel in die son verbruin? 

Volgens Anneke en Isanri kan ʼn mens nog steeds met sonskerm verbruin, maar dit is belangrik as jy redelik lank in die son gaan wees om dit minstens elke twee ure aan te wend.

Hiervoor stel hulle verbruiningsprodukte soos ʼn room of ʼn sproei met ʼn sonbeskermingsfaktor (SBF) voor, wat jou velkleur donkerder kan laat voorkom, maar steeds teen die son beskerm. SBF verwys na hoe lank ʼn sonroom jou teen die son se ultraviolet (UV) B-strale kan beskerm, en die getal voor die SBF verwys na die hoeveelheid UVB-strale wat die produk kan uitblok.

Baba-olie, ʼn gunstelingproduk onder party verbruiningsliefhebbers, moet ook vermy word omdat dit ʼn kombinasie van petrolatum en minerale olie as basis het. Anneke en Isanri verduidelik dat dié bestanddele jou vel makliker onder UV-strale laat brand, en jou risiko vir velkanker kan verhoog.

(Foto: Armin Rimoldi/Pexels)

Vermy sonskade só

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet die son tussen 10:00 en 16:00 vermy word omdat UV-strale dán op hul sterkste is.

Studies het bevind dat jy tussen 5 en 30 minute se sonblootstelling kan verduur sonder om skade aan jou vel te berokken, maar dit hang volgens Anneke en Isanri van jou velfototipe af.

Die klassifikasie van velfototipes hang af van die vel se reaksie op sonlig. Velle met ʼn ligter fototipe gaan uiteraard sonbrand makliker opdoen as diegene met ʼn donkerder fototipe.

Is ʼn sonbed beter, of gesonder?

In 2009 is die sonbed deur die internasionale vereniging van kankernavorsing as ʼn menslike karsinogeen geklassifiseer. Dit beteken dat dit ʼn kankerwekkende stof, -radionuklied of -straling bevat.

Volgens Anneke en Isanri dui navorsing daarop dat ʼn sonbed se nadele dus sy voordele oorskry.

Hulle verduidelik dat ʼn sonbed kunsmatige UV-strale gebruik om die vel te verkleur en behandeling veroorsaak dat jou lyf vir langer aan meer direkte strale blootgestel word.

(Foto: Danny van Dijk/Unsplash)

Hoe kies jy ʼn selfverbruiningsproduk en -skakering?

Anneke en Isanri stel professionele verbruiningsbehandelings by skoonheidsalonne voor waar terapeute geraadpleeg kan word, omdat die produk eweredig en in die korrekte skakering aangewend sal word.

Jy wil natuurlik ʼn onnatuurlik voorkoms vermy, en dit gebeur as die produkte verkeerd aangewend word. ʼn Allergiese reaksie is die enigste nadeel van dié soort produkte en behandelings. Daarom beveel hulle aan dat jy ʼn gedeelte van jou lyf vooraf toets om uitslae en velirritasies te vermy.

Hou dit in gedagte wanneer jy ʼn verbruiningsproduk kies:

  • Moet die vel vooraf voorberei word soos voor ʼn waks?
  • Is dit van ʼn gevestigde of geloofwaardige handelsmerk?
  • Is dit ʼn verbruikersvriendelike produk, of stel die instruksies professionele hulp met die aanwending daarvan voor?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.