Die verskil tussen 30 SBF- en 50 SBF-sonskerm

(Foto: Pixabay)

Tydens Suid-Afrikaanse somervakansies skyn die son ’n bietjie warmer, bring ons meer tyd buite deur en baai ons vir lang tye aaneen in die son.

Daarom is dit belangrik om die regte sonskerm aan te wend wanneer jy weet jy in die son gaan wees. Party mense glo in 50 SBF en ander sê weer dat 30 SBF beter werk. Ons het gaan uitvind wat die verskil tussen dié twee soorte sonskerm is.

Wat is SBF?

SBF staan vir sonbeskermingsfaktor en dit verwys na hoe lank ʼn sonroom jou teen die son se ultraviolet (UV) B-strale kan beskerm. Sonroom bevat gewoonlik ʼn beskermingsfaktor van 15 tot 50 SBF.

UVB-strale is die hoofoorsaak van vel wat brand en rooi word as jy te lank in die son was. Dié strale kan die vel se buitelaag, die epidermis, beskadig. Dit is ook hier waar die mees algemene vorm van velkanker voorkom.

Hoeveel SBF is die beste?

Die getal voor die SBF verwys na die hoeveelheid UVB-strale wat die produk kan uitblok.

15 SBF blok rondom 93% van die son se UVB-strale.

30 SBF blok rondom 96% van die son se UVB-strale.

50 SBF blok rondom 98% van die son se UVB-strale

Hoewel daar baie produkte, veral kosmetiese produkte soos grimering is wat 15 SBF gemerk is, is die standaard 30 SBF en hoër. Daar is wel geen produk wat jou vel 100% teen die son kan beskerm nie, en enige sonroom met ʼn SBF bó 50 bied eintlik maar min ekstra beskerming.

Dit is ook belangrik om sonskerm ruim aan te wend om die gewenste beskerming te geniet wat die produk bied.

Hoe gereeld moet ek sonroom aanwend?

Daar is ʼn persepsie dat mens ʼn laer SBF meer gereeld moet aanwend en ʼn hoër SBF net een keer, maar dit is nie heeltemal waar nie. Enige sonroom se sonbeskermingsfaktor kan jou vel slegs twee uur lank beskerm, daarna moet dit weer aangewend word.

Dit maak dus nie saak of jy 15 SBF gebruik of 50 SBF nie, jy moet dit steeds elke twee uur goed aanwend. Die enigste verskil tussen die verskillende SBF’s is die vlak van beskerming teen die son, nie die tydsduur wat dit jou beskerm nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Simon ·

Die artikel is bietjie weersprekend.

Verwys artikel; SBF Verwys na ‘hoe lank’ die spesifieke room jou kan beskerm. Wat beteken SPF50 beskerm jou vir 50 minute en SPF30 vir 30 minute. Dus moet mens die room weer aanwend na die gegewe tyd verloop het :-) So die laaste paragraaf oor wanneer jy dit moet aanwend is teenstrydig met wat SBF eintlik is.

Oubaas ·

Eintlik dui die faktor aan hoeveel langer jy in die son kan bly voor jou vel rooi word, vergeleke met geen sonskerm. So 30 is 30 keer langer, 150 min ipv 5 min ens.

Son ·

So hoe werk dit wetenskaplik?
(Ek kan dink dat iets wat jou vel bedek (hemp, sink-oksied ens) blok die UV’s, maar iets wat jy invryf? Wat sal die meganisme van die beskermingsproses wees?)

Oubaas ·

Onderskei tussen sonblok en sonskerm. Blok: Bevat weerkaatsende partikels, meestal sinkoksied of titaanoksied. Vorm ‘n laag op die vel. Skerm: Bevat chemikalieë byv PABA wat UV lig absorbeer, maar is self kleurloos. Blok is beter, want jy kan sien dit het afgewas in die water. In Amerika mag hulle nie meer sê dis waterbestand nie, geen skerm of blok is waterbestand nie, hulle was tog maar af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.