Voedingswenke vir Covid-19-lyers met diabetes, vetsug

Vars vrugte is noodsaaklik vir die liggaam om volkome van Covid-19 te herstel. (Foto: Unsplash/Julia Zolotova)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die impak van Covid-19 op diabetes- en vetsuglyers groter.

Daarom is gesonde eetgewoontes uiters belangrik vir dié pasiënte om volkome te herstel, sê Omy Naidoo, ʼn geregistreerde dieetkundige van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

“Oor die algemeen het mense met diabetes ernstiger simptome en komplikasies wanneer hulle die virus opdoen. Vetsug het ook intussen na vore gekom as ʼn sterk en onafhanklike risikofaktor vir ernstige infeksie en sterfte weens Covid-19,” sê Naidoo.

“Pasiënte wat herstel van die koronavirus behoort elke dag ʼn verskeidenheid van vars en ongeprosesseerde kossoorte te eet om genoeg vitamiene, minerale, vesel, proteïen en anti-oksidante in te neem. Pasiënte moet ook baie water drink en suiker, vette en sout vermy.”

Naidoo het vier voedingswenke gedeel vir diabetes- en vetsuglyers wat herstel van Covid-19:

Proteïen

  • Proteïen is ʼn belangrike nutriënt vir selgroei en regenerasie. Dit is ʼn bousteen van die lewe en word deur die liggaam vereis om vinniger te herstel. ʼn Hoë-proteïen-dieet word sterk aanbeveel vir Covid-19-lyers.
  • Dit is noodsaaklik om daagliks 75 tot 100 g proteïen in te neem. Eet meer kos soos lensies, peulgewasse, melk en melkprodukte, soja, neute, sade, vleis, hoender, vis en groente.

Vitamiene en minerale:

  • Vars vrugte en groente is gelaai met anti-oksidante, vitamiene en minerale wat die immuunstelsel ʼn hupstoot gee.
  • Mik vir vyf porsies vrugte en groente per dag.
  • Sitrusvrugte bevat vitamiene C, wat help met die vorming van teenliggame en beveg infeksie, terwyl groen en wortelgroente die immuunstelsel versterk.
  • Bring tyd buite deur om genoeg vitamiene D in te neem.

Minder suiker en sout

  • Beperk die hoeveelheid sout en speserye, soos visspeserye en sojasous wat gebruik word tydens die kookproses.
  • Beperk soutinname tot minder as 5 g per dag en gebruik gejodeerde sout.
  • Vermy peuselhappies wat baie suiker en sout bevat.
  • Beperk jou inname van gaskoeldranke en ander drankies met ʼn hoë suikerinhoud, byvoorbeeld vrugtesap, gekonsentreerde vrugtesap en strope, en gegeurde melk en jogurtdrankies. Kies vars vrugte eerder as soet peuselhappies soos koekies, koek en sjokolade.

Vloeistowwe

  • Water is ʼn noodsaaklike element aangesien dit nutriënte in die bloed gelei, liggaamstemperatuur reguleer en toksiene uit die liggaam spoel. Infeksie kan ook die liggaam dehidreer.
  • Drink minstens twee tot drie liter water per dag. Jy kan ook kruiekonkoksies, kokosneutwater, melk en vars vrugtesap drink.
  • Vermy verpakte sap, kafeïen en gaskoeldrank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

2 tot 3 liter water per dag??????? My huisdokter het my aanbeveel om NIE so baie water te drink nie, net sowat 1,5 tot maks. 2 liter. As diabeet, sit jy jou niere nóg meer onder druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.