Wanneer jou lyf sê: Beweeg meer!

(Foto: iStock)

Hoewel winter nie noodwendig almal se gunstelingoefenseisoen is nie, is dit belangrik om regdeur die jaar aan die beweeg te bly vir ons liggaam om sekere lewensnoodsaaklike funksies te verrig. Kyk gerus uit vir dié tien tekens wat verklap dat dit tyd is om aan die beweeg te kom:

Wat jou liggaam verklap:

  • Hardlywigheid: As ons beweeg, beweeg ons ingewande (derms). ʼn Gesonde spiertonus en diafragma help die liggaam om afvalstowwe deur die spysverteringskanaal te laat beweeg. Deur gereeld te oefen, veral soos wat ʼn mens ouer word, verseker dat dié afvalstowwe gereeld uitgeskei word (ook deur middel van sweet) en nie in die liggaam ophoop nie.
  • Gewrigspyn: Seer en moeilik beweegbare gewrigte kan dui op inflammatoriese toestande soos artritis of ʼn outo-immuunsiekte. Ons gewrigte word styf as ons nie oefen nie. Net soos ʼn deur of ratwerk olie benodig, moet ons gewrigte aan die beweeg bly om ouderdomsverwante probleme te voorkom.
  • Buierig? ʼn Gesonde liggaam huisves werklik ʼn gesonde gees. Deur nét by jou lessenaar of voor die televisie te sit, verhoog gevoelens van depressie en angs. Matige oefening soos stap of fietsry, veral saam met ander, sal jou nie net gesonder laat voel nie, maar ook jou gemoed én selfbeeld ʼn hupstoot gee.
  • Min energie: Voel jy gereeld moeg en of jou liggaam permanent vlak 8-beurtkrag beleef? Dan beweeg jy te min. Die liggaam is soos ʼn dinamo wat sy energie moet aanvul, nie net deur die regte kos in te neem nie, maar oefening verseker dat suurstof en voedingstowwe die regte weefsels op die regte tyd bereik en jou energietenk vol bly.
  • Uitasem: Net soos jou armspiere bult as jy ʼn lekker oefensessie in die gimnasium ingewerk het, net so raak ons spiere swak as ons vir lang tye ledig was. ʼn Gebrek aan oefening verswak die spiere wat die longe ondersteun en kan jou vinnig uitasem laat, selfs as jy eenvoudige dagtake verrig.

(Foto: iStock)

  • Rugpyn: Dit is dikwels ook die resultaat van te min oefening. Maak jou postuur weer ʼn slag prioriteit deur joga of strekoefeninge te doen om jou maag- en rugspiere sterker te maak. Staan gereeld op as jy werk en maak seker jy sit in die regte posisie om jou rug en nek te ondersteun.
  • Rusbankruspe: Hoe minder ons beweeg, hoe meer geneig is ons om in die koskas vir trooskos te krap. Oefening versnel ons metabolisme en keer dat ons meer kalorieë inneem as wat ons liggaam werklik benodig. Onaktiwiteit verhoog boonop die risiko vir hoë bloeddruk, hartsiektes en diabetes.
  • Skape tel: Oefening verhoog die suurstofinname deur die bloed en sal nie net help dat jy saans vinniger aan die slaap raak nie, maar dieper en beter slaap. Oefening gee ook die brein stukrag wat jou sal help om minder vergeetagtig te wees en helder te kan dink.
  • Gereeld siek: Navorsing toon ʼn duidelike verband tussen siekte en oefening. Gereelde oefening versterk die immuunstelsel en sal keer dat kieme hulle kloue inslaan en die geringste snuffels jou ontspoor.
  • Vaal Japie: Studies het getoon dat ʼn vaal of bleek gelaatskleur ook op te min oefening kan dui. Matige oefening verbeter jou sirkulasie en versterk jou immuunstelsel, wat jou vel help om daardie jeugdige glans te behou.

Bykomende bronne: WebMD, Livestrong, The Guardian en Besthealthmag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.