Wegneemetes en uiteet: Kies só slimmer

Lize Snyman (Foto: Verskaf)

Wegneemetes word algemeen beskou as ʼn kitsoplossing ná ʼn lang dag of ʼn vakansiebederf vir die kinders, maar dieetkundige Lize Snyman sê mense moet selfs in die vakansie waaksaam wees om hulle nie daaraan te ooreet nie. Sy gee praktiese wenke om jou eetgewoontes vanjaar beter te bestuur.

Snyman sê dit is altyd ʼn beter keuse om eerder weg te bly van wegneemetes af, omdat jy dikwels te veel bestel en dan ook te veel eet omdat jy waarde vir jou geld wil kry.

“Jy kan baie lekker burgers by die huis maak, met aartappelskyfies én ʼn sous. Jy sal geld spaar én jou risiko om Covid-19 op te doen verminder omdat jy nie in ʼn besige restaurant gaan staan en wag nie,” sê sy.

ʼn Tuisgemaakte pizza is ook veel beter as een wat jy by ʼn restaurant of wegneemrestaurant sal koop.

“Pizzas bevat verskriklik baie koolhidrate en vet. Dit is ʼn gemors. Die porsies is ook veels te groot, want ʼn volwassene eet maklik ʼn pizza op sy of haar eie op.”

Sy stel voor jy maak jou eie pizza by die huis deur ʼn laekoolhidraat-wrap te smeer met tamatiepasta en dan nog ʼn wrap bo-op te plak. Dit skep ʼn stewige basis waarop jy dan jou gunsteling-pizza-bestanddele kan byvoeg.

Maar as jy in elk geval ʼn wegneemete gaan eet, gee Snyman hierdie wenke vir gesonder keuses:

Bestuur die omgewing waarin die wegneemete gekoop word

“Ek dink ʼn groot probleem met wegneemetes is: Wanneer ons besluit om dit te gaan koop, is dit gewoonlik omdat daar ʼn tydkwessie is. Ons het laat by die huis gekom, was lank op die strand en is almal honger. So, ons wou eintlik al geëet het. Nou ja, dan bestel ʼn mens te veel en eet te veel.”

ʼn Strategie wat jy kan gebruik voor jy ʼn wegneemete koop, is om eers iets te drink voordat jy na die spyskaart begin kyk. Drink eers koffie of ʼn glas water sodat jy nie so rasend honger is nie. Wanneer jy dan kalm is, bestel wat jy nodig het.

(Foto: Pixabay)

Kies eerder ʼn burger

ʼn Roman’s-pizza (Hawaiian) bevat sowat 1 230 kJ per stuk en mense eet oor die algemeen sowat vier tot vyf stukke pizza, wat dié getal opstoot na tussen 5 000 en 6 000 kJ. ʼn McDonald’s-kaasburger bevat slegs 1 100 kJ.

Die kaasburger is steeds nie ʼn gesonde opsie nie, maar deur ʼn burger eerder as ʼn pizza te bestel, kan jy jou daaglikse kilojoule-inname aansienlik verminder.

Wees slim met bykos

Snyman stel voor jy los die bykos heeltemal wanneer jy wegneemetes koop, of deel dit ten minste met iemand.

“Die restaurante verkoop dit aan jou asof jy meer waarde vir jou geld kry, maar eintlik stop hulle jou net vol goedkoop koolhidrate. Los dit heeltemal, of deel dit met iemand, of deel ʼn porsie aartappelskyfies tussen die hele gesin.”

Eet en drink gelyk

Wanneer jy iets drink terwyl jy eet, help die vloeistof om ontslae te raak van ekstra suiker en koolhidrate in jou kos.

Snyman sê dit is wys om iets te drink aan tafel by ʼn restaurant of wanneer jy ʼn wegneemete kry, mits dit suikervry is. Sy stel voor jy drink ʼn suikervrye drankie of water.

“Baie van die koolhidrate en suiker word uitgespoel deur urien en kry dan nie tyd om omgeskakel te word in vet nie,” sê sy.

((Foto: Pixabay)

Fokus op voorgereg

Maak dit ʼn gewoonte in jou gesin of vriendekring dat julle voorgereg wat almal kan deel vir die tafel bestel. Kies dan ʼn heerlike slaai of groentedis sodat almal daaraan kan peusel voordat hulle ʼn hoofgereg bestel.

So verseker jy dat jy nie rasend honger is wanneer dit by etenstyd kom nie en dat die ergste hongerpyne met iets gesonds gestil is.

Drinkgoed

Snyman stel voor jy drink slegs drankies wat nie suiker bevat nie, aangesien jy reeds soveel suiker en oortollige kilojoules met gewone wegneemetes inneem.

“Die algemene reël is dat jy vir elke alkoholiese drankie ook ʼn nie-alkoholiese drankie tussenin moet drink. Die beste is om water te drink, maar as jy dit nie wil doen nie, drink iets soos ʼn skoon Coke Zero of Sprite Zero om jou suikerinname te verminder. Jy kan ook jou alkohol met hierdie suikervrye opsies meng.”

Snyman waarsku mense om sommer heeltemal weg te bly van skemerkelkies af, aangesien dit groot hoeveelhede suiker bevat wat nie goed is vir hulle nie.

“ʼn Mens kry heerlike suikervrye tonikum vir jou jenewer, jy kan brandewyn met Coke Zero drink en jou vodka met Sprite Zero meng.”

(Foto: Pixabay()

Weet waarvoor om te kyk

Wees slim as jy by ʼn restaurant gaan eet – jy hoef nie die maaltyd te bestel presies soos wat dit op die spyskaart aangedui is nie. Met ʼn burger, byvoorbeeld, kan jy die bokant van die broodrolletjie afhaal, en dit met ʼn groot sampioen vervang. As die restaurant nie groot sampioene het nie, kan jy bloot net die onderkant van die rolletjies eet.

Snyman stel ook voor jy los al die ekstras op ʼn burger. Sy sê dit is nie nodig vir ekstra spek, eier of sous nie.

“As jy ʼn sous wil bestel, deel dit met iemand of met die hele tafel, want die porsiegrootte van ʼn sous wat voorgesit word, is eintlik veels te groot. Jy en jou man of vrou en jul twee kinders kan eintlik elkeen een porsie sous deel.”

As jy nie lus is vir ʼn burger nie, kan jy ʼn pasta met ʼn tamatiebasis kies en eerder ʼn roombasis vermy. Of jy kan vra dat jou hoender of vis sonder ʼn degie rondom gaargemaak word.

Beweeg

“Dit is nou die tyd dat ons nie in die kantoor is nie, en Suid-Afrika het lieflike vakansieweer. Kom as gesinne buite en doen oefeninge. Stap strand toe of speel saam in die swembad. As jy by die huis bly, doen tuinwerk of ry fiets,” sê Snyman.

“Sodra jy nie iets alleen hoef te doen nie, maar dit saam as ʼn gesin doen, is dit sommer dadelik lekkerder. As jy lekker wil uitgee in terme van kilojoule-inname oor die vakansie, moet jy ook opmaak daarvoor.”

Kyk hier hoeveel geskatte kilojoules daar in van jou gunsteling-wegneemetes is:

McDonald’s-aartappelskyfies (medium)937
McNuggets, 6 stukke1 088
McDonald’s-kaasburger1 100
Roman’s-pizza (Hawaiian), 1 stuk1 230
Steers-melkskommel1 251
KFC-aartappelskyfies (medium)1 435
Steers-aartappelskyfies (medium)1 506
McChicken-burger1 615
KFC Colonel-burger2 045
McDonald’s Big Mac-burger2 301
KFC-Twister (hoender)2 635
King Steers-burger2 736
Burger King Wopper-burger2 761
McDonald’s-hoenderslaai3 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.