Geweld, teistering in werkplek kommerwekkend

(Foto: iStock)

Bykans een uit elke vier mense (sowat 23%) ervaar geweld en teistering by die werk, hetsy fisiek, sielkundig of seksueel. Dít blyk uit die eerste omvattende studie van sy soort deur die

Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), die Lloyd’s Register Foundation (LRF) en Gallup.

Die IAO-LRF-Gallup-studie is gegrond op onderhoude wat in 2021 met bykans 75 000 werkende mense (15 jaar of ouer) in 121 lande gevoer is.

Dié eerste wêreldwye opname oor geweld en teistering in die werkplek bied ’n insiggewende blik op die omvang van die probleem asook die verskillende vorme van geweld en teistering wat in werkplekke voorkom. Dit neem ook faktore onder die loep wat mense verhinder om hieroor te praat, onder meer skaamte, ’n gebrek aan vertroue in instansies of werkgewers, asook dat sulke onaanvaarbare gedrag dikwels as “normaal” beskou word.

“Geweld en teistering by die werk is moeilik om te meet. Die verslag het bevind dat slegs die helfte van slagoffers wêreldwyd hul ervarings met iemand anders deel, en dikwels eers nadat hulle aan meer as een vorm van geweld of teistering blootgestel is,” het die IAO in ’n verklaring gesê.

Wêreldwyd het 17,9% van werkende mans en vroue gesê dat hulle al sielkundige geweld en teistering in hul werkplek ervaar het. Sowat 8,5% het fisieke geweld en teistering ervaar, terwyl 6,3% seksuele geweld en teistering ervaar het. Meer mans as vroue het onder fisieke geweld en teistering deurgeloop, terwyl meer vroue as mans die slagoffers van seksuele geweld en teistering was.

Die algemeenste redes waarom slagoffers nie hieroor praat nie, was “tydmors” en “’n vrees vir reputasieskade”. Vroue is voorts meer geneig om hul ervarings te deel as mans (60,7% teenoor 50,1%).

Volgens die IAO het meer as drie uit elke vyf slagoffers gesê dat hulle verskeie keer geweld en teistering by die werk ervaar het, en vir die meerderheid het die mees onlangse voorval in die afgelope vyf jaar plaasgevind.

“Veral jong vrouewerknemers, migrante en loonarbeiders is deur geweld en teistering in die gesig gestaar. Dit is veral kommerwekkend dat mense geweld en teistering nie net een keer nie, maar verskeie keer in hul loopbaan ervaar,” het Manuela Tomei, die IAO se assistent-direkteur-generaal vir regering, regte en dialoog, gesê.

(Foto: iStock)

“Sielkundige geweld en teistering kom die meeste voor en veral vroue word hieraan blootgestel. Dit blyk duidelik uit die verslag dat ’n reusetaak voorlê om geweld en teistering in die wêreld van werk hok te slaan. Ek hoop dit sal die bekragtiging en implementering van die IAO se Konvensie 190 bespoedig,” het Tomei gesê.

Die IAO se Konvensie vir Geweld en Teistering, 2019 (No. 190) en Aanbeveling (No. 206) is die eerste internasionale arbeidstandaard wat ’n gemeenskaplike raamwerk bied om geweld en teistering in die werkplek te voorkom, reg te stel, of uit te skakel, geslagsgebaseerde geweld en teistering ingesluit. Die konvensie sluit vir die eerste keer in die internasionale reg die spesifieke erkenning in dat almal geregtig is op ’n werkplek wat vry van geweld en teistering is, asook die verpligting om dit te respekteer, te bevorder en te verwesenlik.

“Om data oor hierdie hoogs sensitiewe kwessie in te samel, is uitdagend, maar noodsaaklik. Vir die eerste keer lig hierdie verslag die sluier oor ’n brandpunt wat meer as een uit elke vyf werknemers wêreldwyd raak,” het Andrew Rzepa, vennoot by Gallup, gesê. “Maatskappye en organisasies was vir té lank onbewus of onwillig om geweld en teistering in die werkplek te takel. Hierdie studie verskaf ’n basislyn wat gebruik kan word om broodnodige vordering in die bekamping hiervan te maak.”

“Ten einde geweld en teistering in die werkplek doeltreffend te takel, is dit van kritieke belang om betroubare data te hê om enersyds die omvang van die probleem te verstaan en andersyds om diegene wat die grootste gevaar loop, te identifiseer,” het Sarah Cumbers, direkteur van bewyse en insig by die LRF, op haar beurt gesê.

“Ons is dankbaar dat ons met Gallup en die IAO kon saamwerk om hierdie grensverskuiwende bydrae te maak as deel van ons Wêreldrisikopeiling, en om ’n maatstaf te bied vir lande om verbeterings aan te bring, gedryf deur die uiters belangrike bekragtiging van Konvensie 190.”

(Foto: iStock)

Die verslag doen verskeie aanbevelings, insluitend:

  • Gereelde insameling van data oor geweld en teistering by die werk – op nasionale en streekvlak, asook wêreldwyd – om wetgewing, beleide, programme en navorsing aan te vuur.
  • Brei meganismes uit om geweld en teistering in die werkplek doeltreffend te voorkom en bestuur, insluitend deur arbeidsinspeksiestelsels en beroepsveiligheid en -gesondheidsbeleide en -programme.
  • Verhoog bewustheid van geweld en teistering by die werk, ook die verskillende vorme daarvan, met die oog op die verandering van persepsies, stigmas, houdings en gedrag.
  • Verbeter die kapasiteit van instellings om doeltreffende voorkoming, remediëring en ondersteuning te lewer, om mense se vertroue in geregtigheid te herstel en te verseker dat slagoffers ondersteun word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.