Leierskapafrigter se 8 tendense vir 2022

Erik Kruger, internasionale spreker, sakeafrigter en skrywer. (Foto: Verskaf)

Erik Kruger, internasionale spreker, sakeafrigter en skrywer, het pas sy leierskapsgids vir 2022 getiteld The Art of Recalibration uitgereik.

Dié gids fokus op die vyf kalibrasies (spannings) wat individue en spanne moet navigeer om suksesvol te wees.

Die doel van die gids is om sakeleiers, entrepreneurs en menslikehulpbronnebestuurders te help in ʼn onsekere en wisselvallige wêreld waarin hulle konstant gedwing word om hulle manier van dink en doen te verander.

Kruger is die stigterslid van Modern Breed en het ʼn meestersgraad in uitvoerende afrigting. Hy is ook ʼn gerekende denkvennoot vir sakeondernemings soos die Young President’s Organisation, die Entrepreneurs Organisation, Discovery en TedX.

Kruger glo dat 2022 die jaar is om op meer te fokus as om net voort te bestaan. Nie omdat dit wêreld minder gek geword het nie, maar omdat dit nog vir ’n rukkie so gaan wees.

“Ons kan nie meer bekostig dat ons potensiaal en prestasie deur eksterne faktore beïnvloed word nie. Op ’n sielkundige vlak is dit nodig om die magteloosheid van die afgelope twee jaar af te skud en is dit nodig om ’n plek van eienaarskap, verantwoordelikheid en effektiwiteit te vind,” sê hy.

“Hierdie is nie iets wat op mense afgedwing kan word nie, maar ek glo dat dit nou die tyd is om mense te motiveer om hulle eie mag terug te vat. Om dit te doen, sal individue en spanne moet herkalibreer hoe hulle dink en optree en moet ophou om slegs in die hede te probeer oorleef en toekomsgeleenthede en -potensiaal aan te gryp.”

Volgens Kruger het hy gehoop om iets nuut en opwindend te vind toe hy begin het met sy navorsing, maar hy het nie.

“Ek was aanvanklik teleurgesteld, totdat ek besef het dat geen nuwe data die antwoord was nie. Ons soek altyd vir versteekte inligting. Ons hoop altyd om nuwe geheime te ontdek, maar daar is geen geheime nie. Ons het almal toegang tot die basiese inligting, maar die verskil lê in hoe jy die inligting gaan aanwend en dit reg implementeer. Tendense maak nie saak as jy dit net navors nie. Doen iets daarmee! Ons het almal veranderinge om aan gewoond te raak en voorbereiding om te doen vir wat voorlê,” sê Kruger, wat agt tendense geïdentifiseer het.

Hier is die agt leierskaptendense:

Leierskaptendens #1: Kweek ’n aanpasbare werkskultuur

Werknemers wil meer sê oor waar en hoe hulle werk. Dit kan duidelik afgelei word uit die 4,4 miljoen mense wat bedank het en deel geword het van die “Groot Bedankingsbeweging”.

Sowat 61% van kantoorpersoneel en meer as die helfte van jong werknemers het getoon dat hulle ander werk sou oorweeg as hulle werkgewer nie hibriedwerk as ’n opsie aanbied nie. Om die impak hiervan te verminder en jou organisasie effektief te bestuur, sal dit nodig wees om vanjaar ’n meer aanpasbare werkskultuur te kweek.

Leierskaptendens #2: Bevorder aanpasbare leierskap

Die onstabiliteit van die arbeidsmag is ’n aspek wat gereeld in navorsing vorendag kom. Om ’n hoëpresterende span te hê, sal leiers ’n kultuur moet skep wat verandering omhels en ’n aanpasbare ingesteldheid het.

Aanpasbare leierskap is ’n praktiese leierskapraamwerk wat organisasies help om by verandering aan te pas om op herhalende probleme te reageer.

Om suksesvol te lei in ’n wisselvallige en voortdurend veranderende mark, sal suksesvolle leiers die toekomstige behoeftes van hul maatskappy voorspel en met hulle organisasie bespreek. Deur aanpasbaarheid te toon, sal leiers meer dinamiese spanne bou wat verandering omhels en innoverende oplossings skep.

Leierskaptendens #3: Bevorder diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit

In 2022 sal diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit kritieke komponente vir ’n suksesvolle werksomgewing bly.

As gevolg van die impak van Covid-19 in terme van depressie, stres en angs, sal die skep van ’n plek waar werknemers veilig en welkom voel vir leiers ’n hooffokus wees. Buiten die kweek van ’n meer etiese en aangename werksomgewing, het navorsing getoon dat winsgewendheid verhoog kan word deur hierop te fokus.

Boonop sal gesprekke rondom die gelykheid tussen diegene wat tuis, elders of op kantoor werk opduik in 2022. Effektiewe leiers sal proaktief wees in die skep van beleide en prosedures wat diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit in alle areas van hul organisasie aanmoedig.

Leierskaptendens #4: Verwelkom vernuwing en innovering

2020 en 2021 was jare van onbeplande vernuwing. In 2022 sal leiers doelbewus te werk gaan met hoe hulle aanpas en innoveer.

Namate meer werkers ’n behoefte het aan ’n groter doel in hulle werk, en ’n jonger generasie professionele persone die arbeidsmag betree, sal leiers begin dink oor hoe hulle die werkplek kan herontwikkel om beter aan die behoeftes van die mense binne hulle organisasie te voldoen.

Verder sal effektiewe leiers tegnologiese innovasie omhels en hulle tegnologie-infrastruktuur opgradeer.

Leierskaptendens #5: Maak werknemers se welstand ’n prioriteit

’n Onlangse studie het getoon dat werknemers wat by die werk versorg voel, drie keer meer geneig is om werksbevrediging te hê. Met die stygende vlakke van werknemers wat uitbranding en swak geestesgesondheid rapporteer, sal leiers in 2022 die welstand van werknemers prioritiseer.

Dit behels die skep van ’n ondersteunende omgewing deur op die persoon in geheel te fokus en nie net op hulle werksverantwoordelikhede nie. Om te fokus op hulpbronne wat werknemers se holistiese welstand bevorder, sowel as die kweek van vaardighede om geestesgesondheid binne hulle organisasie aan te spreek, sal ’n prioriteit wees.

Leierskaptendens #6: Skep loopbaan- en opvolgplanne

The Future of Jobs-verslag het getoon dat 54% van alle werknemers teen 2022 hulle vaardighede sal moet opknap as gevolg van vinnig ontwikkelende tegnologiese vooruitgang.

In 2022 sal leiers meer tyd bestee om werknemers se vaardighede te ontwikkel. Aangesien organisasies tans sukkel met ’n tekort aan vaardighede en talent, is dit selfs meer noodsaaklik om huidige werknemers verder op te lei.

Leiers kan bekwame personeel aan boord hou deur loopbaanbeplanning te doen en opvolgplanne te definieer.

Leierskaptendens #7: Fokus op werknemerervaring

Oor die volgende drie jaar sal 92% van organisasies werknemerervaring (EX)-verbetering prioritiseer om te keer dat werknemers bedank. In 2022 sal leiers werk om ’n EX-strategie te definieer om die kultuur van die werkplek te transformeer. Om ’n positiewe EX te kweek, sal organisasies help om meer vertroue, inspirasie en motivering te bou, wat hoër groei en winsgewendheid tot gevolg sal hê.

Leierskaptendens #8: Ontwikkel emosionele intelligensie

Die ontwikkeling van emosionele intelligensie en die vermoë om emosies te identifiseer en te verstaan hoe dit gedrag beïnvloed, sal bydra tot effektiewe leierskap in 2022.

Deur hierdie vaardigheid in te span, sal leiers meer selfbewustheid, sosiale vaardighede en veerkragtigheid hê. Deur sterk emosionele intelligensie te toon, sal leiers in staat stel om beter konflikbestuur en oorredingsvermoë te hê, en sal hulle beter toerus om werknemers te bemagtig om veranderinge binne die organisasie beter te hanteer.

Kruger se leierskapgids is gratis hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Moeder-knieg praatjies! (motherhood statements) Maar ook op die sogenaamde diversiteit waentjie geklim, wat al tot talle probleme gelei het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.