Man hardloop kilometers teen mensehandel

Foto ter illustrasie. (Foto: Sammisreachers/Pixabay)

Mensehandel is soos ʼn deursigtige spinnekopweb wat deur die land strek en daagliks in die dorpe en stede van Suid-Afrika waargeneem kan word.

Só meen Nadine Blom, menseregteprokureur en sangeres, oor mensehandel, wat blyk om ʼn groeiende krisis in Suid-Afrika te wees.

“Bewusmaking daaroor is glad nie na wense nie. Dit moet deel word van skoolkurrikulums en daar moet op ʼn daaglikse basis daaroor berig word,” sê Blom.

“Mense het nie genoegsame kennis oor die onderwerp nie. Dit is ʼn weggesteekte misdaad wat nie onder beheer is nie.”

Gideon Swart, ʼn Pretoriase man en aktivis teen mensehandel, beaam dié boodskap.

“Mense weet nie hoe erg dit werklik is nie. ʼn Mens moet altyd waaksaam wees en weet wat rondom jou aangaan.”

Swart neem op 30 September vanjaar aan die MaxiRace, ʼn 75 kilometer-wedloop deur die Kaapse wynlande deel, om bewustheid oor mensehandel te skep. Hy hardloop namens die nie-winsgerigte organisasie, Brave to Love, wat hulself beywer tot die voorkoming van mensehandel, en die redding van mensehandelslagoffers. Wêrelddag teen mensehandel vind Sondag 30 Julie plaas.

Gideon Swart. (Foto: verskaf)

Alhoewel Swart ʼn behoefte het om mensehandelslagoffers self te red, weet hy dat hy nie dit kan doen nie.

“Ek pleit by mense om te doen wat hulle kan, om bewustheid te skep waar hulle kan. Jy kan dalk nie self by ʼn huis instorm waar slagoffers aangehou word nie, maar jy kan bewustheid op jou eie manier skep.”

Blom waarsku mense dat mensehandel baie verder strek as die blote ontvoering van vroue, mans en kinders.

Nadine Blom. (Foto: Nadine Blom/Facebook)

“Kinders wat op die straat staan en bedel is dikwels slagoffers van mensehandel. So ook die kinders wat saam met hul ma’s op die straathoeke te siene is. Daardie kinders word dikwels geleen en gebruik om simpatie te wek.

“Mensehandel gaan gepaard met enige vorm van uitbuiting. Dit kan seksueel van aard wees, maar slagoffers word ook gebruik vir onwettige orgaanskenkings en -verkope, finansiële vooruitgang of beeldmateriaal en foto’s.”

Blom verduidelik dat 80% van alle slagoffers van mensehandel kinders is en dat dit dikwels op ʼn virtuele wyse gebeur.

“Tieners word gekontak deur iemand op sosiale media, daar begin ʼn gesprek waar persoonlike inligting of foto’s rondgestuur word, en dan verander dit in afpersing. Die tieners word met die aakligste goed, soos moord en verkragting van hul gesinslede, gedreig.

“Die ergste van alles is, dit kan in jou sitkamer gebeur.”

Vanweë die aard van mensehandel, glo Blom dat mense deurentyd beskermingsplanne in plek moet hê om dit te voorkom. Hier is ʼn paar voorkomingsmaatreëls wat huishoudings kan toepas om hulself te beskerm:

  • Vertrou die stemmetjie wat jou waarsku

“Wanneer jy in ʼn situasie ongemaklik voel, luister na jouself. Vertrou daardie gut feeling.”

Blom glo dat dit die eerste waarskuwingspunt is, en dat wanneer daar ʼn huiweringsgevoel oor jou toesak, jy dit moet volg en vertrou.

  • Kontak die kundiges

Wanneer jy of een van jou gesinslede in ʼn situasie beland wat verband hou met mensehandel, selfs in die kuberwêreld, kontak ʼn deskundige wat die gesin op die regte pad sal stuur.

  • Maak seker jou band met jou kinders is sterk

“Jou emosionele band met jou kinders moet van so aard wees dat jy enige tyd op hul fone kan kyk,” sê Blom.

Kinders moet ook gemaklik genoeg rondom hul ouers voel dat hulle eerlik kan wees oor die situasies waarin hulle hulself bevind. Blom raai ouers aan om met rustigheid na hul kinders te luister, en om nie hul humeur te verloor wanneer kinders iets skokkends onthul nie.

“Daar moet ʼn veilige volwassene wees wat daardie kind mee kan praat.”

Sy stel ook voor dat ouers hul kinders glo wanneer hulle erken dat hulle in moeilike omstandighede is, dat hulle dalk afgepers of gedreig word, of dat hulle met iemand vreemds op sosiale media in kontak is.

ʼn Sterk vertrouensverhouding en emosionele band kan ook voorkom dat kinders daardie diepte op ander gevaarliker plekke gaan soek.

  • Hou jou paspoort by jou wanneer jy reis

“Moet nooit jou paspoort of reisdokumente vir iemand anders gee nie.”

Blom glo dat wanneer jy reis, jy te alle tye in besit van jou reisdokumente en veral jou paspoort moet wees. Indien iemand anders jou paspoort het, kan dit maklik in ʼn gevaarlike situasie vir jou ontaard.

  • Moet nooit dat iemand jou seksuele aktiwiteite afneem nie

Blom raai mense ten sterkste aan om nooit toe te laat dat enigiemand enige seksuele aktiwiteite afneem nie. Dit sluit langtermyn-lewensmaats of eggenote in.

“Dit kan baie maklik as afpersingsmateriaal gebruik of selfs verkoop word.”

  • Deel altyd jou ligging

Wanneer jy iewers heen ry, naby of ver, maak seker dat iemand wat jy vertrou jou ligging (live location op WhatsApp) het.

“Dan weet mense waar om te begin soek sou jy stilraak of nie gevind word nie.”

  • Skep ʼn kodewoord

Maak seker dat daar ʼn kodewoord is wat jy en jou geliefdes en kinders kan gebruik indien daar ʼn gevaarlike situasie sou opduik.

“Dit kan enige woord wees, maar jy kan byvoorbeeld ‘geel oorbelle’ as kodeterm gebruik. Wanneer jou kind jou bel en dié woorde sê, weet jy dat hy of sy nie gemaklik voel nie, of selfs in gevaar is.”

  • Wees versigtig met jou baba in openbare ruimtes

Blom sê dat wanneer ouers met hul babas in openbare ruimtes soos winkelsentrums is, hulle besonders versigtig en waaksaam moet wees.

“Ek sou eintlik voorstel dat jy jou baba teen jou lyf vasmaak. Andersins, maak seker dat jou baba in sy of haar stootwaentjie vasgegordel is.”

Sy waarsku dat babatjies baie maklik uit stootwaentjies gegryp kan word, en dat dit dikwels gebeur dat die ontvoerder self met ʼn leë waentjie rondloop, die baba gryp en in sy of haar eie waentjie sit.

  • Wees waaksaam op die Internet

“Jy moet weet dat alles wat jy op sosiale media plaas, gemoniteer kan word en dat alles teen jou gebruik kan word.”

Blom waarsku teen vreemde mense wat met jou of jou kinders op sosiale media kontak maak. Wanneer jy persoonlike inligting en foto’s met daardie mense deel, kan dit maklik gebruik word om jou af te pers.

“Wees versigtig om enige persoonlike inligting te deel. Dit is uiters gevaarlik.”

  • Vir meer inligting oor Brave to Love, besoek hier die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.