Moenie neus vir kortkursusse optrek

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en bestuurder van Akademia et al. (Foto: Akademia)

Die arbeidsmark word al hoe meer mededingend, ongeag die bedryf waarin jy is.

Basiese kwalifikasies en kundigheid is nie altyd meer voldoende nie en ʼn benadering van deurlopende of lewenslange leer word toenemend aanbeveel om werklik in ʼn loopbaan te floreer.

Skoolverlaters word dikwels ook onseker oor hul studierigting gelaat en kan nie dadelik die aansienlike belegging wat ʼn voltydse graad of diploma verg, bekostig nie.

Daarom is kortkursusse ʼn goeie manier om die gapings in jou professionele kennis te vul, vaardighede op te skerp of die waters van verskillende studierigtings te toets terwyl jy deeltydse werkervaring opdoen.

Wat presies is ʼn kortkursus?

Kortkursusse is niegeakkrediteerde kursusse wat fisiek of aanlyn deur geakkrediteerde hoëronderwysinstellings aangebied word en is dikwels meer prakties en vaardigheid-gedrewe as tradisionele universiteitskwalifikasies.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en bestuurder van Akademia et al. – ʼn nuwe kortkursusplatform wat verlede maand deur dié private tersiêre instansie begin is, verduidelik dat kortkursusse ontwikkel het danksy die behoefte in ondernemings en in gemeenskappe vir korter opleidingsgeleenthede wat gefokus is op voortgesette leer.

Kortkursusse hou jonges “leer fiks” in hul oorbruggingsjaar. (Foto: Vlada Karpovich/Pexels)

“Kortkursusse verpak dus relevante, praktykgerigte inhoud in ʼn korter kursus wat meer mense toegang gee tot die opleiding,” meen Maritz.

Hoewel daar nie spesifieke riglyne is oor hoe lank só ʼn kursus duur nie, wissel hulle tipies van een tot 12 maande. Dié kursusse word ook deur ʼn wye verskeidenheid van plaaslike én internasionale instansies aangebied.

Maritz benadruk dat dit egter belangrik is dat die gehalte van korter kursusse wat vaardighede, kennis en insig bevorder hoog is en dat daar akademiese begronding vir die kursusse bestaan.

“Dit is belangrik om die reputasie van die instansie wat die kortkursus aanbied, te verifieer en seker te maak dat dit ʼn gehalte kort kursus is wat deur kundiges en op ʼn professionele wyse aangebied word.”

Kortkursusse bied net voordele

Hoewel kortkursusse nie in die plek van ʼn volle dienskwalifikasie soos ʼn graad of diploma staan nie, is daar volgens Maritz verskeie voordele daaraan.

Kortkursusse is dikwels meer bekostigbaar en buigsaam. (Foto: Buro Millennial/Pexels)

Kortkursusse is dikwels meer bekostigbaar en buigsaam, wat dit ideaal vir werkendes maak, dit hou jonges wat ʼn oorbruggingsjaar neem se breine aktief en “leer fiks” én die aanbieding daarvan daag akademici ook volgens Maritz uit om hulle kennis op ʼn nuwe, kreatiewe manier uit te dra en te verdiep.

Boonop wys dit vir werkgewers dat jy op selfverbetering ingestel is en moontlik gereed is om ʼn rol in die werkplek te betree.

“Dit kan ʼn persoon se kennis en insig verryk, iemand ondersteun wat praktiese vaardighede wil bekom en belangstelling in sekere velde prikkel. ʼn Die uitkoms van ʼn graad- of diplomaprogram is heeltemal anders as dié van ʼn kortkursus. Kortkursusse het byvoorbeeld nie ten doel om uitgebreide kennis oor ʼn vakgebied te voorsien nie, maar slegs gefokusde inligting en opleiding te voorsien.”

Wie sal daarby baat?

Maritz verduidelik dat mense uit verskeie belangegroepe volgens haar by kortkursusse baat.

Kursusgangers kan byvoorbeeld die volgende wees:

  • studente wat tans aan ʼn akademiese instelling studeer en aanvullende kennis wil opdoen;
  • persone in die praktyk wat praktykgerigte kennis wil bekom en bestaande vaardighede wil aanvul of opskerp;
  • jong mense wat voelers uitsteek na verskeie vakdissiplines en deur kortkursusse agterkom waar hulle belangstelling lê;
  • persone wat graag nuwe insigte wil bekom en verryk wil word deur kortkursusse.

Akademia bevorder nou ook voortgesette leer met kortkursusse

Akademia et al. is op 18 Oktober by Leriba in Centurion bekendgestel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié opwindende nuwe platform gevestig is om praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue en ondernemings te bied.

Dr. Tienie Ehlers, dr. Rachel Maritz en Marthinus Visser tydens die bekendstelling van Akademia et al. (Foto: Verskaf)

Volgens dié instelling fokus dit nie net op akademiese verdieping nie, maar ook op die behoeftes van die werkplek.

Maritz verduidelik dat die “et al.” in Akademia se konteks daarom juis “nog kursusse” of “andere” beteken en na hulle of hul akademiese vennote wat dié kursusse saam aanbied, verwys.

Dié kortkursusse word vir sertifikaatdoeleindes aangebied en is ʼn noemenswaardige toevoeging tot dié instelling se groeiende en diverse kurrikulum – wat ook ander Raad op Hoër Onderwys (RHO)-geakkrediteerde kwalifikasies insluit, asook grade aanbied.

Akademia et al. se kursusse sal soos die instelling se ander studierigtings deur middel van twee formate aangebied word, aanlyn op die moderne Akademia-leerbestuursplatform of in fisieke kontaksessies.

Slegs tien kortkursusse word tans aangebied, maar volgens  Maritz sal nuwes deurlopend tot die lys bygevoeg word.

Besoek Akademia et al. se webwerf om vir dié kursusse te registreer.

Bykomende bronne: The Open University

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Deesdae gaan jy net universiteit toe om professionele grade te doen. Die res is tydmors. Doen eerder kort kursusse van regoor die wêreld wat jou instaat stel om iets nuttigs te doen en geld te verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.