Alfa se nuwe Tonale: Mooi maar middelmatig  

Tot onlangs sou die goedkoopste Alfa Romeo op die mark, naamlik die Giulia, jou meer as R1 miljoen uit die sak gejaag het. Ek sou dink dat dit die lewe taai maak vir enige handelsmerk, veral vir dié wie se reputasie in ons land wat betroubaarheid betref nie te waffers is nie.

Alfa Romeo het ʼn gaping in die mark gehad vir ʼn lekker kompakte sportnutsvoertuig. Mens kan argumenteer dat dit die enigste segment is wat tans goeie groei toon. Die sedansegment krimp elke maand. C-segment-luikrugmotors soos die Golf is amper heeltemal vernietig. Alles het nou na B- en C-segment-sportnutsvoertuie toe geskuif.

Met die eerste oogopslag slaan Alfa Romeo se nuwe Tonale mens uit vir ʼn ses. Dis ʼn pragtige ontwerp, én dis ʼn Alfa. Kyk, ek is nie die wêreld se grootste Alfisti nie, maar ek het ʼn groot liefde vir ouer Alfa Romeo’s. Dink aan die ou GT Junior, Sprint en dies meer. Selfs die GTV was pragtig – en die 3.0 V6 vind sy wortels hier in Suid-Afrika, ʼn storie wat ek dink nie almal van weet nie. Die binneruim beïndruk nes die buitekant se ontwerp. Die materiale is netjies en die kunskoolstofvesel op die paneelbord pas by die ontwerp.

Die binneruim is gepeper met luukshede. Daar is ʼn indrukwekkende raakskerm vir die inligtingstelsel en die stelsels is nie te moeilik om uit te pluis nie. ʼn Lekker klankstelsel hou jou ore gelukkig en die sitplekke, bestuursposisie en instrumente voor sorg vir ʼn lekker ervaring.

Dit bring my by die twee of altans drie punte waarvan ek nie hou nie. Die Alfa Romeo Tonale het ʼn 1.5-viersilinderturbopetrolenjin. Daar is ʼn battery en elektriese motors ook. ʼn Hibried. Die petrolenjin bied 118 kW en 240 Nm. Dit is maar net oukei. Die hibriede battery is 0,8 kWh. Dit kon hulle maar gelos het. Al wat die hibriede dryfstelsel dan bied, is remkragherwinning en die kar kan vorentoe kruip op EV in die verkeer. Die oomblik dat mens so by 17 km/h haal, skop die enjin in en loop saam.

Die derde vlieg in die salf is Alfa se dubbelkoppellaarratkas. Die meeste handelsmerke is besig om weg te beweeg van dubbelkoppelaarratkaste af. Hulle is duur om te onderhou en nie baie betroubaar nie. Indien dit nie perfek gekalibreer is nie, voel dit ook stamperig.

Op die pad is die Tonale oukei. Ritgehalte is nie puik nie, maar die Tonale loop op pragtige 20″-wiele – so ritgehalte is iets wat mens maar moet inboet. Padhouvermoë is fantasties, dit sal ek vir hulle toegee, maar mens het nie al daai padhouvermoë nodig met die teleurstellende dryfstelsel nie. Nog ʼn probleem wat ek het, is die vlymskerp stuurreaksie. Vir ʼn SNV is die stuur heeltemal te sensitief.

Nou sit ek met ʼn probleem. Alfa Romeo is ʼn handelsmerk met een van die rykste geskiedenisse in Formule 1. Dit is pragtige, rooi, Italiaanse sportmotors. Passie. Die Tonale is dit geensins. Hy merk twee boksies af – die ontwerp en die binneruim. Teen die prys voel ek dat Alfa ʼn beter voetjie moes voorsit, maar toe gaan vergelyk ek die Tonale met wat ek as sy mededingers beskou. Voertuie soos Jaguar se E-Pace, Porsche se Macan en só. Daai buksies is almal R1 miljoen en op. Dan is die Alfa seker ʼn winskoop teen R750 000?

Die reeks lyk só:

Alfa-Romeo Tonale 1.5T Hybrid TIR739 900
Alfa-Romeo Tonale 1.5T Hybrid SpecialeR799 900
Alfa-Romeo Tonale 1.5T Hybrid VeloceR819 900

Die reeks word deur ʼn vyfjaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Asemrowend pragtig! Asseblief, Kersvader, ‘n rooie. Ek belowe om volgende jaar baie soet te wees.

JohanR ·

Ek is al verlief op die Tonale vandat ek die eerste fotos gesien het. Ek is spierwit, maar miskien slaan die geluk my en ek kry ‘n tender iewers……Julius, Floyd kan julle die wit ou hulp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.