Bekendstelling: KTM 1390 Super Duke R

KTM se kaalfietse dra almal die Duke-benaming, selfs die klein 125 cc-model. Hulle het ook almal ’n onmiskenbare ontwerp. Die naam Super Duke word egter gereserveer vir hul grootste, kragtigste enjin.

Tot onlangs was dit die 1290 Super Duke R, maar nou is daar ’n nuwe, groter 1390 Super Duke R en die hoëverrigting- 1390 Super Duke R Evo. In 2024 sal dit al 30 jaar wees sedert die eerste Super Duke die lig gesien het.

Ek weet nie hoeveel invloed BMW se 1300 GS op KTM gehad het toe hulle besluit het om die 1290 se enjin nog groter te maak nie. Oor een ding is ek egter seker: daai enjin gaan binnekort sy verskyning in KTM se avontuurfietse maak. Hoewel die kapasiteit van die V-twee-eenheid slegs met 50 cc gegroei het, lewer hy nou ’n allemintige 190 pk teen 10 000 rpm en 145 Nm wringkrag.

Dit is een ding om soveel krag te genereer, maar om dit doeltreffend deur die agterwiel tot op die teerpad te kry verg baie elektronika, goeie vering en klewerige rubber. Die raam is steeds KTM se bewese tralieraam en WP het spesiaal nuwe skokbrekers ontwikkel vir die Super Duke R. Daar is afsonderlike verstellings vir lae en hoë spoed, en jy het gereedskap nodig om dit te verstel. Op die EV-weergawe word alles egter elektronies beheer deur middel van WP se elektroniese semi-aktiewe vering. Vir die bande het KTM besluit om by die bekende Michelin Power GP-bande te bly. Vir hierdie tipe fiets is dit die perfekte keuse.

Verder is bakpanele herontwerp en dit het KTM in staat gestel om die brandstoftenk met 1.5 liter te vergroot tot 17.5 liter. Elke bakpaneel het egter ten doel om die Super Duke op die pad vas te druk.

Visueel bly hy onmiskenbaar ’n Super Duke, maar van voor af is waar dinge dramaties anders lyk. Die huidige KTM-reeks se voorlig is al beskryf as iets wat jou aan ’n insek laat dink, en hoewel opinies verdeeld is, is dit hul unieke kenmerk. Ek weet LED-ligte maak dit moontlik om baie kleiner liggies te gebruik, maar met die voorlig op die nuwe Super Duke, dink ek hulle het darem te ver gegaan. Die hooflig lyk of hulle vergeet het om sy lens oor te sit. Dit maak die voorlig 700 g ligter as die eenheid op die 1290 en dit laat die Super Duke net nog meer aggressief voorkom. Ek hoop net dat KTM nie hierdie voorlig op toekomstige modelle gaan gebruik nie.

Die 1390 Super Duke R het net weer bevestig dat hy die alfamannetjie in hierdie klas wil bly. Ek sien uit na volgende jaar as ek hopelik ’n been oor hierdie monster sal kan gooi.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.