BMW – Baie Modebewuste Wiele?

BMW het vandat ek jonk was ʼn spesiale plekkie in my hart. Ek is nie gaande oor al die koepee-agtige sportnutsvoertuie (SNV’s) nie en ek sou veel eerder ʼn puik tweedeur sportsbuksie soos die M2 geniet – of ʼn luukse vuurwa soos die M5… maar tog sien ek ʼn nis vir die aantreklike X2.

Terwyl BMW se nuwe X1 en iX1 ʼn puik kompakte sportnuts bied, is daar ʼn nuwe gier, soos met die X6 en X4 om koepeeweergawes van ʼn SNV bekend te stel. Die X2 is die koepee van die X1. Wie is die koper? Waarskynlik ʼn welaf jong mens sonder kind of kraai waar die kattebak of beenruimte nie die bepalende faktor is nie.

Die X2 het ʼn aantreklike ontwerp en is ook die eerste BMW waar die kenmerkende nier-sierrooster belig is. Die skuins dak is wat die koepee sy silhoeët gee. Binne het die X2 dieselfde BMW-ontwerptaal – ʼn pragtige geboë skerm wat effens na die bestuurder gedraai is. Die ergonomie beïndruk maar daar is een kwaal – ek het dieselfde probleem met die X1. Die stuurwiel is nie presies loodreg met die bestuurder nie… dit is onaanvaarbaar vir ʼn moderne motor.

Daar is twee modelle beskikbaar. Daar is die ekonomiese 18i sDrive met ʼn 1,5 liter turbopetroldriesilinder wat 115 kW en 230 Nm bied. Merkwaardig is hoe BMW dié enjin al verfyn het tot die punt dat hy nie die kenmerkende vibrasie van ʼn driesilinder het nie. Hy toer lieflik stil en net so sterk soos ʼn atmosferiese 2.0 viersilinder van die vorige dekade.

Dan kry ʼn mens die vuurwa M35i xDrive. Hy het wel ʼn bomklapper 2,0 viersilinderturbopetrolenjin onder die kap wat ʼn indrukwekkende 233 kW en 400 Nm bied. Hy sal van 0 – 100 km/h hol in ʼn vinnige 5,4 sekondes en is elektronies beperk tot 250 km/h.

Op goeie teer ry albei pragtig, maar die 18i het beslis die oorhand wanneer dit by ritgehalte kom. Die M35i met sy groter wiele en runflat-bande volg die groewe in die pad. Ek hou nie van die gevoel nie – maar dis slegs op baie swak paaie. Albei het puik padhouvermoë en enorme veiligheidspesifikasies met sewe lugsakke en elke denkbare stelsel soos blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing en noodremhulp.

Ek sal die twee só opsom: Toe die vorige X2 bekendgestel is, was hy heelwat duurder as die X1 as wat die nuwe model nou is. Ja – dit is steeds baie geld, maar ek dink hy is goed geprys tussen sy mededingers. Indien jy ʼn pragtige buksie soek wat hoog ry en al die speelgoed het, sit beslis een op jou wenslysie om te gaan toetsbestuur.

Die reeks lyk só:

BMW X2 sDrive 18i M Sport115 kW/230 Nm6,7 ℓ/100 kmR879 738
BMW X2 M35i xDrive233 kW/400 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 223 936

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die X2 deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.