BMW CE 04: Die toekoms is hier, wel amper

(Foto: Brian Cheyne)

Twee dinge wat ons as Suid-Afrikaners al goed ken, is die daaglikse beurtkragskedule en die maandelikse brandstofprysaankondigings.

Om verby die beurtkrag te kom, het al hoe meer huishoudings sonpanele en batterye geïnstalleer. Toe ek my eie installasie laat doen het, het die installeerder my vertel van ’n afgetrede egpaar wat hul brandstofvoertuig met ’n elektriese een vervang het. Die voertuig herlaai bedags van die sonpanele. Reikafstand is glad nie ’n probleem nie, want hul langste rit is die dae wat hulle die kleinkinders by die skool moet kry. Sodoende steur hulle hul nie meer aan die maandelikse brandstofprysverhogings nie. Dit het my laat dink of ek dieselfde kan doen met ’n motorfiets. BMW het juis hul elektriese CE 04 plaaslik bekendgestel en ’n paar oproepe later is een by my huis afgelewer.

(Foto: Brian Cheyne)

Die mooi Afrikaanse woord vir ’n scooter is bromponie. Maar hoe nou gemaak met BMW se nuwe CE 04 elektriese motorfiets? Hy brom nie, maar hy het beslis baie ponies beskikbaar. Ek gaan maar volstaan by motorfiets, want as dit by verrigting kom, val hierdie fiets nie vir my in ’n bromponieklas nie.

Die CE 04 lyk uiters modern, en sommer uit die staanspoor was die opinies verdeeld of dit werk of nie. Die voorste deel van die fiets lyk soos hulle ander bromponies, maar die agterste deel lyk asof die ontwerpers net ’n liniaal kon gebruik het. Alles is reguit lyne, en die saal lyk regtig soos ’n strykplank. Anders as met elektriese motors, waar die batterye onder die vloer gehuisves word, is plek op ’n motorfiets uiters beperk.

By konvensionele bromponies is die enjin deel van die agterste swaaiarm, maar dit is nie die geval met die CE 04 nie. Die battery en motor is in die raam gemonteer en aandrywing is deur middel van ’n baie stewige dryfband. Daar is selfs pakplek onder die saal, en met die verpakking soos dit is, is die CE 04 ’n baie lang fiets. Die agterwiel is ’n soliede eenheid, en ek dink BMW kon gerus iets moderner hier gedoen het.

(Foto: Brian Cheyne)

Saam met die fiets kom daar ’n baie dik herlaaikabel vir tuisgebruik, en nadat alles mooi aan my verduidelik is, was dit uiteindelik tyd om die CE 04 op te saal en ’n draai te gaan ry. Die kontroles van die CE 04 is net soos op enige BMW-motorfiets. Met die sleutel in jou sak, skakel jy die fiets aan met die druk van ’n knoppie. Dit ontsluit ook die bagasieruim. Die 10.25”‑TFT-skerm is dieselfde eenheid wat op BMW se toerfietse diens doen, maar in plaas van ’n toereteller is daar net ’n aanduiding van die kraglewering.

(Foto: Brian Cheyne)

Om aan die gang te kom, druk jy net soos op ’n gewone motorfiets die aansitter op die regterhandvatsel. Al wat dan gebeur is dat die woord READY op die instrumentepaneel verskyn en jy is dan reg om te ry. Daar is vier ryprogramme om uit te kies, waar Road die meeste krag, en ook die meeste opwinding, lewer. ECO is veronderstel om die mees ekonomiese modus te wees, en in hierdie modus lewer die fiets ook die sterkste herwinningskrag. Dit beteken dat die fiets krag terugsit in die battery as jy die versneller toemaak. In ECO-modus gebeur dit baie sterk, soveel so dat jy die fiets heeltemal tot stilstand kan bring net op hierdie remkrag. Dynamic-modus probeer leer waar jy ry, en pas dan die krag dienooreenkomstig aan.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit is ’n eienaardige gevoel om die fiets se versneller te draai, en hy beweeg amper geruisloos vorentoe. En hy doen vorentoe met baie entoesiasme. Die versnelling is asemrowend tot op so 90 km/h waarna dit minder sterk raak, tot by die fiets se topsnelheid van 127 km/h. Glo my maar as ek sê dat superfietsryers moet ligloop met hierdie fiets. Die CE 04 sukkel net om die krag op die teer te kry, want die wiele is nie baie dik nie. Maar dis Pirelli se Rosso-bande, en as hulle eers op temperatuur kom, gaan jy baie fietse wegry met hierdie BMW. Die geheim lê natuurlik in die elektriese motor wat al sy wringkrag onmiddellik beskikbaar het. Ongelukkig beperk jy jou reikafstand drasties met hierdie tipe ry. As jy op die snelweg teen die spoedgrens ry, sal jy nie veel verder as 70 kilometer kan ry nie. In ECO-modus, as jy jouself bedwing en rustig ry, sal jy maklik ’n reikafstand van 130 kilometer kan kry.

(Foto: Brian Cheyne)

Die CE 04 is ook ’n uiters dinamiese fiets in die draaie. Ek het gedink sy lengte gaan teen hom tel, maar omdat al die gewig so laag sit, is hierdie fiets baie sekuur in draaie. Boonop is die kraglewering egalig, so jy kan maar vet gee, hy sal jou nie teleurstel nie. Hy is prakties ook. Ek het die fiets ’n paar maal gebruik om gou winkels toe te gaan, selfs een keer gaan teëlsement koop. Vir hierdie doel is die CE 04 perfek. As ek dan tuis kom, prop ek hom net weer in om te laai van die sonpanele. Vir die totale tydperk wat die fiets by my was, het hy my nie ’n sent gekos nie, behalwe die eerste aand wat ek hom noodgedwonge met Eskom-krag moes laai. Herlaaityd met die huiskrag is sowat vier uur. By toegewyde herlaaistasies, is dit minder as ’n uur.

Maar ons infrastruktuur is nog nie heeltemal daar nie. So kon ek byvoorbeeld nie die fiets by Menlyn laai nie, want al die laaipunte was beset deur gewone motors. My naaste laaipunt (by BMW) was ook buite werking. Maar, en dit sê ek met alle eerlikheid: As ek verby die amper R300 000-pryskerf kyk, sal ek more vir my so ʼn fiets aanskaf. Dit is meer as genoeg vir my alledaagse behoeftes, en dit is die toekoms waaraan ons moet begin gewoond raak.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.