BMW R 1250 GS – die hoofstuk sluit af

(Foto: Brian Cheyne)

Elke hoofstuk in ’n boek behoort ten minste goed af te sluit sodat jy graag die volgende hoofstuk wil lees.

Die datum 28 September 2023 het ’n nuwe hoofstuk in die verhaal van die nimlike BMW GS-reeks afgeskop met die bekendstelling van die nuwe R 1300 GS. En, soos met elke nuwe model, is daar die groep wat sê hul huidige model is goed genoeg en die ander groep wat die nuwe model met ope arms ontvang. Ons behoort vroeg in die nuwe jaar met die nuwe model te ry, en daarom wou ek graag die huidige R 1250 GS vir ’n laaste wals neem net om my weer te herinner waaroor die GS gaan.

(Foto: Brian Cheyne)

Die model wat BMW by my afgelewer het, was die R 1250 GS Trophy, uitgevat in ’n pragtige BMW-kleurskema. Dit was net die standaardmodel, maar ek verkies hom bo die Adventure-model. Die Trophy het my onwillekeurig laat terugdink aan ’n gesprek tydens die bekendstelling van die TVS 310 in Thailand. Ons het gesels oor hoe laag ons jaarlikse motorfietsverkoopsyfers is toe een van die TVS-mense my vra: “Maar hoekom wen Suid-Afrika dan elke jaar die GS Trophy?” My antwoord was eenvoudig: “Want dit is omtrent al motorfiets bo 500 cc wat ons verkoop.”

Die BMW R 1250 GS het geen bekendstelling nodig nie, en daar is al baie oor hom geskryf. Tog wou ek net weer voel wat die GS so spesiaal maak, voor die nuwe een kom. Nou gaan ek dalk op ’n paar tone trap, maar die R 1250 GS, veral in Adventure-formaat, het vir my net té veel geword. Die bakpanele is ook groot en laat die voorkant van die GS baie bonkig vertoon. En tog is dit juis hier waar die bekoring ook lê, in die aggressiewe lyne. Die nuwe model lyk baie meer sportief, en dit is dalk wat die opinies tans verdeel.

Dan is daar die ryposisie – gemaklike saal met breë handvatsels. As jy, soos ek, net nou en dan met ’n GS ry,  stamp jy weer jou skeen teen die enjin en swets. Dan ry jy net tot by jou naaste grondpad en onthou die manjifieke vering. BMW se vering, veral op die Adventure, is seker van die beste in die bedryf en ook goed genoeg vir enige grondpad. Daar is ander fietse wat ligter is, ander wat vinniger is, en tog verkies mense die GS. Dit is seker die som van sy bogemiddelde eienskappe wat hom so goed maak. Ek het die naweek drie motorfietse in my motorhuis gehad, en as jy my sou vra om ’n pakkie in die Kaap te gaan haal, sou ek sonder huiwering die GS vat. Hy verorber lang paaie, die enjin het meer as genoeg woema, en jy word nie moeg nie. Jy kan net aanhou en aanhou.

Hierdie generasie GS het nou sy pad gestap, en die nuweling is om die draai om hom te onttroon. Dít was ’n goeie hoofstuk en ek is seker baie ryers gaan hom steeds geniet, maar nou is dit tyd om jou vinger nat te lek en om te blaai en die nuwe hoofstuk te begin lees. Kom ons hoop die skrywers by BMW het ’n goeie storie om te vertel.

Ek wil graag die R 1250 GS groet met die befaamde woorde van die rugbykenner, wyle Zandberg Jansen: “Nag, ou grote!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Ek is die trotse eienaar en geniet my betroubare Bmw 2011 model 1200 Gsa, kom ons wag en kyk tot die 1300 homself bewys alvorens daar kommentaar gelewer word, tyd sal leer, die kanniedood 1150 gs was natuurlik net die begin van die sukses resep, opgevolg deur die 1200 wat nie n tree hoef terug te staan vir die 1250 nie, mag die reeks van krag tot krag gaan. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.