BMW R 1300 GS – Die wag is eindelik verby

Die R 1300 GS is seker een van BMW se swaksbewaarde geheime. Vroeër vanjaar is daar al aangekondig dat die fiets amptelik bekendgestel gaan word op 28 September. Die internet het gegons met kunsmatige intelligensie-voorstelle van hoe die fiets behoort te lyk.

Die eerste amptelike foto’s het ook al verlede week uitgelek, so teen die tyd wat julle hier lees, is die fiets amper al ou nuus. Daar is reeds sterk opinies oor hoe die fiets lyk, met ʼn groot groep ryers wat klaar bevestig het dat hulle eerder by die huidige model sal bly. Maar toemaar, oor so ʼn paar maande, as die fiets hier in Suid-Afrika aanland, sal hulle seker van plan verander. My eie wenslysie vir die nuwe model het nie ʼn groter enjin ingesluit nie, maar eerder dat die fiets ligter en smaller moes wees.

Die bekendstelling val saam met BMW se 100ste bestaansjaar, en het plaasgevind by die nuwe BMW Motorrad Welt in Berlyn. Die persoon verantwoordelik vir die ontwerp, Christian Hahn-Woernle, het begin deur te sê dat BMW nie ʼn groter en swaarder GS wou maak nie, maar eerder die teenoorgestelde wou bereik. Die ontwerp van die nuwe GS is dus baie meer modulêr om kopers meer vryheid te gee rondom hulle eie persoonlike voorkeure.

Die enjin het tog gegroei van 1 254 cc tot 1 300 cc en lewer nou 145 pk en 149 Nm se wringkrag. BMW het dit ook reggekry om sowat 12 kg gewig te snoei wat amper meer verskil gaan maak as die ekstra krag. Die ratkas is nou onder die enjin gemonteer wat bydra tot beter verpakking en gewigsbesparing.

Daar is vier variante bekend gestel. Die eerste is die Pure. Hierdie is die mees basiese model, en is gemik op ryers wat meestal op teer ry. Volgens BMW Suid-Afrika se webwerf lyk dit egter nie asof hierdie model in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees nie. Dan is daar die Trophy wat die hardebaardmodel in die reeks is. Selfs die sitplekkonfigurasie van hierdie model is gemik op enkelryers. Vir dié wat graag wil toer en lang afstande aflê is daar die Triple Black- model. Dit bied meer windbeskerming en pasgemaakte bagasie. Vir die individualis het BMW die Option 719 Tramuntana- model met heelwat pasgemaakte onderdele en ʼn unieke kleurskema.

Met die eerste oogopslag vertoon die fiets kleiner as sy voorganger, want die bakpanele is heelwat kleiner, veral rondom die nuwe voorlig. Waar die huidige model ʼn wye, plat asimmetriese voorlig het, het die nuwe een ʼn meer vierkantige ontwerp met dagryligte wat in ʼn kruis rangskik is. Dit is vir my ʼn stap in die regte rigting om die fiets meer sportief te laat lyk. Dit behoort die fiets ook meer aanloklik te maak vir jonger ryers, want die groot GS kry al hoe meer kompetisie van fietse soos KTM se Superadventure, en selfs Ducati se Multistrada.

Natuurlik kry die nuwe GS ook ʼn groot opgradering ten opsigte van elektronika. Soos dit nou die tendens raak, het die nuwe GS ingeboude radarsensors om die ryer te waarsku oor gevare op die pad en of daar iets in die fiets se blindekol is. Die fiets beskik ook oor aktiewe snelheidsbeheer wat die afstand tussen die fiets en die voertuig voor hom konstant hou.

Of jy nou hou van die nuwe ontwerp of nie, die BMW R 1300 GS bou voort op die GS-bloedlyn. Vele avonture is al ervaar op ʼn GS, en baie GS-stories is al gedeel om ʼn kampvuur. Die R 1300 GS behoort vroeg volgende jaar hier beskikbaar te wees en dan begin ʼn hele nuwe hoofstuk met nuwe stories. Ons wag geduldig.

Klik hier vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Ek gaan ook vas staan by my GS 1250 adventure maar in my geval gaan dit oor die ekonomie en nie so seer hoe hy lyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.