BMW R18 B en R18 Transcontinental  

Toe BMW die R18 First Edition plaaslik bekend gestel het, is ons Kaapstad toe om met hierdie fiets te gaan ry en ek was nie beïndruk nie. Die enjin is in jou pad en die fiets is geneig om vonke te laat spat met die geringste kanteling in ’n draai. Die fiets het my laat dink dat BMW iets wou bewys met die R18. BMW het egter voet by stuk gehou en nog ’n model later bekend gestel. Hierdie model het kanttasse en ’n windskerm bygekry en BMW het ook meer kleure bygevoeg.

Nou het BMW sy stem behoorlik dik gemaak met hulle jongste modelle, die R18 B en die R18 Transcontinental. Dit is duidelik dat hierdie fietse gerig is op die Amerikaanse mark. Die persverklaring draai ook nie doekies om nie en noem die fietse “Grand American Tourers” en die B model is ’n “Bagger” wat ook baie populêr is in Amerika.

Die R18, in hierdie konfigurasie, maak vir my meer sin. Tydens die plaaslike bekendstelling wou almal met die R18 hard ry. Toe ons egter stadiger begin ry het op Clarenceweg, het die fiets baie meer tuis gevoel.

Met hierdie twee nuwe modelle behoort die ryervaring ook heeltemal anders te wees, want jy sal rustig die langpad kan aanpak. Ek het egter nog steeds my bedenkinge of BMW die fiets gemaklik genoeg sal kan maak vir die rol waarvoor hy nou aangewend word. Daardie enjin is nog steeds in die pad, maar dit lyk of hulle ’n gemakliker saal op die fiets gesit het.

Die twee modelle het twee tipe ryers in gedagte. As jy verkies om alleen te toer, is die R18 B vir jou. As jou metgesel egter saam toer, sal die Transcontinental meer van pas wees.

Albei fietse het dieselfde raam, vering en daardie yslike 1802 cc- enjin, maar daar is subtiele verskille wat die ontwerp en afwerking betref. Die groot windskerm lyk nogal soos dié op Indian se groot toerfietse. Die een op die B is kleiner as op die Transcontinental en B het ook nie die boonste bagasietas nie.

Die instrumentasie herinner ook baie aan Harley-Davidson-motorfietse met groot analoogwysers en ’n uiters moderne TFT-skerm daaronder. Hierdie is dieselfde 10,25”-skerm wat ons onlangs op die nuwe R 1250 RT gesien het, en is uiters indrukwekkend.

BMW se aanslag op die Amerikaanse mark is nou duidelik. Of hierdie fietse ooit in Suid-Afrika sal land, weet ons nie. As die standaard R18 se prys jou oë laat traan het, wil ek ook nie spekuleer waar hierdie fiets se prys gaan draai nie. Een ding is verseker: die R18 was toe nie net ’n kort ego-oefening deur BMW nie. Hulle is ernstig oor die Amerikaanse mark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerkind ·

Probeer BMW iets bewys met die onpraktiese fiets?? Hulle is mostert na die maal in Amerika….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.