Bus of bakkie?

Die Ford Ranger 2.0 SiT XL- outo dubbelkajuit-bakkie. (Foto: Verskaf)

Ons klomp by Maroela Media was die afgelope tyd werklik bederf. Ons het van November tot Februarie die gebruik van ʼn Ford Tourneo Custom- bussie gehad. Dit is die 2.0 enkelturbodiesel met ʼn 6-spoed outomatiese ratkas en lang asafstand.

Agt sitplekke en ʼn enorme kattebak het reeds vir ons bewys dat die Tourneo ʼn fantastiese gesinsbuks is wat enorme afstande met uiterse bekwaamheid aandurf. Hy is in Desember van Gauteng na Langebaan en terug, toe Suidkus toe en in Februarie weer Durban toe.

Ons het egter nou sy plaasvervanger gekry. ʼn Ford Ranger 2.0 SiT XL outo dubbelkajuit-bakkie staan nou in Maroela Media se parkeerarea. Ons het die opsie gehad om ʼn Wildtrak X te gebruik, maar teen R1 miljoen het ek gevoel dis nie Jan Alleman se bakkie nie. Daarom dat ek eerder dié model gekies het. Teen R603 000 is dit aan die teenoorgestelde kant van die mark.

Ford se Tourneo Custom-bussie. (Foto: Pieter Cloete)

Die vraag is – wat pas beter in die gemiddelde Suid-Afrikaner se oprit?

Indien jy drie of meer kinders het, is ʼn bus se vaardighede onweerlegbaar. Die gemak wat die spasie en ekstra sitplekke bied is eenvoudig beter as ʼn dubbelkajuit se redelike knap agtersitplek.

Die bakkie het egter weer die laaibak, waar jy allerhande ditjies en datjies kan laai. Ford het in die nuwe Ranger ʼn fantastiese platform. Dit is met ʼn groot marge die mees gemaklikste bakkie in Suid-Afrika. Dit ry heel soepel en sag, meer soos ʼn sedanmotor as ʼn hardebaard bakkie.

Die binneruim van Ford se Tourneo Custom. (Foto: Brendon Staniforth)

Onder die kap van die bussie sit dieselfde 2.0 enkelturbodieselenjin – en dieselfde ratkas. In die bussie is die enjin geprogrammeer om 96 kW en 360 Nm te bied. Die bakkie bied 125 kW en 405 Nm. Ford beweer ʼn brandstofverbruiksyfer vir die bus van 6,7 ℓ/ 100 km en 7,5 ℓ / 100 km vir die bakkie. Albei voertuie het ʼn 80 ℓ brandstoftenk en bied ʼn reikafstand van meer as 1 000 km.

Een groot verskil is die twee se sleepvermoë. Die bussie mag 1,6 ton sleep – nie te versmaai nie – maar die Ranger kan ʼn allemintige 3,5 ton sleep – die hoogste gradering van ʼn passasier- of ligtehandelsvoertuig in Suid-Afrika. Dit is danksy die swaardiens agterewenaar van die bakkie. Die bussie is voorwielaangedrewe, ʼn bydraende faktor wat hom só lig maak op brandstof.

Ons het drie kinders en eintlik is daar plek in my oprit vir albei – een van elk, maar dis R1,4 miljoen se motors. As ek nou moet kies, vat ek nog die bussie tot my kinders die nes begin verlaat.

Die twee lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT outo dubbelkajuit125 kW/ 405 Nm7,5 ℓ/ 100 km7 lugsakkeR603 900
Ford Tourneo Custom Trend 2.0 SiT outo LWB96 kW/ 360 Nm6,7 ℓ/ 100 km5 lugsakkeR796 800

Albei motors word deur ʼn 4 jaar/ 120 000 km waarborg gedek met diensplanne opsioneel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.