C3 vs. Vitz: Watter een gee meer waarde vir jou rand?

Terwyl dit altyd lekker is om in ʼn vuurvretersupermotor soos ʼn Porsche op en af te jaag, is die eenvoudige werklikheid vir talle Suid-Afrikaners presies die teenoorgestelde. Die vraag is amper altyd: Wat kos hy en hoe lig is hy op brandstof?

Hier is twee nuwe begrotingsbuksies wat mekaar die stryd wil aansê. Citroën se C3 kom nou uit Indië en is beskikbaar teen ʼn baie laer prys as sy Europese voorganger, maar só ook kom Toyota se Vitz uit Maruti Suzuki se fabriek in Indië.

Ontwerp:

Citroën C3 1.2 FeelToyota Vitz 1.0 XR handrat
3,5/53/5

Terwyl die C3 op foto’s aanvanklik baie aantreklik vertoon, voel dit soos ʼn goedkoper model teenoor sy voorganger sodra jy langs hom staan. Dit is egter glad nie ʼn lelike tjor nie – maar so ook nie die Toyota Vitz nie. Albei pas mooi in hul segment, maar ek sou sê dat die C3 effens meer volwasse as die Vitz lyk.

Binneruim:

Citroën C3 1.2 FeelToyota Vitz 1.0 XR handrat
4/53/5

 Die Vitz bied eerlike waarde, en ʼn aanvaarbare binneruim met ʼn netjiese ontwerp. Die karretjie is klein genoeg dat ergonomie nie ’n groot kwessie is nie. Die Citroën bied egter ʼn baie meer modieuse binneruim, én is heelwat groter. Die raakskerm vir die inligtingstelsel in die C3 is klasleidend in dié prysklas.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Citroën C3 1.2 FeelToyota Vitz 1.0 XR handrat
3/54/5

ʼn Mens sou dink dat die groter 1.2 liter-enjin in die C3 koning sou kraai, maar die enjin in die Toyota boks ver bó sy gewig. Die C3 bied 61 kW en 115 Nm, maar die motortjie is byna 170 kg swaarder as die Vitz. Citroën maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruik van 5,6 ℓ/100 km. Toyota se Vitz bied 49 kW en 89 Nm, maar danksy lekker ratverhoudings en sy gewig loop die Vitz soos ʼn droom. Toyota sê hy kan 4,9 ℓ/100 km haal om die gekombineerde siklus.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Citroën C3 1.2 FeelToyota Vitz 1.0 XR handrat
3,5/53/5

Albei karretjies ry werklik lekker. Die ritgehalte in die C3 is verfrissend gemaklik soos jy van ʼn Citroën verwag. Albei is nie sportmotors in terme van padhouvermoë nie, maar in die kol vir die soort voertuie wat hulle is. Al twee bied twee lugsakke en die gewone sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding. Daar is net een klein kwaal en dis die stuurgevoel op die Vitz. Dis ʼn algemene streek van die karretjies wat uit die Maruti Suzuki-fabriek kom.

Opsomming:

Citroën C3 1.2 FeelToyota Vitz 1.0 XR handrat
14/2013/20

Voordat ek dié vergelyking gedoen het, was ek oortuig dat die Vitz sou wen. Kyk nou net daar. Indien jy in die mark is vir ʼn intreesegmentvoertuig, gaan toetsbestuur beslis albei, én ʼn Suzuki Swift. Dis waarop ek my geld sou uitgee – maar hy is deesdae uiters gewild, so dis net ʼn kwessie van tyd voordat hy ʼn diefstalrisiko begin word.

Prys:

Citroën C3 1.2 Feel handratToyota Vitz 1.0 XR handrat
R229 900R219 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shady ·

Hou maar by die Toyota. Jy gaan niks vir die Citroen kry as jy hom die dag inruil nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.