Dié motors het in 2020 bo die res uitgetroon

Die Porsche GT3 RS.

Ek het ʼn kortlys saamgestel van voertuie wat in 2020 volgens my bo die res uitgetroon het.

Ons het 93 voertuie onder hande gehad en die volgendes het vir my kop en skouers bó die res uitgetroon:

Porsche se asemrowende GT3 RS en GT4. Albei voertuie is vir ’n petrolkop kos vir die siel. Porsche sit net die GT-embleem op hul beste produkte. Soos dit nou staan, is daar ʼn GT4, GT3, GT3 RS en GT2 RS – in volgorde van mak tot wild. Die GT2 RS is ʼn turboaangejaagde besetene met 518 kW en ʼn 337 km/h topspoed. Ek het onlangs op die internet bespiegeling gesien oor ʼn GT4 RS en Porsche se splinternuwe GT3. Ek dink nie my hart gaan dit hou nie.

Die Ford Tourneo Custom. Foto: Verskaf

Die tweede een is ietwat van ʼn verrassing. Ford se opknapping van hul Tourneo Custom is ʼn openbaring. ʼn Bussie wat in sy vorige vorm nie op my radar was nie, is nou heel bo aan my lys. Die handratmodel se ratverhoudings het die Tourneo ʼn uitdaging gemaak om in die verkeer baas te raak. Die 2.2 TDCI-enjins was ook altyd effens pap, maar die nuwe 2.0-turbodiesel met 136 kW en 6-spoed-outo maak die Tourneo ʼn puik reisgenoot.

Land Rover se nuwe Defender is fenomenaal. Ons het laat in 2020 ʼn 1 000 km-reistog met Land Rover en Kingsley Holgate aangepak.

Die Land Rover Defender. (Foto: Verskaf)

ʼn Groot gedeelte van daai kilometers is op grondpaaie aangedurf – en die Defender het hom puik gedra. Vroeg vanjaar kry die Defender nog enjins by in die vorm van hul D300-inlyn-sessilinder-turbodiesel. Ek dink dit sal die beste enjin in die reeks wees.

Toyota se Hilux, Fortuner én Prado het almal onlangs nuwe enjins gekry. Die nuwe enjins transformeer dié voertuie. Ons het weer tyd met die Hilux deurgebring en julle sal binnekort daarvan lees. Ons sleep ook die naweek van 5, 6 en 7 Februarie met die opgeknapte Prado.

Met al sy uitdagings het 2020 steeds fantastiese rygenot opgelewer. Ons sal binnekort berig oor waarna in 2021 uitgesien kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.