Dié motors ry met verbruikerspryse weg  

BMW en Suzuki het koning gekraai met drie pryse elk in Cars.co.za se gewilde verbruikerspryse terwyl Toyota die kroon gespan het deur met die gesogste prys weg te ry.

Die pryse is Donderdagaand tydens ʼn glansgeleentheid oorhandig.

BMW is as die wenner aangewys in die kategorieë elektriese voertuig (minder as R1,3 miljoen), premium-oorkruisvoertuig (R700 000 tot R1 miljoen) en premium-sportnuts (R1,3 miljoen tot R1,8 miljoen).

Suzuki was die wenner in die kategorieë intreevlakluikrug (minder as R250 000), begrotingsluikrug (R250 000 tot R350 000), intreevlak-oorkruisvoertuig (R250 000 tot R350 000).

Toyota is as handelsmerk van die jaar aangewys.

“Die toekennings onderstreep Cars.co.za se toewyding om ons verbruikers te help verstaan wat die beste manier is om hul swaarverdiende rande te bestee wanneer hulle nuwe voertuie koop,” sê Amasi Mwela, Cars.co.za se besturende direkteur. “Namate nuwe motorpryse styg, beklemtoon dit verder die behoefte om opgevoede en ingeligte koopbesluite te neem.”

Een van die belangrikste verskille tussen die verbruikerspryse en ander motorprysprogramme is dat dit elke jaar aanhou ontwikkel om Suid-Afrika se voortdurend veranderende motorlandskap te weerspieël, verduidelik Hannes Oosthuizen van Cars.co.za.

Daar was altesaam 39 finaliste in die 13 kategorieë met handelsmerk van die jaar wat die 14de kategorie was.

Die 20 beoordelaars, onder wie Maroela Media se Brendon Staniforth, het in November die finaliste by Gerotek op die proef gestel. Die 20 beoordelaars se tellings vir elk van die 39 finaliste het egter net vir 50% van die finale puntestand getel, terwyl die insette van motoreienaars die ander 50% uitgemaak het.

Hier is die wenners in die onderskeie kategorieë:

  • Intreevlakluikrug (minder as R250 000)

Suzuki Swift 1.2 GLX

  • Begrotingsluikrug (R250 000 tot R350 000)

Suzuki Baleno 1.5 GLX

  • Kompakte luikrug (R350 000 tot R500 000)

Volkswagen Polo 1.0 TSI 85kW R-Line

  • Intreevlak-oorkruisvoertuig (R250 000 tot R350 000)

Suzuki Grand Vitara 1.5 GLX manual

  • Kompakte gesinsmotor (R350 000 tot R500 000)

Toyota Corolla Cross 1.8 XR

  • Gesinsmotor (R600 000 tot R800 000)

Kia Sportage 1.6CRDi EX

  • Premium-oorkruisvoertuig (R700 000 tot R1 miljoen)

BMW X1 sDrive18d M Sport

  • Middelslag-sportnuts (R1 miljoen tot R1,3 miljoen)

Mercedes-Benz GLC220d 4Matic Avantgarde

  • Premium-sportnuts (R1,3 miljoen tot R1,8 miljoen)

BMW iX xDrive40

  • Avontuur-sportnuts (R800 000 tot R1,1 miljoen)

Ford Everest 3.0 V6 Wildtrak

  • Prestasiemotor (minder as R1 miljoen)

Toyota GR Yaris Rally

  • Ontspanning-dubbelkajuit (meer as R800 000)

Ford Ranger 3.0 V6 EcoBoost Raptor 4WD

  • Elektriese voertuig (minder as R1,3 miljoen)

BMW iX1 xDrive30 M Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.