Dís mos ’n luukse sedanmotor

In die afgelope paar dekades het die lyn tussen ʼn luukse sedanmotor en ʼn sportiewe sedan vreeslik dof geraak. Die Duitse vervaardigers is die grootse sondaars op dié gebied. ʼn BMW 3-reeks en Mercedes-Benz C-klas ry uitermatig hard, en dit is werklik onnodig. Bewys hiervan kan in die nuwe Lexus IS gevind word.

Die nuwe IS het ʼn pragtige ontwerp. Die vooraansig is beslis beter as van agter vir my, maar dit sal van smaak afhang. Dis in die binneruim waar Lexus dit uit die veld slaan. Ja, dit het wel ʼn Japannese gevoel,  maar die bougehalte en materiale is uit die boonste rakke. Lexus maak gebruik van Takumi-vakmanne… ʼn eer wat oor die dertig jaar neem om te behaal.

ʼn Funksie wat net deur Volvo se Bowers & Wilkins-klankstelsel geëwenaar word, is egter Lexus se Mark Levinson-klankstelsel wat in die SE- en F Sport-modelle beskikbaar is. Dít is hoe klank in ʼn kar moet klink. Só sterk en suiwer dat mens dit oor jou hele liggaam kan voel. Dis verstommend.

Met dié opknapping is die reeks vereenvoudig met drie spesifikasievlakke, en slegs een enjin en ratkaskombinasie. Die atmosferiese 2.5-viersilinderenjin bied 164 kW met elektriese hulp van die hibridiese dryfstelsel. Van 0-100 km/h neem ʼn ratse 8,7 sekondes te danke aan die elektriese hulp. Daar is egter twee ander voordele wat kop en skouers bo dié tyd uitstaan – die brandstofverbruik en romerigheid van die seepgladde kraglewering.

Op die pad wys die Lexus sy finale troefkaart, wat die spyker in die Duitsers se doodskis is… die ritgehalte. Die IS bied goeie padhouvermoë, beter as wat enige eienaar sou benodig, maar die rit is lieflik en soepel. Ek het op die bekendstellingsroete ʼn groot spoedhobbel nie gesien nie en gevang teen so 100 km/h, en die Lexus het dit skaars gevoel. Aan die veiligheidskant spog die Lexus met ʼn magdom veiligheidstelsels soos LSS (Lexus safety sense) wat botsingwaarskuwing, remhulp, kruisverkeerwaarskuwing, baanbeheer en blindekolwaarskuwing insluit.

Dit is bitter maklik om die Lexus op te som. Dit is ʼn pragtige voertuig. Dit bied beter gehalte en gemak as baie van sy mededingers en danksy die hibridiese dryfstelsel kan jy maklik 5 ℓ/100 km haal. Dis fantasies. Indien jy in die mark is vir ʼn luukse sedanmotor, moet beslis nie die Lexus miskyk nie.

Die reeks lyk só:

Lexus IS300h EX164 kW/220 +e Nm5,2 ℓ/100 kmR841 300
Lexus IS300h SE164 kW/220 +e Nm5,2 ℓ/100 kmR899 800
Lexus IS300h F Sport164 kW/220 +e Nm5,2 ℓ/100 kmR916 100

Die reeks word gedek deur Lexus se 7 jaar/105 000 km- volle waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die Lexus IS deurbring in die daaglikse roetine en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Die Lexus darem maar! Bring net een model uit en sorg dat dit puik is. Die Duitsers moet miskien hieruit leer. Bou net een kar per klas en bou dit goed!

JohanR ·

Bestuur ‘n Lexus eerder as ‘n Audi, BMW of Mercedes. Jy sal nie voel asof jy maar dieselfde ry as almal om jou. Nou kan iemand ‘n EFT doen, en die geld in my bankrekening sit sodat ek die mooi ding kan aanskaf? Ek ry maar ‘n ouerige Ford.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.