Dít is ’n sportmotor

Ek wil die horlosie so ʼn paar dekades terugdraai. Jou pa se Cressida in die oprit het 77 kW gehad … en dit was ʼn sterk motor. Deesdae kry ons heelwat meer uit ʼn 1.0-driesilinder met ʼn turbo. Magnum PI se Ferrari 308 het 177 kW gehad. Dit was enorme krag … met ʼn dors wat onmoontlik was om te les. Die punt wat ek probeer maak, is dat selfs ʼn elektriese stadsbuksie soos Volvo se XC40 T8  vandag ver oor die 300 kW het. Vir wie!?

ʼn Sportmotor was ‘n lekker klein buks, soms met net twee sitplekke en partykeer met ʼn afslaandak. Dit het nie soseer gegaan oor die hope perde wat onder sy kap ingewurg is nie, maar eerder oor sy hantering. ʼn Sportmotor moes ʼn lekker pad met ʼn klomp draaie en kurwes kon bemeester terwyl hy die bestuurder hard laat werk, maar sodra mens die ratwisseling presies regkry, of ʼn draai perfek deursteek, sou die bestuurder beloon word met ʼn fantastiese gevoel agter die stuur – dít was ʼn sportmotor.

Daar bestaan amper glad nie meer sulke motors nie. Alles het ʼn miljoen perdekrag met sewe turbo’s en klou heeltemal té goed. Maar daar bestaan tog een: Toyota se GR86.

ʼn Pragtige 2+2-sitplek-sportmotortjie, met ʼn 2.4 bokser-viersilinderenjin voor sonder turbo’s wat 174 kW en 250 Nm bied. 0–100 km/h neem 6,4 sekondes en hy sal 226 km/h voluit snol.

Weereens is dit net ʼn klein deel van die prentjie. Dit is die bestuursposisie, hoe die stuurwiel in jou hande sit en hoe die rathefboom in jou hand vibreer. Die koppelaar wat net só vat en die gebrul van die enjin sodra mens bó 6 000 r/min kom. Al daai dingetjies saam sit ʼn glimlag op mens se gesig.

Ek was uiters bevoorreg om verlede jaar in die GR-beker met ʼn 86 te jaag, so ek voel dat ek weet hoe om die stokke te vat in dié tjor. Met twee van my kinders in die kar kom ek by ʼn verkeersirkel op ʼn stil Sondagmiddag. Ek besluit om die vastrapbeheer af te skakel, terug te skakel na eerste rat, hard in te draai en die versneller in die mat te begrawe. Die boude swaai uit en na my oudste seun se opwinding drift ons een pragtige rondte óm die sirkel.

My dogtertjie gryp na haar hart en sê vir my (met ʼn groot glimlag) dat ons amper gedooi het. Sy’s natuurlik heel eerste in die huis direk na haar ma om te sê wat pappa aangevang het! Gelukkig ontsnap ek met net ʼn kyk.

Die punt met die 86 is dat mens sulke dinge kan aanvang, maar dat daar nie té veel krag is waar mens skielik uit talent uithardloop nie. Indien jy van karre hou en wil leer hoe om beter te ry, los die Golf GTI met sy voorwielaandrywing en turbo’s en geniet ʼn ware sportmotor met agterwielaandrywing, ʼn handratkas en hope pret.

Die reeks lyk só:

Toyota GR86 2.4 handratR763 100
Toyota GR86 2.4 outoR801 900

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen Golf GTI DSG180 kW/370 Nm0–100 km/h 6.4 sek

Topspoed 250 km/h (beperk)

3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R776 800
BMW 128ti180 kW/380 Nm0–100 km/h 6.3 sek

Topspoed 243 km/h

2 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R789 260
BMW M2 Coupé handrat338 kW/550 Nm0–100 km/h 4.3 sek

Topspoed

250 km/h (beperk)

2 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 514 145
Porsche 718 Cayman GTS 4.0 handrat294 kW/420 Nm0–100 km/h 4.5 sek

Topspoed

293 km/h

2 jaar/onbeperkte km- waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 758 000

Daar is nie een direkte mededinger vir die GR86 nie. Naby in prys is die Golf en die BMW, maar albei is voorwielaangedrewe en toegerus met ʼn outomatiese ratkas. In die agterwielaangedrewe departement klim die pryse met byna R1 m – maar ook met enorme krag wat daarmee gepaard gaan  in die M2 en Porsche Cayman. As eerlike sportmotor teen ʼn billike prys kan mens nie die Toyota GR86 klop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FrikkievV ·

Die tipe motor trek my glad nie. Sport gaan vir my saam met verrigting, en hoe jy nou ookal verskoning maak en al die onnodige fieterjasies noem wat geensins bydra tot verrigting nie, die motor vir die geld is slegs vir blinde Toyota aanhangers.
As ek wel ‘n Toyota “sport” motor moes kies vir amper dieselfde (nie 100% seker) is die GR Corolla ‘n baie beter koop.

Vonkprop ·

Ek stem saam. Dit is bitter baie geld vir ‘n gemiddelde voertuig. Jy sal ouens by die braai moet oortuig hoe goed jou Toyota is, waar jy net VW, BMW of Porsche se naam hoef te noem en jy het die ouens se belangstelling. En met sy bokser enjin is hy seker ook lekker dors. Ek ry ‘n Hyundai Elantra Sport 1.6 met turbo. Hy gee my 150kW teen 5.5l/100km en selfs dit prikkel die ouens se belangstelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.