Ducati se derde Mystery Ride: Hoogtepunte, kinkels en herinneringe

(Foto: Brian Cheyne)

Die eerste Ducati Mystery Ride was ’n groot sukses. Die resep is eenvoudig: Jy koop jou plekkie op die rit en dan volg jy vir vier dae vir Jos Matthysen van Ducati in Suid-Afrika. Al inligting wat jy het, is die afstande wat die groep elke dag gaan ry. Die tweede Mystery Ride het kort daarna gevolg en was net so ’n belewenis. Die derde een het pas geëindig, maar hierdie keer was dit meer persoonlik en meer emosioneel.

Tydens die eerste twee ritte het ons ’n bobaasbakster, Laurinda, saam gehad wat hawermoutkoekies en piesangbrode gebak het. Waar sy plek gekry het om alles saam te ry, het net sy geweet. Tydens die tweede een was die pa-en-dogter-span van Joop en Marieta ook deel van die geselligheid. As jare lange vriende van Jos is Joop sommer aangewys om die laaste aand as regter op te tree om klagtes van die mederyers aan te hoor. Hy moes dus ook ’n gepaste straf uitdink vir die skuldiges. Alles het natuurlik in ’n goeie gees plaasgevind.

(Foto: Brian Cheyne)

Ongelukkig het ons in Julie vir Laurinda en Joop verloor. Die derde Mystery Ride was dus ter herinnering aan hierdie twee groot geeste en ons hemde vir dag een het hulle name op die moue gehad. Dít is die gees van vriendskap onder Ducati-eienaars.

Tydens ons inligtingsessie het ons elkeen weer ’n groot sak vol praktiese geskenke en Ducati-bybehore gekry. Met die beperkte inligting tot ons beskikking en ’n paar kriptiese leidrade moes ons raai waarheen ons elke aand sou ry. Die persoon wat dan die naaste raai, wen ’n prys. Hierdie keer was Jos só oortuig dat ons nie reg sal raai nie dat hy ’n Multistrada 950 uitgeloof het vir die persoon wat al drie dae kon reg raai. Julle kan dink hoe het die ryers bespiegel sonder om te veel weg te gee.

Joop se dogter, Marieta, het besluit om weer saam te ry as passasier, en omdat sy die eerste dag saam met my sou ry, het Jos vir my ’n splinternuwe Multistrada V4 gegee om mee te ry, dieselfde fiets as haar pa. Daar was natuurlik heelwat Multistradas en selfs twee brawe ryers op Panigales.

(Foto: Brian Cheyne)

Nadat Jos vir ons ’n kort gebed gedoen het by Ducati se vertoonlokaal in Centurion, het ons in die pad geval. Sommer uit die staanspoor het heelwat ryers se moed tot in hulle skoene gesak toe ons noord begin ry het in plaas van suid, soos die meeste gedink het. Net daar het ek besluit om weereens net my vertroue in Jos te plaas en agter hom aangery sonder om my verder oor pryse te bekommer.

Ons is noord, deur dorpies soos Marble Hall, en het langs die pad stilgehou vir ’n koeldrank en ’n blaaskans. Ons het oor Magoebaskloofpas gery en ek was huiwerig om dié pas met ’n passasier aan te durf, maar die V4 het ongelooflike padhouvermoë. Ek het toe besef dat Ducati sy huiswerk gedoen het met die V4. Hy is gemaak vir langpad toer en ’n passasier bring hom nie van stryk nie. Ons bestemming vir die aand was die ATKV-oord, Die Eiland.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons het die aand gesellig verkeer met heerlike braaivleis en rustig gesels. Ons moes egter vroeg inkruip, want die volgende dag het beloof om lank te wees. Ons moes 840 km aflê en ná die hitte van die eerste dag het ons dit goedgedink om ’n groot deel van die rit so vroeg moontlik agter die rug te kry. Die gebrul van 42 Ducati-motorfietse het Die Eiland laat wakker word en ons is van daar af weer suid. Ons eindbestemming was St. Lucia. So warm soos wat ons op dag een gekry het, so koud en nat was dag twee. Ons het weer die aand ’n vleisie gebraai en almal was dit eens dat ons dag drie na die Drakensberg sou gaan. Ons is egter die volgende oggend ingelig dat ons ons tasse in ons kamers moes los omdat ons weer hier sou slaap die aand. Die Multistrada 950 was dus veilig. Ons het nie hierdie kinkel verwag nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Dag drie het ons met reën en koue begroet. Die plan was dat ons na Ballito sou ry vir middagete, maar ons het daarteen besluit. Dit is dalk ’n klomp geharde motorfietsryers bymekaar, maar soms is die risiko groter as die genot van ry. ’n Paar brawe ryers het dit wel gewaag, maar selfs hulle het nie ver gery nie en het sopnat teruggekeer. Die res van ons het die plaaslike ekonomie so ’n hupstoot gegee en ek kon my tone in die see gaan druk. Daar is ook min dinge so lekker soos om vis te eet wat vanoggend gevang is. Dit proe net anders.

Die Mystery Rides wat Ducati reël, bly vir my ’n hoogtepunt, en so lank as wat Jos my nooi, sal ek saamry. Ek besit nie eens ’n Ducati nie, maar Jos reik elke keer vir my een uit. Ek word elke keer met ope arms ontvang en die saamwees is prysloos. Mystery Ride 4 is reeds in die pyplyn, so as jy ’n Ducati besit, hou Ducati se Facebook-blad fyn dop.

Die plekke word baie vinnig opgeraap, so jy moet vinnig speel. Kom ry saam, en beleef die mooiste van die land op die rooiste van fietse!

Mariska Nanni en haar man, Sergio (Foto: Leighton Pearson)

Maroela Media se eie Mariska Nanni was ook saam met haar man daar en ek het haar gevra om haar indrukke van die rit te gee. Sy skryf:

“Dit was die eerste keer dat ek die langpad op die passasiersitplek van ’n motorfiets aangedurf het – iets waaroor ek opgewonde én senuweeagtig was. As passasier was my verantwoordelikheid duidelik: Sit terug, ontspan en geniet die rit. Dít was soms makliker gesê as gedaan – veral om daai skerp draaie deur Magoebaskloof en Barberton – dan het my maag sommer saamgedraai.

(Foto: Brian Cheyne)

“Nietemin was dit een van die grootste avonture wat ek nog aangepak het, en ’n baie opwindende, unieke manier om ons pragtige land te verken. Jy sien, ruik en voel die natuur. Natuurlik ook die adrenalien.

“Ek het lanklaas so sorgeloos en vry gevoel.

“Die sitplek van die Ducati Multistrada was uiters gemaklik en hoog genoeg sodat ek alles om my kon sien en inneem.

“Ek en my man kon ook deur ons kommunikasieapparate met mekaar gesels en musiek luister. Dis natuurlik ook die ideale geleentheid vir ’n bietjie alleentyd – net jy en jou gedagtes onder jou valhelm.

“Die pad was lank, en ná vier dae se ryery was ons lekker styf. Die 2 000 km was egter elke seer spier werd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charl ·

Sal wat wou gee om so iets te kan ervaar. Het self jare motorfiets gery maar altyd alleen, nooit in klub verband nie, ek dink die samesyn en kammeraadskap is uniek. RY SO VOORT DUCATI ! (Al is (was) ekself ‘n YAMAHA ryer)

Brian ·

Charl, hierdie is die lekker van so rit. Jy hoef nie aan ‘n klub te behoort nie. Jy hoef net ‘n Ducati te ry, dis al.

SlinkseKoljander ·

Net jammer Ducati is so belaglik duur, jy betaal vir die badge nie veel meer nie.

Brian ·

Andre, ‘n standaard Ducati Multistrada V4 is goedkoper as ‘n BMW 1250 GS, so dit is maar orals ‘n probleem, nie net by Ducati nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.