Ducati se vyfde Mystery Ride neem ons ver noord

Wimpie Jonck en Jos Matthysen (Foto: Brian Cheyne)

Ek onthou die heel eerste Mystery Ride baie goed. Dit was in die tyd van die groot pandemie. Ek klink nou amper soos my pa as hy so gepraat het oor die verlede, maar dit was ’n baie besonderse rit in ’n baie moeilike tyd. Hoewel die afstande baie lank was, was die bestemmings baie spesiaal, en ons kon vergeet van die moeilike tye. Saam met Jos Matthysen, hoof van Ducati Suid-Afrika, het ons lekker saamgekuier en gesels oor ons gedeelde passie vir Ducati.

Kort daarna het nog twee Mystery Rides gevolg met dieselfde resep: Jy volg vir Jos tot by jou blyplek en geniet die landskap op pad soontoe. Teen die tyd dat die vierde een beplan is, het Jos my oortuig om my eie Ducati aan te skaf eerder as om vir my een te leen. Dit was ’n asemrowende toer deur die Wes-Kaap. Saam met my Ducati-vriende was ek dus al wes tot in Kathu, oos tot in St. Lucia en suid tot in Worcester, maar die noorde van ons land was nog yl verken. Toe Jos aankondig dat die vyfde Mystery Ride in Mei sou plaasvind, het iets net vir my gesê ons gaan noord. Ver noord.

(Foto: Brian Cheyne)

Hierdie keer het ek en Jos weer gesels, en ek het kort voor die toer ’n nuwe toevoeging tot my motorhuis gekry: ’n Ducati DesertX. Ek moes behoorlik skarrel om 1 000 km op die fiets te kry sodat hy versien kon word voor ons vertrek.

Mystery 5 was uit die staanspoor heelwat anders beplan. Dié wat kon, moes hul eie bagasie dra en die groep het meestal uit ou bekendes bestaan. Daar was egter so ’n paar nuwelinge wat ook aangemeld het en jy kon die opwinding in hul oë op ’n myl sien.

Die aand voor ons vertrek, was daar ’n kort geselligheid waar ons ’n klein geskenkpakkie gekry het. Die pakkie het ’n weermagtema gehad en ons het huiswerk gekry om te gaan oplees oor skeeps- en lugvaartterme. Ons sou dit skynbaar nodig kry die volgende oggend. Ons almal het gewonder wat Jos in die mou voer! Daar was ook kaartjies te koop wat jou in aanmerking gebring het om ’n besondere prys te wen: ’n unieke Ducati DesertX. Jos het drie DesertX-fietse spesiaal laat verf en die wenner van die fiets kon kies watter een van die drie hy of sy wou huis toe neem. Die trotse wenner was Wimpie Jonck!

Die drie unieke DesertX motorfietse (Foto: Brian Cheyne)

Dag een het afgeskop met ’n ligte ontbyt, en daarna moes die hele groep hul selfone en horlosies inhandig. Ons motorfietse se instrumentasie is toegeplak en ons is in vyf spanne verdeel. Elke span het kriptiese leidrade gekry met lugspoed en seemyle, en natuurlik het niemand hul huiswerk gedoen soos gevra nie. Ons moes noukeurig by die spoedgrens hou, en tye moes by sekere punte aangeteken word. Aangesien niemand ’n horlosie aangehad het nie, of geen idee van spoed nie, was dit nogal ’n petalje! By ons eerste stop moes ons ’n takie verrig, maar ons span het sonder moeite by ons bestemming aangekom. Daar is ons herenig met ons elektronies hulpmiddels en kon ons ’n laat ontbyt eet. Ander spanne het heel verdwaal en ons het lekker gelag vir almal se stories.

(Foto: Brian Cheyne)

Van hier het ons begin noord ry na ons eerste oornagplek net buite Thabazimbi. Jos het spesifiek gelet daarop om die afstande kort te hou sodat ons meer tyd sou hê om te sosialiseer. Elke Mystery Ride het afgeskop met ’n heerlike braai, en hierdie een was geen uitsondering nie. Met vure wat hoog brand en die gemoedere ewe hoog het ons die aand afgesluit in ons luukse tentakkommodasie. Die pad na ons oornagplekkie was wel grondpad, maar ek was op die DesertX, ’n fiets gemaak vir hierdie soort pad.

(Foto: Brian Cheyne)

Ná ’n heerlike ontbyt het dag twee aangebreek met nog ’n korter skof as die eerste dag. Ons roete het ons nog verder noord geneem, deur Ellisras en selfs verby die Steenbokskeerkring. Ons eindbestemming was die dorpie Tom Burke. Ons het op ’n luukse jagplaas oorgebly en weereens het die vure hoog gebrand en die samesyn was besonders.

(Foto: Brian Cheyne)

Dag drie was ’n Sondag, en skielik besef jy dat ons hier in die stad aanvaar dat vulstasies en restaurante 24 uur per dag oop is. Dit is nie die geval hier nie. Ons moes bietjie rondsoek om uiteindelik ’n vulstasie te kry waarby die 37 motorfietse kosbare voggies kon kry om verder te kan ry. Dié van julle wat onlangs die pad tussen Tom Burke en Alldays gery het, sal verstaan dat die teerpad die uitdrukking “plek-plek” gestand doen. Dit is meestal grond met hier en daar ’n stukkie teer wat hardnekkig bly klou aan die aarde. Tot onlangs was hierdie pad rybaar, maar vandag is dit nie meer die geval nie. Ons het versigtig tot op Alldays gevorder waar ons weer brandstof ingegooi het en ’n welkome ruskans kon geniet. Afgesien van ’n slaggat of twee het ons pad verder geen nuwe verrassings ingehou nie.

Die grond het ons agter skedule geplaas, so die pas na Louis Trichardt is ’n tikkie meer entoesiasties aangepak. Wat vir die meeste mense die Hendrik Verwoerd-tonnels is, was vir die 37 Ducati’s ’n simfoniesaal! Dit was iets besonders om die dreuning van hierdie fietse daar te voel en te hoor. Ons eindbestemming vir die dag was Hoedspruit. Ons het weer in luukse tente gebly en die aand het ons almal saamgekom in die Sleepers-restaurant in Hoedspruit. Hier is geskenke uitgedeel aan die ryers wat elke aand se bestemming kon reg raai. Sekere tradisies bly maar deel van die Mystery Ride.

Hoewel ons pragtige wild gesien het, en deur ’n bosveldryke gebied van ons land gery het, was die Ducati’s lus vir kronkelpaaie. Jos was ons een voor. Van Hoedspruit het hy ons gelei tot in Hazyview, en toe op die heerlike R40 gedraai. Hier kon ons die fietse se bene rek. Ek was verbaas oor die DesertX se vermoë op teer, en hier het hy al my verwagtinge oortref! Om dinge nog meer interessant te maak, het ons deur Nelspruit gery en oor Nelshoogtepas. Hierdie kort kronkeldraaie was net soveel pret!

 

Net voor Machadodorp het ’n reënbuitjie ons ingewag, maar steeds het dit nie ons entoesiasme gedemp nie. Dit was egter tyd om huis toe te gaan, en die N4 anderkant Machadodorp is bitterlik vervelig. Gelukkig het my DesertX spoedkontrole, anders was ek dalk in die moeilikheid by ’n paar spoedlokvalle.

Vir baie Ducati-ryers is die Mystery Ride die een lang rit wat hulle nie misloop nie. Hoewel ek nie juis ’n groepsryer is nie, bly die Ducati Mystery Ride vir my ’n hoogtepunt. Daar gaan baie beplanning (en onkoste) in so ’n rit in, en die hele span by Ducati doen dit met oorgawe. Nou bly die vraag net, waarheen volgende? Ek hoop regtig ons kan weer in die Kaap gaan rondry, of dalk die Karoo, maar daardie besluit sal ek vir Jos los. Maak nie saak waarheen Jos ons vat nie, ek gaan saam!

Ek voel die DesertX verdien ’n artikel van sy eie. Ek sal breedvoeriger kan gesels oor dié fiets ná ek nog tyd op hom deurgebring het.

Hou gerus Ducati se Facebook-blad dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.