Ford bereik piek met nuwe Everest

Vergeet wat jy dink jy van Ford se Everest weet, want die nuwe Everest is nie dit nie.

Die derde generasie Ford Everest is geheel en al ʼn nuwe ervaring. Dit is ʼn pragtige sportnutsvoertuig met rateltaai 4×4-vernuf, sewe sitplekke (wat plat in die vloer vou agter), en ʼn vlak van verfyning wat ek nog nie in dié segment ervaar het nie.

Die ontwerp is werklik mooi. Die vooraansig met die C-klamp ligte is pure Ford, maar die sterk skouerlyn gee vir die Everest ʼn nuwe vastigheid op die pad. Die nuwe ontwerp agter is vir my werklik mooi.

Dit is egter in die kajuit waar ʼn mens uitgeboul word. Daar is vir nou twee modelle in die reeks. Die intreemodel is die Sport, gevolg deur die reeksleidende Platinum. Die Sport is reeds luuks, maar die Platinum is in ʼn ander liga wat luuksheid betref. Die paneelbord is lekker sag, en met leer oorgetrek. Die instrumente is mooi digitale skerms met ʼn goeie resolusie. Die groot tablet‑tipe skerm in die middel beheer allerhande funksionaliteit en stellings.

Die inligtingstelsel bied Apple CarPlay en Android Auto, met of sonder ʼn koord. Daar is ʼn koordlose laaimatjie vir jou selfoon en in die Platinum-model is daar ʼn asemrowende Bang & Olufsen-klankstelsel van fantastiese gehalte. Die elektries verstelbare sitplekke is lieflik gemaklik, en die voorste sitplekke is verhit óf verkoel. In die Platinum is die tweede ry ook verhit. Aitsa.

Dis wat onder die dop is wat my egter betower. Ek het al baie geskryf oor Ford se ratkaste waarvan ek nie hou nie. Die 10-spoed is nou reg gekalibreer. Daai lui wringkragomsitter in eerste en tweede rat is weg. Die ratkas is ook geprogrammeer om vroeër ratte te wissel – mooi in die middel van die wringkragkurwe, eerder as heel bó in die toerestrek. En hy wissel seepglad. In die Sport, aan daai 10-spoed, is Ford se 2.0 BiTurbo‑viersilinder‑dieselenjin. Hy bied 154 kW en 500 Nm. Dit is die kombinasie wat ek sou kies. Hy is ligter op brandstof as die V6, en nie baie swakker nie.

Voor in die Platinum sit ʼn nuwe 3.0 V6‑turbodieselenjin onder die kap. Hy bied 184 kW en 600 Nm. Hy gebruik dieselfde 10‑spoed‑outo, en is geprogrammeer vir egalige kraglewering. Die noot wat die enjin maak, is pragtig, en ek is oortuig dat die V6 soos ʼn droom gaan sleep.

Ford het ʼn fris haas uit die hoed gepluk met die ritgehalte in die Sport-model. Hy loop op ʼn 20”‑wiel, maar is glad nie hard geveer nie. Die soepel rit en stil kajuit is opvallend. Die soepel rit beteken egter nie dat padhouvermoë daaronder ly nie. Die Everest klou soos ʼn neet aan die pragtige paaie in die Hazyview-omgewing.

Albei die Sport- en die Platinum-weergawes het vol 4×4-dryfstelsels met ʼn laestrekratkas. Daar is ʼn ewenaarslot agter wat elektronies in- en uitskop met die druk van ʼn knoppie op die inligtingstelsel. Daar is verskeie rymodusse wat gekies kan word, dan word die ewenaarslotte, versnellerreaksie en dies meer vir elke moontlike hindernis aangepas. ’n  Mens kan ook kies tussen ʼn 18”‑, 20”‑ of 21”‑wiel as jy jou eie Everest bestel.

Die Everest spog met 3 500 kg se sleepkapasiteit. Deur die Ford Pass‑app kan jy die karavaan haak, agter gaan staan en dan loop die stelsel self deur die ligte om te toets, en dan kan jy mooi kyk sonder om vir vroulief te skreeu: “Links? Regs? Brieke?” Slim.

Ons sal weer tyd met die Everest deurbring. Dit is ʼn pragtige voertuig, en elke kwessie wat ek met Ford se enjins of ratkaste gehad het, is uitgesorteer. Ons sleep in April volgende jaar Natalse kus toe; ek dink ons sal ʼn Everest daarvoor moet inspan. Ford wil met die nuwe Everest teen Toyota se Prado meeding, maar ek stem nie saam nie. Ek dink die Everest sit nou tussen die Prado en die Cruiser 300. Welkom in die groot liga, manne.

Die Everest reeks lyk nou só:

Ford Everest Sport 2.0 BiT 4WD154 kW/ 500 Nm7,5 ℓ/100 kmR965 400
Ford Everest Platinum 3.0 V6 AWD184 kW/ 600 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 113 100

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg en ʼn 6 jaar/90 000 km‑diensplan kan vir net meer as R18 000 bygekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

vuurvliegie ·

Baie goed geskryf.
Die Everest kan beslis met die Cruiser 300 vergelyk word en self bo uitkom

vuurvliegie ·

Manie ‘n voertuig met ‘n miljoen km’s hoort nie op die pad nie want dit sal GEEN onpartydige padwaardigheids toets slaag nie. Voertuie met meer as 300 000 behoort jaarlik vir padwaardigheids toetse te gaan. Daar is te veel “matcho” manne wat glo sy ou bakkie met 500 000 is nog reg soos hy hom die dag gekoop het. Daar is te veel sulke voertuie op ons paaie wat lewens onnodig eis.

Manie ·

Jy is reg, my stelling bepaal slegs die uithouvermoë toets. Ek kyk gereeld na die pryse van 2de handse bakkies. Die goed het 250000 + km op en verkoop dan teen dieselfde randwaarde. Dis malligheid om daardie tipe geld vir ‘n ryding met sulke hoë km’s te betaal.

andre ·

Nou wonder ek of dit die V6 of die 4 silinder is wat so n onbetroubare voertuig is.

Hennie ·

Beide, die V6 is dieselfde enjin wat in die LR Discovery 3 en 4 gebruik was, die 2lt veral gekoppel aan die 10 spoed ratkas het menige probleme. Gaan kyk gerus op die 4x4community.

vuurvliegie ·

Andre, ou Hennie raak maar soms deurmekaar met sy onbetroubare toyota. Verskoon hom

JohanR ·

Hy lyk lekker! Sal skerms eendag die hele passasiers kant opneem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.