Gaan dié dinge na voor jy die langpad aandurf

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

ʼn Groot aantal noodlottige padongelukke kan toegeskryf word aan voertuie wat nie padwaardig is nie.

Ek praat nie van wrakke wat op die skrootwerf hoort nie, maar eerder van voertuie met ligte wat nie werk nie, afgeloopte bande of ʼn handrem wat sukkel.

Dit is dus baie belangrik om seker te maak jou motor is padveilig voor jy die vakansie die langpad aandurf. Heel bó aan die lys, sal ek sê – laat die wielsporing nagaan en die bande balanseer. Dit is nie duur nie, en terwyl die sporing en balansering gedoen word, sal daar ook gesien kan word of daar enige knoppe op die band is of happe uit die loopvlak weg is. Binne-in die loopvlakpatroon is daar klein hobbeltjies hier en daar. Indien dit gelyk is met die res van die loopvlak, dan is daai bande op hul wettige limiet en sal dit ʼn beperkte vermoë hê om water te versprei. Indien jy met sulke bande in ʼn botsing beland, kan jou versekering weier om uit te betaal.

Steeds by die bande – gaan jou motor se voorgestelde banddruk na en maak seker jy pomp die bande koud. ʼn Band wat baie pap is, maak ʼn voertuig uiters swaar op brandstof en beïnvloed die padhouvermoë. As die band werklik pap raak, kan hy maklik van die wiel afklim, dan gooi mens die motor om. Bande wat té hard gepomp is, sal die rit onnodig hard maak en die vering se rubbers vinnig uitput.

Net só belangrik is ʼn voertuig se ligte. Deesdae kom mens talle motors in die nag teë sonder ligte. Indien mens op ʼn baie donker pad beland, gaan iemand jou kar se agterent wegry. Maak dus seker dat elke liggie werk.

Jou handrem moet gestel word om die voertuig op ʼn steil bult stil te kan hou, sonder om die voertuig in rat te moet los. Dis eenvoudig om te stel.

Net voor mens die langpad aandurf en die tenk vol brandstof gooi, laat die joggie die water en olie nagaan. Klim saam uit en maak seker dit word deeglik gedoen. Indien mens die enjin loop sonder water of olie sal dit ʼn katastrofiese faling veroorsaak – wat bitter duur is om te herstel.

Laastens onder die kap – gooi die ruitwasserbottel vol water. Mens kry ook oulike seep wat mens daarin kan gooi om goggas te help afwas. Indien jy moontlik baie reën op die langpad gaan kry, het Wynns ʼn fantastiese produk wat mens op die voorruit sit. C Thru is die goed se naam. Ná mens dit opgesit het, spoel die water van die ruit af, so spoedig dat mens nie eens nodig het om die ruitveërs te gebruik nie.

Indien jou voertuig onlangs versien is, behoort die handelaar of werktuigkundige al die goed na te gegaan het, maar vat vyf minute en doen dit weer – dit spaar mens moontlik ʼn reusehoofpyn langs die pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.