Gemak soos nét Citroën kan

Citroën word al vir dekades vir sy uiters gemaklike vering geken. Sover ek weet het dit by die DS begin – sy hidroliese vering wat self een wiel in die lug kon tel. Die DS is ook gebruik om die kamera op te monteer om perderesies af te neem.

Ek het al baie hier gekla oor gemaklike gesinsvoertuie wat uitermatig ongemaklike vering het. Veral BMW se sportnutse met die M-pakket en Mercedes-Benz met die AMG-pakket. Dit is absoluut onnodig vir sulke harde vering. Twee voertuie wat ek onlangs onder hande gehad het, het my dit weer laat besef. Die eerste was Toyota se GR86-sportmotortjie, en die tweede is die Citroën C5 Aircross.

Die C-sportnutsegment is die moderne sedanmotor. Waar ons almal grootgeword het met Corollas en Jettas, is dit nou C-sportnutse. Dink byvoorbeeld aan voertuie soos Toyota se Rav4, Volkswagen se Tiguan, Ford se Kuga en dies meer. Ek glo steeds dat ʼn C-sportnuts wel iets moet bied bó dit wat ʼn sedanmotor kan bied. Beter grondvryhoogte beslis – en dan óf ʼn meer veelsydige binneruim óf vierwielaandrywing.

Die nuwe C5 Aircross merk twee daarvan af. Die nuwe ontwerp is werklik netjies nie en die binneruim is boonop fantasties gemaklik. Lekker breë sitplekke en ʼn oop, ergonomiese kajuit. In die tweede ry sitplekke is daar drie individuele sitplekke, almal dieselfde breedte. Dit klink dalk onnodig vir sommige mense, maar ek het drie kinders – ’n sitplek vir elk is werklik belangrik. Anders hoor mens heeltyd “Jy sit op my plek; jou been raak aan my; skuif op, dis myne…!” en só hou dit aan.

Tweedens bied die C5 die tweede grootste kattebak in sy segment. O, daar’s nog ʼn ding, die grondvryhoogte. Die Citroën C5 Aircross bied ʼn puik 230 mm-grondvryhoogte. Dit is die beste in die segment, meer as sommige dubbelkajuitbakkies en net minder as ʼn Fortuner se 276 mm. Fantasties.

Onder die kap vind mens Citroën se 1.6 viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 120 kW en 240 Nm. Die enjin se programmering is aangenaam en die versnellerkalibrasie glad en eweredig. Ek is oortuig dat daar nuwe programmering is vir die 6-spoed outomatiese ratkas, want selfs die ratkas is gladder as wat ek hom kan onthou.

Dit bring my by die Citroën se troefkaart: die C5 Aircross het fantastiese vering. Van die beste tans in die bedryf. Lieflike soepel vering met so te sê geen bakrol nie. Padhouvermoë is in die kol vir dié soort voertuig, maar die stil kajuit en sagte vering slaan mens vir ʼn ses die oomblik wat jy met hom begin toer.

Ons sal weer tyd met die C5 deurbring, maar in die tussentyd sal ek hom só opsom. Stellantis, die eienaars van Citroën is nou een van die grootste motorgroepe ter wêreld. Dit is goed vir gehalte, onderdele en naverkopediens. Die C5 is meer gemaklik as enige ander C-sportnuts op die mark beskikbaar, en het ʼn vyf jaar omvattende instandhoudingsplan – nie ‘n diensplan nie – én is ʼn baie laë diefstal- en kapingrisiko. Daar is eenvoudig niks om nié van te hou nie. Gaan toetsbestuur absoluut een.

Die reeks lyk só:

Citroën C5 Aircross 1.6 Feel              R633 900

Citroën C5 Aircross 1.6 Shine            R683 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.