GLA – sportnuts of meerdoelvoertuig?

In die 2000’s was veeldoelvoertuie (MPV’s) baie gewild. MPV’s was min of meer ʼn luikrug gekruis met ʼn bussie. ʼn Meer regop bestuursposisie, beter beenruimte en ʼn reusekattebak – net reg vir kinders rondkarwei. Ek persoonlik besit presies só ʼn buksie – ʼn Renault Grand Scenic, sewe sitplekke en al.

Tans is die sportnutsvoertuig die geur van die maand. Mercedes-Benz het onlangs hul sportnutsreeks vernuwe. Een buksie wat so half vir my sy karakter verander het, is die kleinste in die reeks – die GLA. Die vorige GLA was ʼn opgepompte luikrug. Dié een lyk egter meer bussie-agtig. Is dit om die leemte te vul wat die B-reeks gelos het?

Die ontwerp is geensins lelik nie, net buitengewoon in ʼn see van sportnutse. Dit is egter nie ʼn slegte ding nie – dis uniek. Die binneruim is pure Mercedes-Benz. Merc is aan die brand met hul binneruim op die oomblik (behalwe die GLE en GLS se paneelborde) en ʼn mens voel vinnig tuis. Al die truuks en luukshede wat jy verwag van ʼn Mercedes is daar.

Die spesifieke model wat ek onder hande gehad het, is die GLA 200. Hy word deur Merc se 1.3-viersilinderturbopetrolenjin aangedryf, en is gepaard met hul 8-spoed-dubbelkoppelaarratkas wat 120 kW en 250 Nm aan die voorwiele stoot. Die enjin bied ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6 l/100 km. Die enjin-ratkas-kombinasie is vir my een van die kwale van die GLA. Die 1.3-enjin bied genoeg krag, maar voel baie grof. Die ratkas se programmering is heel stadig in vergelyking met Volkswagen se DSG.

Op die pad toer die GLA heel lekker. Die kajuit voel voorwaar ruim en die ritgehalte is aanvaarbaar. Ek persoonlik dink dit kan sagter geveer wees, veral vir ons paaie wat tans nie in ʼn wafferse toestand is nie. Padhouvermoë is baie beter as wat enige GLA-eienaar ooit sou nodig hê – te danke aan die stywer vering.

Die GLA loop sterk voor in die veiligheidsafdeling. Daar is ʼn magdom lugsakke, ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer, blindekolwaarskuwing en voorruitvertoon (HUD) wat seker maak jou oë is altyd op die pad gefokus. Die jongste weergawe van die MBUX (Mercedes-Benz User Experience)-inligtingstelsel gepaard met die pragtige groot skerms is fantasties. MBUX integreer voorwaar goed met ʼn Apple- of Android-foon, en bied CarPlay en Android Auto indien jy met ʼn draad koppel.

Die GLA is ʼn lekker produk. Ek dink dit is egter meer ʼn mamma-motor om kinders te karwei as wat dit ʼn hardebaard se sportnutsvoertuig is. Buiten die 1.3-enjin wat grof is, is dit ʼn lekker pakket. Ek sou beslis kyk na die 200d, ek dink hy gaan ʼn gladder ervaring bied as sy petrol-boetie. Die prys voel wel vir my effens hoog.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLA 200120 kW/250 Nm6 l/100 kmR679 040
Mercedes-Benz GLA 200d110 kW/320 Nm5,2 l/100 kmR714 560

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Volvo XC40 T3110 kW/265 Nm6,7 l/100 km 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR630 700
BMW X1 sDrive18i103 kW/220 Nm6,3 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R645 934
Audi Q3 35TFSI110 kW/250 Nm7,2 l/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R651 000
Lexus UX250h EX135 kW/180 Nm4,5 l/100 km7 jaar/105 000 km-voertuigwaarborg en omvattende instandhoudingsplan

8 jaar/195 000 km-batterywaarborg

R719 600

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.