Goed, beter, beste, Cruiser en nou 2.8-Cruiser …

Toyota Suid-Afrika het vandeesweek sy splinternuwe (ou) Land Cruiser 70-reeks aan die media bekendgestel.

Soos Ford se Model T het ʼn Cruiser geen bekendstelling nodig nie. Dit is moontlik die rateltaaiste voertuig op aarde en ʼn getroue gunsteling in Afrika en Australië, asook enige ander plek waar die terrein nie altyd jou maatjie is nie.

Ek woon in Pretoria. Die manne wat kán, het almal ʼn omgeboude Cruiser. Lekker dik uitlaatpyp, groot wiele en ʼn Alu-cab-kappie op. Dis ʼn Pretorianer se toegangskaartjie na die cool ouens se braaigroepie. Die 70-reeks soos ons hom leer ken het, is werklik rateltaai … maar sy verrigting was tot dusver nie só puik soos elke eienaar graag sou wou hê mens moet glo nie. Já – jy kon hom nie breek nie, maar hy het mens in die dorp gemartel en terwyl die V8 by 150 kW kan lewer, sit hy skaars iets in die 90 kW op die pad neer. Om nie te praat van die binneruim wat nie ʼn bekerhouer of ʼn masseersitplek in sig het nie.

Toyota het nou noodgedwonge regop gesit en opgelet, want in verskeie markte sal die V8 eersdaags nie meer toegelaat word nie weens emissie-regulasies. Die antwoord was die 2.8-viersilinderturbodiesel … en vir die eerste keer – ʼn outomatiese ratkas!

Onder die nuwe hoër kap sit Toyota se fantastiese 2.8 nou met sy puik 6-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Die uitwerking op die 70-reeks is niks minder as verstommend nie! Die verskil in werkverrigting op die viersilinder is ʼn openbaring. Die Cruiser toer nou lieflik stil (behalwe vir die windgeraas) teen 140 km/h en 2 250 r/min in sesde rat. Ek reken as mens meer by die wettige spoedgrens hou, sal die 2.8 naby aan 10 km/ℓ bied … dit is amper die helfte van die V8 se verbruik!

Waar mens nou gemaklik in die dorp toer in jou nuwe 70-reeks danksy die outokas, het Toyota die kajuit ook effens opgekikker. Daar is nou bekerhouers en die beste selfoonhouer van enige moderne voertuig waarmee ek al gery het. Die vakkie het ʼn kepie in waardeur die laaidraad kan pas … werklik slim.

Soos ons by Toyota se hoofkantoor uit Sandton vertrek, probeer ek uitpluis wat die Cruiser is. Aanvanklik is dit erg ongemaklik en daar’s baie aan die gang. Soos ons verby my afrit van die N1 toer, besef ek – dis nie ongemaklik nie. Dis meganies. Analoog. Die 70-reeks is in 1984 bekendgestel – ʼn jaar ná ek gebore is. Dis uit ʼn tyd waar die koppelaar met ʼn kabel gewerk het en die versnellerpedaal ook met ʼn kabel aan die vergasser vasgegespe was. Deesdae is alles “drive by wire” met ʼn blikbrein en “slim programmering” wat eintlik net alles onnodig ingewikkeld maak.

Ek besef, die LC70 sal langer hou as enige ander voertuig, want hier is eenvoudig niks om te breek nie. Die kar sluit aan met ʼn sleutel – nie ʼn knoppie nie. Die Cruiser is deesdae eintlik baie luuks teenoor 1984 – daar is elektriese vensters, ʼn sentrale sluitstelsel, lugreëling en ʼn draadloos met Apple CarPlay en Android Auto … maar die klank is nie waffers nie. Dít is egter hoekom Afrika vol is van die goed. Hulle hou net aan en aan.

Wat ek hier sê as motorjoernalis sal geen invloed hê op die verkope van die LC70 nie. Dís hoe sterk Toyota se handelsmerk en dié produk is – maar ek sal ʼn paar goedjies uitwys wat ek dink redelik maklik prakties verbeter kan word. In die stasiewa is die beenruimte vir agterste passasiers uiters vrot – dan bly daar ʼn groot kattebak oor. Daai bank kan op ʼn reling geplaas word sodat hy kan skuif – nes die voorste sitplekke. As jy beenruimte soek, skuif hom terug. As jy kattebak soek, skuif hom vorentoe of kantel hom om – dan het jy ʼn paneelwa.

In Australië kry hulle die Heritage-model. Hy het ʼn paar goedjies by – spesifiek die retrometers. Die stasiewa het twee USB-C-poorte en spoedkontrole wat die bakkie nie het nie. Teen byna R1 miljoen vir die dubbelkajuit en die stasiewa dink ek Suid-Afrika word effens vir ʼn pop gevat … maar, Toyota Suid-Afrika sal elkeen verkoop wat op ʼn skip hier opdaag – ongeag sy tekortkominge. Selfs ek soek een!

Die reeks lyk só:

Enkelkajuit:
Toyota Land Cruiser 79 4.0 petrol handratR765 500
Toyota Land Cruiser 79 4.2 diesel handratR829 000
Toyota Land Cruiser 79 2.8 diesel outoR917 100
Toyota Land Cruiser 79 4.5 V8 diesel handratR956 200
Dubbelkajuit:
Toyota Land Cruiser 79 4.0 petrol handratR864 600
Toyota Land Cruiser 79 4.2 diesel handratR920 800
Toyota Land Cruiser 79 2.8 diesel outoR1 009 000
Toyota Land Cruiser 79 4.5 V8 diesel handratR1 039 200
Stasiewa:
Toyota Land Cruiser 79 4.2 diesel handratR900 100
Toyota Land Cruiser 79 2.8 diesel outoR999 900
Toyota Land Cruiser 79 4.5 V8 diesel handratR1 076 800
Toyota Land Cruiser 79 2.8 diesel VX outoSal bevestig word

Die reeks word gedek deur ʼn driejaar/100 000 km-waarborg en ʼn opsionele 100 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grens ·

Ons het al alles die laaste 24 jaar op die plaas probeer, al wat hou en nog steeds bly ry is die Cruisers. Bly maar net die hardste ding wat daar is, maar nie lekker vir die teerpad nie.

andre ·

Dis darem erg dat die LC V8 omtrent 40% van sy enjinkrag in die aandryfstelsel verloor .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.