Groot mylpale vir Ford se Ranger

Ford se splinternuwe Ranger word hier op eie bodem vervaardig in sy spoggerige nuwe aanleg in Silverton. Ons het reeds die 2.0 BiTurbo- en V6-modelle onder hande gehad, maar wat van die enkel- en superkajuit?

Ford se Ranger-reeks sal vanaf Maart in enkelkajuit- en superkajuitmodelle by handelaars beskikbaar wees. Die dubbelkajuit is reeds beskikbaar. Daar is vier enkelkajuitmodelle beskikbaar. Almal loop met Ford se 2.0‑viersilinder‑enkelturbodieselenjin. Dié enjin bied 125 kW en 405 Nm. Daar is twee ratkaste beskikbaar, 6-spoed‑handrat en 6-spoed‑outo. Daar is ʼn 4×2- en 4×4-dryfstelsel beskikbaar – en alle enkelkajuitmodelle is met XL-spesifikasie toegerus.

Die Ranger se superkajuitreeks bestaan uit ses modelle. Vier maak van die enkelturbo-enjin gebruik wat 125 kW en 405 Nm bied, en twee van die 2.0‑dubbelturbodieselenjin wat 154 kW en 500 Nm bied. Weereens gaan die enkelturbo met ʼn 6-spoed‑handrat of outo gepaard, in 4×2- of 4×4-dryfstelsel. Die twee reeksleiers, XLT en Wildtrak, gebruik 2.0‑dubbelturbo, albei gepaard met 10-spoed‑outo en slegs met ʼn 4×4-dryfstelsel beskikbaar.

Die jongste Ford Ranger-onderstel is ongelooflik verfynd. Die enjin-ratkas‑kombinasies is perfek gepas en die kalibrasie daarvan is ook uit die boonste rakke. Om jou eie Ranger pas te maak, presies soos jy hom wil hê, sal Ford steeds op die enkelkajuit- en superkajuitmodelle die sewe bykomende pakkette beskikbaar stel.

Die tweede groot mylpaal wat Ford onlangs bereik het, is die begin van uitvoere vanuit Suid-Afrika na meer as 100 markte wêreldwyd. Suid-Afrikaanse Rangers word ook na Europa uitgevoer waar Ranger die leier in die bakkiesegment is.

Ná die R15,8 miljard-belegging in die Silverton-aanleg het Ford nou aptyt vir groot uitvoerkapasiteit, maar hy sal met die nodige owerhede moet saamwerk om vertragings in die hawens en by die spoorweë uit die weg te ruim.

Die enkelkajuitreeks lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 handratR464 200
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 outoR477 800
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 handratR531 300
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 outoR545 000

Die superkajuitreeks lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 handratR485 400
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 outoR499 900
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 outoR542 900
Ford Ranger 2.0 SiT XLT 4×2 outoR547 100
Ford Ranger 2.0 BiT XLT 4×4 outoR688 900
Ford Ranger 2.0 BiT Wildtrak 4×4 outoR772 800

Die reekse word gedek deur ʼn vier jaar/120 000 km-waarborg. Diensplanne is bykomend beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Geen betrokkenheid van die ANC nie, geen korrupte kaders wat uit die trog vreet nie, daarom: Sukses. O ja, van die mees gevorderde robotika help ook seker.

Harley Davidson ·

Baie mooi en goed toegerus maar dit bly ‘n Ford.

Vonkprop ·

Ek is bly sekere fabrikate erken hulle foute en verbeter op dit. Ford is ‘n goeie voorbeeld wat goeie voertuie produseer maar partykeer gesukkel het met kwaliteit. Tussen die nuwe Ranger en Amarok sal ek beslis die Ranger vat. Toyota het baie huiswerk om te doen om die Hilux op gelyke speelvlak te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.