Herenig met Honda se nimlike CB500X

(Foto: Brian Cheyne)

Om te herstel van ʼn groot motorfietsongeluk verander ʼn mens se perspektief. Dit bring jou tot nuwe insigte en dit bring jou spoed ook so ʼn bietjie af. Toe ek jonk was, wou ek alles moontlik doen om my motorfiets so vinnig as moontlik te maak. Nou wil ek gemak hê. Die grootste, vinnigste fiets is nie eens meer op my langlys nie, wat nog te sê van my kortlys. Ek is op soek na avontuur en om te sit en gesels met mense op my reispad.

Ek vind dit dus ironies dat mense wat lang wêreldreise onderneem dit selde doen met motorfietse met Adventure in die naam. Nee, jy sien hulle gewoonlik op staatmaker fietse soos Suzuki se DR of Honda se XR. Selfs die befaamde Noraly Schoenmaker, oftewel Itchyboots, ry op ʼn klein Honda 300 cc fiets Afrika plat. Hulle wil stadiger reis, anders mis jy dalk iets.

(Foto: Beam Productions)

Die laaste jaar of wat het ons ʼn definitiewe skuif in die lesersmark opgemerk. Daar is nog ʼn groep wat wil weet hoe groot die brandstoftenk is en hoeveel krag die enjin lewer, maar artikels oor avonture op motorfietse kry merkbaar meer aftrek. Dit het my laat dink dat ek tog weer moet kyk om my eie motorfiets aan te skaf. Ek is nou al twee jaar tegnies sonder ʼn motorfiets, want uit die aard van my stokperdjie het ek toegang tot enige motorfiets en ek het nie eintlik nodig om een te besit nie.

Tog is daar tye wat ek eerder met my eie storiefiets sou wou ry. Om my bagasie op te sit, die koffiefles vol te maak en te gaan ry tot diep die stilte in. Ek wil my eie bybehore bysit en die fiets pasmaak vir my behoeftes. Tydens ʼn koffie-afspraak met Riaan Fourie van Honda Suid-Afrika het hy genoem dat een van die persfietse (ʼn Honda CB500X) beskikbaar gaan raak, sou ek belangstel. Ek het onmiddellik ja gesê, en daar was heelwat goeie motivering vir my impulsiewe besluit.

(Foto: Brian Cheyne)

Die grootste oorweging was sekerlik die prys. Teen ʼn rapsie meer as R120 000 bied die CB500X ongelooflike waarde vir geld. Die fiets het uitstekende bougehalte, en die enjin behoort my baie sorgvrye kilometers te gee. Die enjin lewer 47 pk en is meer as genoeg vir my tipe toer. Ek hou van rustig ry, om die natuur te geniet en oral langs die pad na mense se stories te luister. Boonop lyk die klein Honda baie goed. Ek was ook gelukkig dat die fiets afgewerk was in my gunstelingkleur vir hierdie model – Pearl Organic Green. Hy was ook reeds toegerus met ʼn paar Honda bybehore soos ʼn groter windskerm, hoofstaander en beskermende pype om die bakpanele op te pas. Dit sou in elk geval op my lysie gewees het, sou ek hierdie fiets nuut gekoop het.

Die vering is topgehalte en pas my rystyl. Die brandstoftenk is ʼn gesonde 17,5 liter, wat my ʼn reikafstand sal gee van meer as wat ek ooit beplan om te ry in een dag. Gepraat van beplan, daar is al twee lang ritte beplan voor Julie, so hierdie Honda en ek gaan mooi stories soek. Ek glo vas dat hierdie die ideale fiets is vir my behoeftes. So as jy, soos ek, dinge rustiger wil vat op ʼn fiets wat genoeg woema het en uiters betroubaar is, dan is die CB500X dalk net wat jy nodig het. Of as jy, soos ek, elke dag opstaan met ʼn nuwe skeet, en jou avontuurfiets raak te swaar vir jou, gaan probeer gerus die CB500X. Hy verras jou dalk net.

(Foto: Brian Cheyne)

Hou maar gerus Maroela Media dop vir waar ek die CB500X heen gaan reis in die maande wat voorlê!

Vir meer inligting oor die CB500X, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.