Hierdie middelgewig is gebou vir avontuur

Die sêding “nuut en verbeter” het my nog altyd gepla. As jy ’n bestaande produk verbeter, dan is dit mos nie nuut nie. Hoe dit ook al sy, Honda se verbeterde CB500X is pas in Suid-Afrika bekendgestel, en omdat die vorige model nie plaaslik beskikbaar was nie, tel dit as nuut. So, in hierdie geval kan ʼn mens seker die sêding korrek gebruik.

Die 250 cc‑ tot 500 cc‑marksegment was nou al geruime tyd doodstil. In die derde kwartaal van 2022 het hierdie segment vir die eerste keer in vier jaar groei getoon. Kom ons hoop dat dit ’n opwaartse tendens is. Bo 500 cc het Honda twee baie goeie verkopers in die NC750X en die Africa Twin. Nou het Honda ook ’n volwaardige mededinger in die onder-500 cc‑segment.

Die oorspronklike CB500X is in 2013 in Europa bekendgestel en het in 2016 ’n groot opdatering gekry. ’n Groter brandstoftenk, LED-ligte en beter windbeskerming. Die model wat nou plaaslik beskikbaar is, is die heel nuutste weergawe met nog ’n rits verbeteringe.

Honda het duidelik die stilering van die NC gebruik as inspirasie en die CB500X het ook ’n driehoekige voorlig met ’n klein lippie, net soos die NC. Die klein CB500X is ’n baie aantreklike fiets. Vir die bekendstelling van die CB500X het Honda ons na ADA se uitstekende fasiliteite genooi om die nuweling te kom beproef. Omdat ons nou al verskeie bekendstellings daar bygewoon het, het ons almal bespiegel watter teerpadroetes ons sou ry. Selfs met sy 19”‑voorwiel het ons steeds nie gedink ons sou ons te ver van die teer bevind nie. Niks kon ons egter voorberei vir hoe diep ons in die boendoes sou inry nie.

Tydens die bekendstelling was daar ook ’n paar van die modelle wat reeds met verskeie van Honda se bybehore toegerus was. Daar is doelgemaakte bagasieruimte, kolligte en beskermende rame alreeds beskikbaar om jou CB goed toe te rus vir enige avontuur. Honda se fietse is tradisioneel rooi en wit, maar die nuwe groen kleur is verreweg die mooiste. Die staan bekend as Pearl Organic Green en almal daar was dit eens dat dit die kleur is om te kies. Die fiets is ook in swart beskikbaar. Een klein negatiewe merkie teen die fiets is die vloeikristalinstrumentasie. Dit vertoon goed op die foto’s, maar in direkte sonlig het die skerm nie genoeg kontras nie en raak dit moeilik om te lees.

Na ’n kort aanbieding is ons almal gevra om ’n fiets te kies en vir Riaan Fourie van Honda te volg. Ons was skaars weg uit ADA se terrein toe ons afdraai op iets wat ek hoogstens as ’n voetpad sou beskryf. Na drie dae se deurdringende reën was die paadjie amper onbegaanbaar te voet, om nie eers te praat van op ’n motorfiets nie. Ek het gou besef ek en die fiets gaan baie vuil word. Na so ʼn paar modderplasse moes ons teen ’n baie steil klipperige bult uitry. Wonderbaarlik het die kleine Honda met bande wat glad nie vir hierdie terrein geskik is nie, dit veilig tot bo op die koppie gemaak. Hier kon ons die uitsig inneem en waardeer wat die CB500X pas deurgemaak het. Die lae saalhoogte en die enjin wat sy krag op lae toere lewer, het grootliks hiertoe bygedra.

Die enjin is ’n 471 cc‑parallel-tweesilinder en lewer 35 kW teen 8 600 rpm. Op papier klink dit nie juis na veel nie, maar die Honda se verrigting op die oop pad was lewendig. Die fiets versnel goed, maar het tog teen ʼn hoë spoed uitasem geraak. Om ’n voertuig verby te steek, verg toewyding en so ʼn tikkie geloof. Die ryposisie is baie gemaklik, en die saal bied genoeg ondersteuning. Ek sal maklik baie ure in die saal kan deurbring. Die SHOWA-vering op die nuweling is uitstekend en jy kan draaie met vertroue aanpak.

Teen R119 999 is die prys ook reg. Hy ding met kleinerkapasiteitfietse soos die BMW G 310 GS en KTM se 390 Adventure mee en troef albei met sy groter enjin. Die CB500X sal ’n ideale eerste avontuurfiets maak. Dit is ’n fantastiese klein fiets en ek kan nie wag om nog tyd op hom deur te bring nie!

Die feite:

Enjinkapasiteit471 cc‑parallel-twee
Gewig (Droog)155 kg
Kraglewering35 kW @ 8 600 rpm
Wringkrag43 Nm @ 6 500 rpm
Tenkkapasiteit17,5 ℓ
Saalhoogte830 mm
PrysR 119 999

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie nice ek het n GS 1250 en n harley die GS is moeilik hanteerbaar op stadige spoed met n moeilike pad en hierdie ou sal idiaal wees om albei te vervang ,grap net nooit die harley nie maar die 1250 definitief.

SjN ·

Honda se African twin is n volwaardige mededinger in sy klas, die buksie Bmw G 310 Gs hanteer baie lekker en is lig maar het nie die poeiers van die GS 1200 as jy dit soek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.