Hoës in motorbedryf begin waarsku

Die Toyota-aanleg in Prospecton. (Argieffoto ter illustrasie: Verskaf)

Ná verskeie berigte die afgelope paar weke oor Thomas Schäfer, voormalige besturende direkteur van Volkswagen Suid-Afrika en nou bedryfshoof van Volkswagen, se opmerkings oor die volhoubaarheid van die motorvervaardigingsreus se aanleg in die Baai, het Schäfer aangedui dat Volkswagen hom nie aan Suid-Afrika gaan onttrek nie.

Die bespiegeling het egter gevaarligte laat flikker.

By ʼn onlangse motorbekendstelling is Neale Hill, besturende direkteur van Ford Suid-Afrika en president van Ford Afrika, gepols vir kommentaar. Hy het gesê hoewel Ford pas weer groot beleggings in Suid-Afrika aangekondig het, dit toenemend moeilik word om Suid-Afrika as mededinger voor te hou teenoor fabrieke elders ter wêreld waar regerings twee sleutelfaktore kan waarborg: krag en verskepingsnetwerke wat funksioneer.

Suid-Afrika kan tans nie een van die twee vir enige van die groot motorvervaardigers in die land waarborg nie.

Die spoorvragvervoersektor steier en groot probleme word by sommige hawens ondervind. Die gevolg is dat Ford sy onderdele moes laat invlieg omdat die produksielyn nie kan stop nie.

Ford het minstens ʼn beter waarborg teen beurtkrag as Volkswagen – en dit al wat Volkswagen vra.

Volkswagen, Isuzu en Ford se Struandale enjin-aanleg sit almal in die Baai. Die drie saam gebruik ongeveer 10% van Gqebera (Port Elizabeth) se krag. Omdat daar nie waarborge gebied kan word nie, moes Volkswagen ten duurste kragopwekkers (teen sowat R130 miljoen) vir die volgende twee jaar huur.

Die vrees bestaan nou oor die kwessie of die skrif aan die muur is vir die plaaslike vervaardigingsbedryf. Suid-Afrika het sewe motorvervaardigers in Suid-Afrika: BMW, Nissan en Ford in Pretoria, Toyota in Durban, Mercedes-Benz in Oos-Londen en Volkswagen en Isuzu in PE.

Nog kommer is dat dit reeds te laat is om spoordienste en die kragvoorsieningsnetwerk voldoende op te knap om dié vervaardigers in staat te stel om te verseker geld wat oor die volgende vyf jaar bestee word, kom na Suid-Afrika.

Indien Australië enigsins ʼn voorbeeld is – dié land se motorbedryf het oornag ineengestort. ʼn Duur werksmag, ʼn klein plaaslike motorbedryf en groot uitvoerkoste in Australië het dié land se bedryf geknou omdat dit goedkoper was om voertuie elders te bou.

Kommer heers dat dieselfde lot Suid-Afrika kan tref.

Die algehele motorbedryf dra ongeveer 5,5% by tot die land se BPP.

Volkswagen wil volgende jaar 160 000 Polo’s hier vervaardig. Dit is 800 000 bande wat hy by Continental of Goodyear kan aankoop – maatskappye wat ook ʼn tuiste in die Baai het. Ford vervaardig 200 000 Rangers en Amarok-voertuie in Pretoria. Dit is ʼn miljoen voertuigbande. Volgende jaar sal Ford en Volkswagen gesamentlik ongeveer 360 000 windskerms benodig. Shatterprufe se een fabriek is ook in Gqeberha en die ander in Rosslyn, naby dié van BMW en Nissan.

Saam voer die sewe vervaardigers jaarliks ongeveer 500 000 voertuie uit. Dit is 2,5 miljoen bande; 500 000 windskerms; 500 000 harnasse; minstens 1,5 miljoen sitplekke – met alles wat plaaslik vervaardig word.

Die gevolge van selfs een vervaardiger wat onttrek word dus as haas ondenkbaar bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Die feit dat VW en Ford die regering blameer vir hulle swak finansiele resultate is net gedeeltelik waar. VWAG en VWSA het hulle oorspronklike beleid van people’s cars verloor deur daardie unieke band te breek met bogemiddelde prys verhogings en upselling. Ons het dit self ervaar waar die handelaar ‘n voertuig aan jou sal verkoop en dan upselling toepas deur byprodukte saam die voertuig te verkoop. Bykomende goed soos Cover Plus, krediet lewensversekering, dent repair, onderhouds planne, diensplanne. Al hierdie toevoegings jaag die krediet op tot maklik R80K. Twee jaar later is die aflos op die kar te hoog, die onderhoudsplan en diensplan het verval, cover plus het geen nut. Al wat oorbly is dent repair en krediet lewensversekering, dit beteken ook niks want jy moet eers doodgaan om voordeel te trek. In plaas van om elke 2 jaar ‘n nuwe kar te koop kan die persoon nou eers elke 4 jaar koop.

Kokerboom ·

Ekonomiese optrede teen die verwoestende effek van ANC wanbestuur was nog nooit nodiger as nou. Tyd het uitgeloop!Dankie vir info MM!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.