Husqvarna se nuwe wêreldreisiger

Die Husqvarna Norden het groot opslae gemaak toe dit die eerste keer as konsep in 2019 by die EICMA-skou in Milaan verskyn het.

Die produksieweergawe is aan die einde van 2021 bekend gestel en het as die Norden 901 bekend gestaan. Ek het die Norden 901 gery tot diep in Kaapsehoop se bosse en was baie beïndruk. Alhoewel hy grootliks op die KTM 890 gebaseer is, het Husqvarna dit tog reggekry om ’n baie unieke motorfiets te skep. Vir 2023 het Husqvarna ’n hardebaardweergawe van die Norden bekendgestel: die Norden 901 Expedition.

Om te verseker dat die Norden 901 Expedition die rofste terrein kan baasraak, is hy met WP XPLOR-vering toegerus. Teenoor die standaard‑Norden bied dit 20 mm meer reikafstand op die voorvurke en 25 mm meer agter. Die vering is ten volle verstelbaar om dit haarfyn te kan instel vir jou persoonlike voorkeure en rystyl. Soos dit ’n ware avontuurfiets betaam, kom die Expedition met binnebandlose speekwiele.

Baie van die opsionele bybehore van die Norden is standaardtoerusting op die Expedition. Vir daardie koue oggende sal die verhitte grepe en verhitte saal baie welkom wees. Die Expedition het ook die groter toerwindskerm wat wind om die motorfiets gelei, veral teen hoër snelhede. Dit behoort lang ente in die saal minder uitputtend te maak.

Daar is ook ’n swaardiens‑ beskermende plaat om die enjin teen die terrein te beskerm. Die Expedition het ook ’n hoofstaander as standaard om onderhoud van die ketting te vergemaklik. Dit is ook handig as jy ’n pap wiel moet regmaak en dit is een item wat op alle avontuurfietse behoort te wees. Die Expedition bied selfs ’n bagasie‑oplossing as standaard. Die twee sagte kanttasse integreer perfek met die bakwerk en bied tot 36 liter se stoorkapasiteit. Snelskakeling is ook standaardtoerusting.

Die enjin bly onveranderd en is steeds ’n 889 cc‑parallel-twee‑eenheid wat 105 pk en 100 Nm‑wringkrag lewer. Dit sorg vir gladde, egalige kraglewering, wat baie help in tegniese terrein. Die fiets bied vier ritmodusse, naamlik Street, Rain, Offroad en Explorer. In Explorer‑modus het die tolbeheer nege vlakke van verstelling. Dit verseker dat elke ryer, ongeag sy vermoë, ’n verstelling kan kies wat sy eie rystyl pas.

Husqvarna bied selfs ’n uitgebreide klerereeks wat bekend staan as die Functional Apparel Collection. Dit bied die hoogste vlakke van beskerming, funksionaliteit en gerief.

Die Norden 901 Expedition word later hierdie maand plaaslik bekend gestel en ons behoort dan meer te weet oor die prys en wanneer die fiets by handelaars beskikbaar sal wees.

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.