Hyundai se ‘bakkie met ʼn dakkie’

Deur Bernie Hellberg Jr

Verbeel jou dit is amper weer vakansietyd. Die kinders is gelaai, en fietse, tasse en allerlei is aan boord, gereed vir die lang pad. “Sand, see en son, hier kom ons!”

Só gaan dit bykans elke skoolvakansie met duisende gesinne wat hul dubbelkajuit-ryding se neus in die rigting van ʼn gunstelingbestemming draai, en dan die pad vat.

Behalwe, in ons storie, is daar g’n Hilux of Amarok ter sprake nie. Nee, ons gesin het vir hulle eerder die nuwe Hyundai Staria Multicab aangeskaf en maggies, is hulle beïndruk!

Vir dié wat nog nie van die Staria te hore gekom het nie – dit is Hyundai se vervanging van sy gewilde H1-bussie wat verlede jaar hier die lig gesien het. Nóú het Hyundai ook ʼn vyfsitplek weergawe van dié futuristiese wa bekendgestel. Nie net volg hy dieselfde formule as die Staria wat rygenot en passasierspasie betref nie, maar is die Multicab ook ʼn meerdoelige vervoeroplossing vir gesinne sowel as klein ondernemings. Amper soos ʼn bakkie, maar met ʼn dakkie, én baie meer spasie!

Die Multicab se natuurlike mededingers is nie regtig bakkies nie, maar eerder die VW Transporter en Toyota se Quantum Crew-bus. Dat daar egter ʼn mark bestaan vir gesinne en ondernemings wat eerder ʼn bus-tipe oplossing wil oorweeg as hul volgende kopie is nie allermins nie.

Die Staria Multicab lyk genadiglik nie soos ʼn paneelwa nie. Inteendeel, dit is moeilik om hom op die oog af van sy bussie-boetie te onderskei. Slegs agter, waar die Multicab oopswaaideure het, verskil hy van die “gewone” Staria met sy luikrug.

Anders as sy mededingers is daar nie staalpanele heel agter waar vensters hoort nie, en op die koop toe bied Hyundai die Multicab met dieselfde spesifikasievlak aan as die intreevlak Staria Executive, wat beteken dat hy (onder meer) netjiese sierwiele het wat nie sal afsteek by duurder opsies nie.

Die Multicab-kajuit lyk amper so byderwets soos die kar se ruimtetuig-dop, en al die nodige katoeters is ingesluit by sy prys. Die lekker groot raakskerm gee toegang tot Apple CarPlay- of Android Auto-tegnologie, en onder hom sit die knoppies wat die klimaatfunksie beheer, asook ʼn slimfoonherlaaier. Ek is ʼn voorstander van minimalistiese dog funksionele ontwerp, en die Staria het dit in oorvloed. Boonop is sy sitplekke (oortrek met kunsleer) heerlik gemaklik. Aangesien die Staria heelwat breër is as die uitgaande H1, sit selfs drie volwassenes agter met gemak. Die kajuit is met ʼn afskorting van die laai-spasie afgesonder, wat óók daarvoor sorg dat die Multicab nie soos ʼn paneelwa voel nie.

Natuurlik is die massiewe kattebakspasie waar die Staria Multicab bo alle mededingers uittroon. Met ʼn allemintige 2 890 liter tot jou beskikking, is daar omtrent niks wat by die huis hoef agter te bly wanneer die langpad voorlê nie, en kan jy met ʼn geruste hart weet jou besittings kan veilig toegesluit word.

Oor die algemeen hou ek baie van ʼn bussie aangesien ek met VW Kombi’s grootgeword het en net goeie herinneringe van hulle oorhou. Die Staria Multicab neem die bussie-konsep na ʼn nuwe, meer praktiese vlak, wat hom perfek maak vir ʼn nuwe geslag koper wat méér as net ʼn gesinsryding nodig het.

Die Staria Multicab lyk só:

Hyundai Staria 2.2D Multicab130 kW/430 NmR759 900

Die Staria Multicab het as standaard ʼn sewe jaar/200 000 km-waarborg, padbystand vir sewe jaar of 150 000 km, en ʼn ses jaar-/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Brakanjan ·

Ek dink julle is bietjie uit “sync” uit met nuwe voertuig pryse. Is duur, maar in lyn met ander voertuie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.