Ineos vind sy SA wortels

(Foto: Brendon Staniforth)

Ineos, die chemiese maatskappy verantwoordelik vir die gewilde Grenadier 4×4, het uiteindelik sy hoofkantoor vir die Afrika-streek in Kaapstad ingerig.

Die maatskappy het in 2017 gesê hulle gaan ʼn hardebaard‑4×4 bou. Heelwat mense het in hul moue gelag, maar ondanks die Covid-19-pandemie en vele ander uitdagings, is die Grenadier vervaardig – en Ineos het reeds voertuie aan kliënte begin aflewer.

By hul spogkantoor in die V&A Waterfront in Kaapstad sit die gewilde helistop aan die een kant en Ineos se fantastiese 4×4‑hindernisbaan aan die ander kant. Hier neem instrukteurs kliënte op toetsritte om te sien presies waartoe ʼn Grenadier in staat is.

Die storie word vertel dat toe die president van Kenia se suster uitvind van die bekendstelling in Suid-Afrika, het sy in Nairobi in haar Grenadier geklim en ná nege dae – en 5 200 km – in Kaapstad aangeland! Dít is die kern van Grenadier.

Die hele doel van die voertuig was om ʼn geen nonsens, hardebaard‑ontdekkingsvoertuig te wees.

Ineos Grenadier se storie gaan egter van nou af ʼn bietjie begin. Die vervaardiging van die Grenadier‑dubbelkajuitbakkie, die Quartermaster, is reeds aangekondig. Produksie van dié voertuig begin vroeg in November en aflewerings sal kort daarna begin. ʼn Pasgemaakte onderstelkajuit (chassis cab)‑weergawe van die Quartermaster is ook reeds in beplanning, wat gemaak sal word volgens kliënte se spesifieke behoeftes.

Ineos Automotive se volgende model word reeds beplan. Effens kleiner as die Grenadier – met ʼn elektriese dryfstelsel. Daar rits ook reeds ʼn waterstof-aangedrewe weergawe van die Grenadier rond. Hiermee wys Ineos dat hy tot enige iets in staat is, ongeag die beperkings in laai-infrastruktuur, of hervulling van waterstof. Lynn, die uitvoerende hoof van Ineos Automotive, sê dat Ineos elke aandrywingsmetode sal ondersoek en ontwikkel. Elektriese aandrywing is dalk realisties in Londen se middestad, maar beslis nie in die Kalahari nie.

Ek vra vir George Ratcliffe, kommersiële direkteur van Ineos Automotive, hoe bestellings vergelyk met die getal voertuie wat aanvanklik beplan is. Hy verseker my die getal bestellings wat hulle ontvang het, sonder dat party kliënte eers ʼn oog op die Grenadier gelê het, was verstommend. “Om die tevredenheid te sien wanneer daardie kliënte aflewering in ontvangs neem, is indrukwekkend,” sê Ratcliffe.

By die bekendstelling van die Grenadier in Skotland in Januarie vanjaar, gesels ek en Tim Abbott, hoof van Ineos Automotive Suid-Afrika. Daar is een stukkie van die legkaart wat ons nog nie geplaas het nie. Die Ineos is só vervaardig om uiters betroubaar te wees – en sonder oortollige blikbreine wat die voertuig gestrand sal laat. Net tyd sou leer – en amper ʼn jaar het nou verby gegaan.

Ek druk Lynn vir inligting. “Maatskappye het ʼn getal waarop hulle werk. Foute per eenduisend voertuie vervaardig. Ek weet Ford Thailand se teiken op Ranger is agt per duisend. Kan jy vir my julle getal gee, en hoe naby kom julle noudat die data begin terugkom?” Lynn antwoord: “Ons het reeds ongeveer 4 500 voertuie geregistreer en omtrent ses maande se data waarop ons werk. Ons is bitter naby aan 10 foute per duisend, presies waar ons wil wees. Ons kon boonop ʼn reuseverbetering in ons nuutste sagteware maak en het dit reeds begin uitrol. Die meeste van die voertuie is ook reeds terugontvang om die nuwe sagteware te installeer en terugvoer wat ons van ons kliënte kry, is dat hulle 100% tevrede is.”

Daarmee kan ek nie stry nie. Dit lyk my Ineos voeg die daad by die woord en vestig diep wortels in Suid-Afrika. Alu-Cab, Howling Moon en Front Runner het reeds fantastiese produkte beskikbaar vir die Grenadier, bo en behalwe wat Ineos reeds in hul katalogus beskikbaar het. Ineos het onlangs Kavango Engineering in Botswana gekoop, nou bekend as Ineos Kavango, met die oog op die ombouing van Ineos as wildbesigtigingsvoertuie.

Abbott het reeds twee liefdadigheidsorganisasies nadergehark, wat volstoom deur Ineos ondersteun word. Die een is die Tracker Academy en die ander is die Rhino Orphanage. Albei organisasies doen uitmuntende werk in die voorkoming van renosterstropery en ook die rehabilitasie en versorging van jong renosters wat hul ouers weens stropery verloor het.

Ineos het groot planne, en as die afgelope vyf jaar ʼn aanduiding is van hoe hulle dinge doen, sien ek uit na hul toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.