Is die Franse bekend vir luuksheid?

Dekades lank, veral toe ek grootgeword het, was Duitse handelsmerke soos BMW en Mercedes-Benz bekend vir hul luuksheid. Audi het ook later bygekom en Peugeot het onlangs ʼn paar sesse geslaan.

Die nuwe 3008 is ʼn pragvoertuig. Die ontwerp is kraakvars en bitter mooi nes sy 2008-kleinboet. Die luuksheid van die binneruim is egter dít wat die 3008 van die 2008 onderskei en sy meerderwaardigheid beaam. Ons het onlangs die topmodel, die GT, onder hande gehad.

ʼn Reusesondak, pragtige Nappa-leer-sitplekke wat elektries verstelbaar en verhit is, hoëdefinisie- digitale instrumente, houtinsetsels en bougehalte wat tot die Duitsers sal laat bloos van trots is ʼn fantastiese verrassing in dié Peugeot.

Kyk, ek gaan nie skroom om te sê dat Peugeot ʼn moeilike geskiedenis in Suid-Afrika agter die rug het nie. Wat my wel opgewonde maak, is dat hy nou deel is van Stellantis wat ook Citroën, Opel, Alfa Romeo, Fiat en Jeep in Suid-Afrika besit.

Die 3008 word deur ʼn turboaangejaagde 1.6-viersilinderpetrolenjin aangedryf wat 121 kW en 240 Nm bied. Die enjin gaan gepaard met ʼn 6-spoed- outomatiese ratkas; 0–100 km/h neem 8,9 sekondes en hy sal 201 km/h voluit haal. Nie sleg nie. Dít terwyl hy 7 l/100 km kan handhaaf met die gekombineerde siklus.

Op die pad blink die 3008 verder uit. Die lieflike sitplekke en soepel rit laat dit voel of ʼn mens in ʼn heerlike kokonnetjie toegevou word. Om ʼn mens veilig te hou is daar ses lugsakke, sluitweerremme met remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer, asook noodremhulp.

Is die 3008 dan perfek? Amper. Ek het twee goggatjies wat pla. Ek kan net nie aan die klein stuurwieletjie gewoond raak nie, en die skakelaars op die paneelbord wat baie funksies beheer, is vir my nie vreeslik gebruikersvriendelik nie, maar verder is die 3008 ʼn lieflike voertuig.

Indien jy in die mark is vir ʼn luukse C-segment-sportnuts, moet jy asseblief beslis die 3008 toetsbestuur.

Die reeks lyk só:

Peugeot 3008 1.6T Active121 kW/240 Nm7 l/100 kmR514 900
Peugeot 3008 1.6T Allure121 kW/240 Nm7 l/100 kmR574 900
Peugeot 3008 1.6T GT121 kW/240 Nm7 l/100 kmR644 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Haval H6 2.0T 4WD Super Luxury150 kW/320 Nmn/b5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/60 000 km- diensplan

R514 900
Subaru Forester 2.5i-S ES136 kW/239 Nm8.3 l/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/75 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R629 000
Toyota Rav4 2.5 AWD VX152 kW/243 Nm7.3 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6-dienste-diensplan

R634 700
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110kW R-Line110 kW/250 Nm7.7 l/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R644 500
Kia Sportage 2.0 CRDi EX Plus131 kW/400 Nm6.3 l/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R644 995
BMW X1 sDrive18i103 kW/220 Nm6.3 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R645 934
Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera140 kW/450 Nm5.7 l/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R686 200
Hyundai Tucson 2.0D Elite Sport150 kW/460 Nm7.9 l/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R751 500
Honda CR-V 1.5T Exclusive AWD140 kW/240 Nm7 l/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R773 100

Die segment bars uit sy nate met opsies. Ek’t nog nie Haval se nuwe H6 gery nie, maar hoor dit is ʼn fantastiese verbetering op die ou model. Die Subaru en Toyota bied vierwielaandrywing teen ʼn goeie prys. Die Mazda is effens duur, maar die Hyundai en Honda is buitensporig. Maak vir jou ʼn kortlys en toetsbestuur almal, een gaan met jou hart praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Die prys is hoog, veral vir ‘n maak wat nog nooit, behalwe in die 80’s met die 405, goed in SA gevaar het nie. Jy bring so ‘n kar sowat 10 tot 15% goedkoper in. Verloor ‘n bietjie geld, maar bou jou handelsmerk op. Dis waar die Chinese sin maak, en die Koreaane het dit ook gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.