Is diesel die beste vir sleep?

Ek het my karavaan nou al met verskeie voertuie gesleep. Ek het altyd gesê diesel is die antwoord te danke aan die sterk wringkrag. Dit is egter ʼn sessilinder-turbodiesel wat die kroon span, indien mens dit kan bekostig.

Ek moet egter nou my woorde terugtrek nadat ek onlangs met twee petrolvoertuie gesleep het. Albei Land Rovers. Die eerste een was ʼn P400 Defender met ʼn 3.0 turboaangejaagde sessilinder. Die enjin bied 294 kW en 550 Nm. Dit het soos ʼn droom gesleep!

Die tweede een is eintlik ietwat van ʼn grap. Ek het my arme 1992 Sprite SuperSport agter ʼn Range Rover Sport Carbon gehaak. Die Rangie word aangedryf deur ʼn 5.0 superaangejaagde V8. Dit bied 423 kW en 700 Nm. Dit is waarskynlik genoeg krag om die fabriek waarin die Land Rover gebou word te sleep!

Wat verbasend was, is die brandstofverbruik. Ja, ek sleep deesdae slegs teen 100 km/h. Dit is beter vir my karavaan – hy is oud, en is gebou om lig te wees; so hy het nie al die groot versterkings in die onderstel wat die nuwes het nie. As jy te vinnig sleep, ruk en pluk die karavaan eenvoudig later uitmekaar uit. Teen 100 km/h het die Range Rover ʼn fantastiese 12,2 l/100 km gebruik, mét die wa aan.

Daar is egter nog ʼn funksie van die twee Land Rovers wat my uitgeboul het met hul sleepvermoë. Dit is lugvering. Die lugvering sleep werklik stabiel, en jy voel werklik bitter min skud terug van die wa af. Die stelsel maak die karavaan of sleepwa ook self gelyk ná jy hom gehaak het.

Ek was effens benoud om met die Range Rover te sleep. Ek’t gedink hy gaan by die 25 l/100 km nodig hê om die karavaan te trek. Dit is eenvoudig onwaar. Die ander voordeel van ʼn lekker sterk V8 is verbysteek. As jy ʼn gaping in die verkeer wil gaps, trap ʼn mens net so halfpad jou voet en die hele sleepsel brul moeiteloos in die gaatjie in.

Die Carbon is geskoei op Range Rover se Sport SVR. Hy’t ʼn paar plakkertjies op, rensitplekke en bitter mooi liggewig sierwiele. Soos met Jaguar se F-Type Coupé is daar waarskynlik geen enjin behalwe dalk Mercedes se AMG’s wat só mooi klink nie. Dit help ook dat jy in ʼn oogwink jou bestemming haal, uitgerus en met geen swaarder brandstofverbruik as met die meeste diesels nie.

As ʼn mens eers jou bestemming bereik het en die karavaan afhaak, kan die Carbon 100 km/h haal in 4,5 sekondes en hy sal aanhou snol tot 283 km/h. Indien jy nie só haastig is nie en daar lê ʼn bergreeks tussen jou en jou volgende bestemming, skakel jy die Range Rover eenvoudig in sy hoogste stelling op die vering, skakel die ratkas na laestrek en jy’s in ʼn verskriklik bekwame veldryvoertuig. Dit is moeilik om aan ʼn ander voertuig te dink wat amper 300 km/h kan ry, laestrek-4×4 het én 3 000 kg kan sleep asof dit niks is nie.

Die reeks lyk só:

Range Rover Sport SE TDV6190 kW/600 Nm7,8 l/100 kmR1 429 956
Range Rover Sport HSE Silver TDV6190 kW/600 Nm7,8 l/100 kmR1 589 456
Range Rover Sport HSE TDV6190 kW/600 Nm7,8 l/100 kmR1 589 456
Range Rover Sport HST P400294 kW/550 Nm9,2 l/100 kmR1 890 884
Range Rover Sport HSE Silver P400e297 kW/640 +e Nm2,8 l/100 kmR1 892 700
Range Rover Sport HSE Dynamic Black P400e297 kW/640 +e Nm2,8 l/100 kmR1 930 700
Range Rover Sport HSE Dynamic Supercharged386 kW/625 Nm12,8 l/100 kmR2 026 762
Range Rover Sport HSE Dynamic Black Supercharged386 kW/625 Nm12,8 l/100 kmR2 050 562
Range Rover Sport SVR423 kW/700 Nm12,8 l/100 kmR2 654 862
Range Rover Sport SVR Carbon Edition423 kW/700 Nm12,8 l/100 kmR2 858 462

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mercedes-AMG G63430 kW/850 Nm13,1 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplanR3 366 480

Daar is ander mededingers in dié segment soos BMW se X5M, Mercedes-AMG se GLE 63, Porsche se Cayenne Turbo en Audi se RS Q8. Nie een van daai het laestrek nie; ek het hulle dus uitgelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

RS ·

Werklik nou nie n voertuig vir sleep of kamp nie….eerder blingbling fliek en restaurant toe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.