Is elektriese voertuie regtig die oplossing vir SA?

Ek is erg oor elektriese voertuie – ek hou van die tegnologie en ek hou van hoe hulle ry – maar die nuutste e-tron laat my besluiteloos.

Ons het onlangs die Audi e-tron Sportback 55 quattro S line onder hande gehad. Dit is ʼn D-segment‑sportnutsvoertuig met vierwielaandrywing. Aan die ontwerpkant is dit werklik ʼn mooi voertuig. Die “spieëltjies” wat net sulke armpies is wat kameras huisves, trek ongelooflik aandag.

Die binneruim is werklik luuks – die materiale is puik en die bouwerk van ʼn hoogstaande gehalte. Die ergonomie is lieflik en die drie digitale skerms werk puik om elke denkbare brokkie inligting vir jou mooi uit te beeld. Ek hou nie van megafters soos die spieëltjiekamera nie. Ek kry dit eenvoudig nie goed genoeg gestel om mooi langs of agter die kar, óf die blindekol te kan sien nie.

Onder die kap sit elektroniese motors wat 300 kW en 664 Nm bied. Werklik genoeg. Van 0‑100 km/h neem ʼn ratse 5,7 sekondes, en hy sal 200 km/h voluit snol. Audi maak aanspraak op ʼn reikafstand van tussen 369 en 440 km. Ek het baie oop pad gery tydens ons toets, so nader aan 300 km was meer in die kol vir dié toets. Dit is nogal swaar op krag. Ek het 29,2 kWh/100 km gehandhaaf. Swaar teenoor die 22,8 kWh/100 km wat ek in ʼn Porsche Taycan kon handhaaf.

Op die pad toer die e‑tron soos ʼn droom. Die vering is indrukwekkend sag, al het die e‑tron op enorme 22”‑wiele geloop. Die padhouvermoë is in die kol en beter as wat ʼn mens van enige sportnutsvoertuig sal benodig.

Ek is mal oor die e‑tron, maar ek glo nie dit is die beste oplossing in Suid-Afrika teen dié prys nie. Die argument van reikafstandangs is nie vir my geldig nie aangesien klante sterk laaiers in hul motorhuise gratis geïnstalleer kry. Op daai laaier sal dit nie langer as agt uur neem om die voertuig vol te laai van leeg af nie. Die openbare infrastruktuur begin ook baie sterk word. Maar vir dieselfde geld, kan jy ʼn hibriede Porsche Cayenne koop, met dieselfde spasie, dieselfde bougehalte en soortgelyke krag, maar met die voordeel van ʼn binnebrandenjin en ʼn 75 ℓ-brandstoftenk. Met só ʼn voertuig kry jy die voordeel van tussen 23 en 44 km op slegs elektriese krag in die stad, en 75 ℓ se brandstof om te gebruik op die oop pad – en die hele laaiproses vry te spring.

Ek dink dus hibriede voertuie is ’n beter oplossing in Suid-Afrika as volle elektriese voertuie. Bygesê, dit is gedeeltelik ons regering se skuld. Dié e‑tron kos waarskynlik nader aan R1 miljoen op Europese markte, maar ons regering belas elektriese voertuie meer as binnebrandvoertuie in Suid-Afrika. Ongeveer 48% van dié voertuig se prys, sal belasting wees.

As ons die e‑tron met sy direkte mededingers vergelyk, is die gehalte en krag daar, maar die ander twee, Jaguar se i-Pace en BMW iX, het ’n beter reikafstand. Die BMW s’n is in ʼn ander klas tussen 549 en 630 km.

Die reeks lyk só:

Audi e-tron 55 quattro Advanced300 kW/664 Nm369‑440 km95 kWhR1 990 000
Audi e-tron 55 quattro S line300 kW/664 Nm369‑440 km95 kWhR2 045 000
Audi e-tron Sportback 55 quattro S line300 kW/664 Nm372‑453 km95 kWhR2 115 000
Audi e-tron S Sportback quattro370 kW/973 Nm347-378 km95 kWhR2 425 000

Die voertuig word gedek deur ʼn een jaar/onbeperkte km-waarborg en agt jaar/160 000 km-batterywaarborg sowel as ʼn vyf jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Porsche Cayenne E-Hybrid240 kW/700 Nm23‑44 km slegs elektries17,9 kWh

75 ℓ‑petrol

R2 019 000
BMW iX xDrive50385 kW/765 Nm549‑630 km111 kWhR2 175 000
Jaguar i-Pace EV400 AWD S Black294 kW/696 Nm470 km90 kWhR2 209 800
Porsche Taycan 4 Cross Turismo350 kW/500 Nm389‑456 km93,4 kWhR2 546 000

Indien jy verskeie voertuie het, en kan hou, is ʼn elektriese voertuig werklik fantasties. Dan moet jy beslis na die Audi, BMW, Jaguar en Porsche Taycan kyk. Ek dink egter indien jy een produk soek om aan al jou behoeftes te voldoen, is die hibriede Cayenne dalk die beste oplossing. Gaan toetsbestuur wel almal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jean ·

SA se oplossing is ‘n ander regering, dan sal die elektriese karre vanself kom.

andre ·

Die meeste Suid Afrikaners kan nie eers n huis in die R2milj prysklas bekostig nie.
Hibriede voertuie maak meer sin ,ook prysgewys soos die Corolla en Corolla Cross

VaalDonkie ·

R2m is R20 000 per maand oor 20 jaar onder normale rentekoerse. En R50 000 per maand oor 60 maande vir ‘n motor. Selfs al kon ek, sou ek eerder net R50 000 ekstra per maan in my huislening insit en my 15 jaar oue Subaru nog ‘n paar jaar ry.

Barend ·

48% Belasting vir eleltriese voertuie? Hulle is dan nie rêrig ernstig met hul sogenaamde klimaatverandering stories nie.

VaalDonkie ·

Ek het nie daai klas geld nie. Min mense het. Ek kannie eens sien hoe ek R300 000 vir ‘n motor moet opdok nie. Ek het nog nooit meer as R120 000 betaal nie en kan en sal ook nie.

SjN ·

Hou in berekening die koste van n kragopwekker om die motor te laai aangesien eskom nie in staat is om te volhou nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.