Jeep stel vyfsitplek-Grand Cherokee bekend

Verskillende handelsmerke word met verskillende tipes voertuie vereenselwig en so word ʼn Jeep nog altyd as ʼn veldryvoertuig met ernstige 4×4-vernuf gesien.

Ons het die jongste Jeep Grand Cherokee onlangs onder hande gehad, en ek sou stry dat dié meneer eerder aan sy luukse rygemak op die oop pad geken moet word as sy veldryvernuf.

Ons het verlede jaar ook die bekendstelling van die Grand Cherokee L bygewoon. ʼn Luukse en reuse-sewesitplekvoertuig wat ek as gevolg van sy lang asafstand nie noodwendig as ʼn onverskrokke ontdekkingsreisiger sou gebruik nie.

Die nuwe vyfsitplek met sy korter asafstand is vir my meer van ʼn veldryvoertuig as die L-model met ʼn derde ry sitplekke.

Die ontwerp is netjies, en kenmerkend Jeep. Dit is egter in die binneruim waar ʼn mens ʼn baie luukser tuiste vind as wat jy in ʼn hardebaard 4×4 sou verwag. Pragtige leersitplekke en tegnologie soos ʼn raakskerm wat slegs vir die voorste passasier bedoel is en wat só vertoon dat nét dié persoon dit kan sien om nie die bestuurder se aandag af te trek nie. Saam met dié raakskerms het die Jeep ʼn fantastiese McIntosh-klankstesel met 19 luidsprekers.

Onder die kap sit Jeep se indrukwekkende 3.6 Pentastar V6-enjin wat 210 kW en 344 Nm bied. Die enjin is gekoppel aan ʼn 8-spoed outomatiese ratkas wat krag aan al vier wiele stoot deur ʼn laestrekoordragratkas. Die intreemodel in die reeks het nie die laestrekratkas nie.

Op die teer slaan die Grand Cherokee ʼn mens uit die veld. Hy ry soos ʼn droom – lieflik stil en gemaklik. Selfs verbasend goed op brandstof teen 8,6 ℓ/100 km op die oop pad teen ʼn konstante 120 km/h op die spoedkontrole. Ritgehalte is puik, en padhouvermoë in die kol vir só ʼn groot meneer.

Dis egter in die veldry-afdeling waar die Jeep my effens verloor. Ek het vreeslik gesukkel om ʼn lekker egalige ritme met hom te kry. Ek kan nog nie besluit of dit die ratkas- en versnellerkalibrasie is, of die verskeie rymodusse se sagteware, óf die atmosferiese petrolenjin nie. Party dieselaangedrewe 4×4’s laai mooi sterk teen die wringkragomsitter en sodra ʼn mens jou voet van die rempedaal afhaal in laestrek kruip die voertuig heel sterk vorentoe teen ʼn baie lae spoed. In die Jeep is ʼn mens heeltyd op die versneller, en as jy oor die hindernis kom en daar nie weerstand is nie, dan is die spoed té hoog.

Aan die veiligheidskant is daar ʼn magdom veiligheidstelsels, aktief en passief, om jou veilig te hou. Aktiewe stelsels sluit funksies soos baandwaalwaarskuwing, botsingwaarksuwing met noodremhulp en 360 grade kameras in. Aan die passiewe kant is funksionaliteit soos sluitweerremme en ʼn magdom lugsakke.

Ek sal die Jeep Grand Cherokee só opsom: Dit is ʼn pragtige alternatief in die luukse sportnutsegment. Dié enjin is bekend om sy betroubaarheid én is heelwat meer ekonomies as wat ʼn mens dink. Die bougehalte is goed én jy kry ʼn werklik veelsydige voertuig. Ongelukkig as gevolg van ons lae brandstofgehalte kry ons nie die dieselenjins wat in ander markte beskikbaar is nie, en ek dink dit sal verkope van die Grand Cherokee in Suid-Afrika kniehalter.

Die reeks lyk só:

Jeep Grand Cherokee Limited 3.6 4×4 outoR1 329 900
Jeep Grand Cherokee Overland 3.6 4×4 outoR1 539 900
Jeep Grand Cherokee Summit Reserve 3.6 4×4 outoR1 735 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die Jeep deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.