Kaalfiets sonder tierlantyntjies

Die meeste motorfietsryers, myself ingesluit, is maar net gemiddelde ryers. Ons wil ons motorfietse geniet vir die vryheid en opwinding wat dit bied en ons wil nie noodwendig elke Saterdag in ’n leerpak om ’n baan gaan jaag en baanrekords laat spat nie.

Ek weet nie of dit maar net ek is wat ouer word nie, maar ek soek ’n fiets wat ek kan aanwend om daagliks te pendel. As ek myself egter wel op die kronkelpad tussen Sabie en Hazyview bevind, dan moet die fiets darem goed genoeg wees sodat ek die kronkels terdeë kan geniet. Ek dink ek het daardie fiets gekry: die Suzuki GSX-8S.

Suzuki het onlangs ’n splinternuwe 776 cc‑parallel-twee‑enjin bekendgestel en daarmee saam twee nuwe motorfietse: die DL800 DE en die 8S. Ek het reeds die DL800 DE onder hande gehad, en ek was uiters beïndruk met die nuwe kragbron. Die fietse is heeltemal nuut en is nie net ’n tegniese opgradering van ’n ouer model nie. Die middelgewig-kaalfietsmark is baie gewild in Europa, en Suzuki het sy mededinger, die 8S, ook in die ring gegooi. Suzuki is bekend vir legendariese fietse soos die Hayabusa en die GSX-R 1000, maar nie juis vir kaalfietse nie. Die 8S het dus ʼn bietjie laat in die mark gekom, maar is beslis nie ’n minderwaardige produk nie.

Die 8S is regtig ’n mooi fiets. Suzuki het sy kleurskemas reggekry en die betrokke model wat ons onder hande gehad het, was afgewerk in wit met blou aksente. Die lyne van die fiets is ook redelik aggressief, en Suzuki het goeie werk gemaak van die hooflig. Dit bevat twee LED-projektorligte in ’n aantreklike omhulsel. Die agterent stop bo die agterwiel, en ek wens hulle kon wegkom sonder daai yslike aanhangsel, maar ons het tog flikkers en ’n nommerplaat nodig.

Die saal is breed en bied genoegsame ondersteuning, selfs vir langer ritte. Die 14 ℓ-brandstoftenk is besonder nou waar jou bene moet raak, en dit sal korter ryers help om hulle voete makliker op die grond te kry. Voor jou is ʼn volkleur‑TFT-skermpie. Die nuwe eenheid is helder en duidelik en bevat al die nodige inligting, logies uiteengesit.

Die enjin is sonder twyfel wat jou die meeste gaan beïndruk van die 8S. Die enjin loop seepglad, en het genoegsame wringkrag vir entoesiastiese ryery. Selfs al ploeter jy in stadsverkeer, sal jy nie teleurgesteld wees nie. Die 8S raak ook nie uitasem as die toere begin klim nie. Inteendeel, hy raak net beter! Die snelskakeling werk ook seepglad. Sou jy nou en dan jouself wel op ’n baan begewe, kan jy maar die krane vol oopdraai en heeldag in die boonste toere rondspeel. Dit is trouens ’n Suzuki. Hom breek jy nie maklik nie.

Die 8S het nie verstelbare vering en allerlei fieterjasies nie. Dit is ’n motorfiets vir die gewone ryer. Tog voel die fiets stabiel in enige draai en kronkel, wat net bevestig dat Suzuki die fiets goed opgestel het. Gesoute baanryers sal dalk iets hê om oor te kla, maar vir die meeste van ons is die beperking ons eie vermoë.

Suzuki het ongekende verkoopsyfers behaal die afgelope paar maande, en met produkte soos die GSX 8S behoort sy motorfietsverkoopsyfers ook te groei.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.