Suzuki DL800 DE – Splinternuwe fiets vir jou volgende avontuur

(Foto: Brian Cheyne)

Ek was in 2003 in ’n redelik ernstige motorfietsongeluk betrokke, en ek was oortuig dat my sorgvrye motorfietsdae verby was. Penne en skroewe het gesorg dat my bene weer herstel het, maar my liefde vir motorfietsry het nooit gaan lê nie.

Hierdie week, 12 jaar gelede, het ek weer vir my ’n valhelm gekoop. Kort daarna koop ek vir my ’n Suzuki DL650 V-Strom. Saam het ek en hierdie fiets die land deurkruis, van Haenertsburg tot Swaziland. Van Sani tot Katsedam. Van Die Hel tot in Paternoster en alles tussenin. Hierdie fiets het my verander in ’n storieverteller. Oor die jare is daar nuwe weergawes van die DL650 uitgebring, maar die veranderinge was meestal kosmeties en die fietse het meganies feitlik dieselfde gebly.

Nou is daar ’n splinternuwe weergawe bekend gestel wat wegbreek van die bekende resep en ’n nuwe rigting inslaan. Dit bly die geestelike opvolger vir die V-Strom, maar doen hy genoeg om weer die avontuur in my te laat vlamvat?

Die heel grootste verandering aan die nuwe fiets is die feit dat Suzuki wegbeweeg het van die V-twee‑enjin. In sy plek is daar nou ’n nuutontwikkelde 776 cc‑parallel-twee. Die enjin lewer 62 kW, en klink byna net soos die V-twee danksy die volgorde van die ontbrandingsiklus. Met die nuwe enjinkonfigurasie kon Suzuki die hele raam herontwerp, en die nuwe DL is nie net ’n kosmetiese opgradering nie, maar ’n splinternuwe fiets.

Die vorige V-Strom was hoogstens gebou vir goeie grondpaaie maar die nuwe een is gebou met rowwer paaie in gedagte. Die voorwiel is nou ʼn 21”-speekwiel, en het binnebande. Jy kan dus maar die vellings buig sonder dat jy gestrand sal wees. Die brandstoftenk hou 20 liter, en dit behoort genoeg te wees vir die meeste avontuurritte.

Die nuwe DL is toegerus met die nuutste elektronika en die ryer kan self kies hoeveel traksiebeheer, krag en sluitwering hy wil hê. Die DL het ook ’n Gravel-modus wat jou toelaat om die agterwiel te laat tol, maar jou steeds onder die wakende oog van die elektronika hou. Sluitwering kan afgeskakel word op die agterwiel, en die traksiebeheer kan ook heeltemal afgeskakel word. Snelskakeling is standaard.

Die nuwe DL het ’n helder TFT-skerm en bied koppeling met jou slimfoon. Dit is ’n groot verbetering op die vloeikristaleenheid van die vorige model. Daar is ook ’n USB-sok aan die kant van die instrumentepaneel om jou foon mee te laai.

Die ryposisie is heerlik neutraal met breë handvatsels en ek het dadelik tuis gevoel. Die DL is uiters gemaklik om lang paaie aan te durf, maar die enjin steel die kollig. Die enjin is vry van irriterende vibrasies en trek begeesterd. Dit was selde vir my nodig om na ’n laer rat te moes skakel om voertuie verby te gaan. Ek sou daarvan gehou het as die DL spoedkontrole gehad het, veral op daardie lang, vervelige teerpaaie. Dit is egter as die teerpad ophou dat die nuwe Strom in sy element is. Hier is waar hy hoort en waar hy heeldag kan ry.

Die nuwe DL is in elke opsig ’n groot verbetering op die fiets wat ek leer ken het. Ek sien uit om vroeg in die nuwe jaar ʼn bietjie meer tyd met hom deur te bring en nuwe avonture te gaan soek. As jy in die mark is vir ’n middelslag‑avontuurfiets, het jy baie keuses, maar die Suzuki verdien ’n toetsrit. Dit is ’n eerlike fiets en hy sal kan kers vashou by enige van sy mededingers.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Ek het laasjaar die 1050 V strom gekoop en geniet die fiets verskriklik. Eerlik ek dink die 800 sou eintlik nog lekkerder algeheel gewees het omrede mens nie altyd al die krag nodig het nie. Dit bly waarde vir geld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.