Kawasaki Z900 – Beproefde middelgewig  

(Foto: Brian Cheyne)

Die Suid-Afrikaanse motorfietsmark word oorheers deur avontuurfietse, juis vanweë die infrastruktuur in ons land. Net sowat 30% van alle paaie in ons land is geteer en teen die huidige tempo van verval kan hierdie syfer nog verder krimp. Daarmee saam is ons stede en dorpe ver uitmekaar. In teenstelling is Europese dorpe heelwat nader aan mekaar en natuurlik is hulle paaie ook in ’n baie beter toestand as hier. Daar is kaalfietse soos die Kawasaki Z900 uiters populêr.

As motorfietsjoernalis het ek die besondere voorreg om baie fietse te beproef, en toe Kawasaki my skakel om te hoor of ek weer die Z900 wil toetsbestuur, het ek dadelik ingestem. Hoewel ek al voorheen met die fiets gery het, bly dit die één fiets wat altyd êrens in my topvyf opduik. Dit is net die eenvoud van die Z, en die kombinasie van die regop ryposisie en daardie gladde viersilinder wat die ryervaring so spesiaal maak.

Die fiets vertoon uiters aggressief en is geïnspireer deur wat Kawasaki noem “Sugomi”-stilering. Die ontwerp kom al ’n lang pad, maar dit bly ’n aantreklike fiets. Kawasaki het nou ook die raam groen geverf soos sy groot boetie, die Z H2. Die enjin is steeds die 948 cc inlyn viersilinder en dit lewer 92 Kw. Die elektronika sorg dat die enjin mooi in toom gehou word en bied drie ryprogramme: Rain, Road en Sport. Rain beperk die enjin se krag, so as jy die eerste keer op ’n grootkapasiteit fiets klim, kan ek jou aanraai om hier te begin.

Die ryposisie is uiters gemaklik met breë handvatsels wat jou regop op die fiets plaas.  Die passasiersitplek lyk klein en is baie hoog, maar hierdie fiets is nie vir ’n 1 000 km rit met jou wederhelf nie. Nee, dit is, en bly, ’n stadsjapie met ’n parmantige streek. Veral as jy hom is sy Sport-program sit.

Die TFT-skerm is dieselfde as op meeste van Kawasaki se nuwe modelle en is uiters volledig. Jy kan ook jou foon aan die fiets koppel en met Kawasaki se Rideology-toepassing kan jy heelwat funksies monitor.

Die fiets hanteer goed en reageer amper telepaties. Draaie word eenvoudig ’n geringe verandering van rigting. Daar is oorgenoeg krag en jy kan sy topspoed beproef mits jy baie sterk arms het om vas te hou. Die klein skermpie is meer vir afwerking as praktiese waarde. In hierdie klas is daar fietse wat dalk beter verrigting het as die Z900, maar dan boet hulle weer in op prys. Teen R 165 995 bied die Kawasaki steeds uitstekende waarde vir geld.

(Foto: Brian Cheyne)

Daar staan geskrywe: “Beproef alle dinge;  behou die goeie.” Ek dink Kawasaki het nou op die punt gekom met die Z900 dat hulle amper niks meer kan beproef om dit beter te maak nie. Miskien kort die fiets net Kawasaki se uiters goeie snelskakeling, dan is hy daar. Sommige fietse gee ek met ’n swaar hart terug, en die Z900 is beslis een van hulle.

Die feite:

Enjinkapasiteit948 cc
Gewig (Nat)212 kg
Kraglewering92,2 kW @ 9 500 rpm
Wringkrag98,6 Nm @ 7 700 rpm
Tenkkapasiteit17 ℓ
Saalhoogte820 mm
PrysR165 995

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.