Lekker ryding, ten spyte van alles  

Renault se Koleos het elke denkbare uitdaging. Eerstens het Renault se reputasie ʼn enorme knou weg in Suid-Afrika in die vroeë 2000’s – ʼn reputasie vir onbetroubaarheid wat hy steeds sukkel om af te skud. Tweedens, in ʼn tyd waarin almal óf turbos óf hibriede dryfstelsels bied, ploeter die Koleos nog voort met ʼn atmosferiese 2,5-viersilinderpetrolenjin… die hoofbestanddeel vir afgryslike brandstofverbruik. Laastens is die 2,5-enjin gekoppel aan ʼn CVT-palwisseltransmissie! Eina. Maar eintlik nie. Kom ek verduidelik hoekom.

Renault se Koleos het ʼn netjiese ontwerp. Nie uitspattig nie, maar ook nie doodvervelig nie… eerder volwasse en in die kol, aan die konserwatiewe kant. Mooi. Die binneruim is lekker ruim, en die materiale van ʼn goeie, duursame gehalte.

Die kajuit is ergonomies uitgelê en meeste funksies vind ʼn mens vinnig binne bereik. Selfs die leerbekleedsel op die sitplekke voel van ʼn luukse gehalte. Die raakskerminligtingstelsel in die middel van die paneelbord is seker oukei, maar ek persoonlik sukkel om hom te werk. Ek hou nie van al die funksies binne ʼn raakskerm bêre nie – dis frustrerend. Indien die kar in trurat is kan ʼn mens byvoorbeeld nie uit die truratkamera gaan om die radiostasie te verander nie… sulke klein foefies wat beter kan werk.

Renault, Nissan en Mitsubishi vorm deel van een alliansie. Die 2,5 -iersilinderenjin onder die kap vind sy wortels in Nissan se stal. Die enjin bied 126 kW en 233 Nm. Nie te versmaai nie. Die eerste weergawes van dié enjin wat ons gesien het in die Xtrail van ouds met sy 4-spoed outo ratkas was horribaal swaar op brandstof. Dié een met sy CVT-ratkas is eintlik heel lig op sous , solank ʼn mens net saggies met hom werk.

Op die pad is die ritgehalte heel goed. Ek sou dit self ʼn skraps sagter wou gehad het, maar teenoor baie van die nuwe voertuie is die ritgehalte in die kol. Padhouvermoë is amper nie meer ʼn vraag as dit kom by moderne voertuie nie. Behalwe vir Renault se Kwid, Datsun se Go en dalk Suzuki se S-Presso is daar eintlik nie een kar wat sleg hanteer nie. Wat in Koleos se guns tel is sy vierwielaandrywingstelsel. Waar die pad eindig, of ʼn mens met ʼn bietjie sand of modder opgeskeep sit, gaan die viertrekstelsel wondere verrig.

Die Koleos spog met ʼn sterk veiligheidsuite. Renault was nog altyd bitter veilige voertuie, en die Koleos is dieselfde. Ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap en stabiliteitsbeheer is alles daar om jou veilig te hou.

Ek sal die Koleos só opsom: Teen sy mededingers is hy nie sleg geprys nie. Dié spesifieke enjin het nie probleme nie, en palwisseltransmissies is heel betroubaar. Omdat die Koleos nie uiters gewild is nie, is hy ook nie gewild onder die boewe nie – en deesdae tel dit vir baie!

Die reeks lyk só:

Renault Koleos 2.5 DynamiqueR584 999
Renault Koleos 2.5 Dynamique 4WDR634 999

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8,3 ℓ/100 km3 jaar/150 000 km waarborg

6 jaar/90 000 km diensplan

R674 900
Toyota Rav4 2.5 Hybrid GX-R E-Four163 kW/221 +e Nm4,8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km batterywaarborg

6 dienste diensplan

R698 700
Subaru Forester 2.5i-S ES136 kW/239 Nm8,3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/75 000 km diensplan

R708 000
Mazda CX-5 2.5 AWD Individual143 kW/258 Nm7,3 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km waarborg en diensplanR729 500
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8,3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R795 900
Honda CR-V 1.5T Exclusive AWD140 kW/240 Nm7,1 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km waarborg

5 Jaar/90 000 km diensplan

R818 700

Tussen die mededingers is die hybrid Toyota waarskynlik die sterkste mededinger – veral as ʼn mens sy brandstofverbruik in ag neem, en sy rateltaai betroubaarheid. Die Subaru Forester is selfs ʼn puik kar – met een van die beste viertrekstelsels hier. Die Mazda raak nou oud, en die Honda en Volkswagen bitter duur. Ek het spesfiek slegs vierwielaangedrewe mededingers gekies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.