Luukse toerfiets vir die langpad

(Foto: Wes Reyneke)

Ek het in Desember verlede jaar die besondere voorreg gehad om met twee grotes van BMW saam met ’n goeie vriend deur die Wes-Kaap te ry. Dit was hierdie twee fietse wat my opinie oor die R18 begin verander het. Sien, ek het die R18 nie veel lof toegeswaai nie, maar die Transcontinental het vir my meer sin gemaak. BMW het weer die Transcontinental by my kom los en ek het gewonder hoe hy sou vaar as my alledaagse fiets.

Die BMW R18 Transcontinental het nie net ’n groot naam nie, die fiets is ook groot. Baie groot. Ek moes my motorhuis mooi rondskuif dat daar steeds twee karre en my eie motorfiets binne kon staan. Die systaander gee jou ook elke keer ’n hartstilstand as jy die fiets parkeer, want hy kry sy staan presies op daai “O gaats!”‑oomblik. Om te help om die fiets rond te skuif, het die R18 darem ’n tru-rat ook, maar die fiets bly ’n handvol.

Die Transcontinental vertoon uiters elegant en ek kan vir BMW ’n pluimpie gee vir hul aandag aan die kleinste stukkie detail. Daar is groot hoeveelhede chroom oral, en die swart verf met die fyn wit aksentstrepies komplementeer dit goed.

(Foto: Verskaf)

Die R18‑fietse verkondig groot op die instrumente dat hy “Berlin built” is. Daar is nie kortpaaie gevat nie en elke stukkie van die fiets voel solied en duursaam. BMW het hier en daar aan die Transcontinental verander om dit meer geskik vir toer te maak. Alhoewel dit dieselfde bande op het as die standaard R18, het BMW die raam verander om die asafstand korter, en die hoek waarteen die voorvurke monteer, groter te maak. Die vering het ook heelwat meer reik as op die standaard R18. Die brandstoftenk neem 24 liter, wat dit ideaal vir lang afstande maak. Bo-op die brandstoftenk is daar ook ’n klein paneelkissie waar jy jou selfoon kan bêre.

In die stad is die groot BMW behoorlik ’n handvol. Ek was na my haarkapper en hy wou dadelik ’n foto van homself op die fiets hê. Hy is maar ’n skraal mannetjie en kon eenvoudig nie die 427 kg‑fiets van die systaander af kry nie. Hierdie is dus beslis nie ’n fiets vir beginners nie. Om in Menlyn se parkade kort te draai, was net so ʼn uitdaging.

(Foto: Verskaf)

Om ’n passasier se opinie te kry, het ek ’n vriend gevra dat hy ’n ent gaan ry met sy vrou agterop. Sy was in haar noppies met die gemakstoel agter, maar die wind het haar kop behoorlik rondgeskud. Die skerm van die R18 is nie verstelbaar nie en my vriend het ook gekla dat die skerm op so ʼn hoogte sit dat hy nie kon besluit of hy deur of oor die skerm moet kyk nie. Ek weet BMW kan vir jou ’n langer skerm opsit, maar ek voel die skerm moet eerder verstelbaar wees. Die bagasieruimte van die fiets is ook nie waffers nie en met die klankstelsel wat in die fiets is, vreet dit nóg bagasiespasie op. Tog dink ek daar is meer as genoeg pakplek vir twee mense se bagasie vir ’n langnaweek weg.

(Foto: Wes Reyneke)

Een van die mees bruikbare kenmerke van die yslike fiets is die aanpasbare spoedbeheer. Ek het hierdie stelsel feitlik die heel tyd gebruik. Jy stel die spoedbeheer op die spoedgrens, maar as karre voor jou stadiger ry, dan pas die fiets self sy spoed aan. Dit werk uiters goed, en ek het ervaar dat die fiets partykeer voor my reageer.

Daar is ’n sêding wat lui: “Almal is ’n genie. Maar as jy ’n vis oordeel aan sy vermoë om boom te klim, gaan hy vir altyd dink hy is dwaas.” En dit is vir my die BMW Transcontinental. As ’n alledaagse rondritsfiets is hy hopeloos te lomp. Jy gaan hom ook nie Saterdae baan toe vat nie. Maar dit is nie waarop jy hom moet oordeel nie. As die pad oop voor jou lê en jy het ’n duisend kilometer om af te lê, dan is die Transcontinental perfek. Die sitplek is uiters gemaklik, en met die spoedbeheer aan, kan jy letterlik aanhou ry tot jy moet brandstof ingooi of tot die pad voor jou opraak. As luukse langafstandtoerfiets het hy min gelyke.

Klik hier vir produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ek het al die gewone R18 vir n spin gevat. Dit was vet pret. My persoonlike keuse is die R18 Classic, in rooi.

capie ·

Met die BMW se prys op R450 000 en die Goldwing op R526 000 wil ek graag weet hoe vergelyk die twee fietse,

Brian ·

Die Goldwing is baie meer modern en veral hul DCT ratkas is ongelooflik. Sy bagasie tassies is ook maar piepklein, so dit sal baie afhang van jou persoonlike keuse. Hou jy van die retro ontwerp of iets modern. Albei sal die langpad baie kort maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.