Mazda hou by sy resep

Verskeie vervaardigers reg oor die wêreld ontwikkel ʼn produk om met ʼn mededinger se produk mee te ding. Veral die Duitsers maak hul hieraan skuldig. ʼn Mens kan ʼn Audi, BMW en Mercedes-Benz uitsoek wat presies dieselfde krag, 0 – 100 km/h tyd en brandstofverbruik het. Dan kry mens ander wat ʼn baan kies en getrou aan hul eie visie bly… Mazda is so ʼn handelsmerk.

Mazda het beslis ʼn Japannese invloed, want hulle is een nasie wat steeds vasklou aan atmosferiese enjins in stede van turbo’s en hulle glo vas in die palwisseltransmissie – al is die publiek nie gaande daaroor nie. Hulle bly  by die beginsel dat ʼn CVT eenvoudig die beste brandstofverbruik kan bied.

Die Mazda CX-3 is ʼn klein juweel. Ek sê spesifiek klein, want dit is ʼn kompakte buksie wat die bestuurder in ʼn lekker ervaring toevou. Waar ander vervaardigers al ewig groter word, en altyd meer spasie wil bied, bly die CX-3 getrou aan die kruismodelresep. Dit is ʼn klein luikrug wat effens meer regop is om ʼn sportnutsgevoel te gee. Die ontwerp is netjies en hou by Mazda se KODO-ontwerptaal.

Aan die binneruim is die CX-3 lekker luuks. Die ontwerp is eenvoudig, maar uiters stylvol. Die bestuursposisie is perfek vir my, en die kajuit vou om die drywer, soos dit hoort.

Al die funksies is maklik bereikbaar, te danke aan die ergonomiese uitleg. Die inligtingstelsel sluit nou Apple CarPlay en Android Auto in – ʼn aanwins vir Mazda se reeds puik stelsel.

Die 2.0-viersilinderpetrolenjin in die CX-3 is beslis ʼn lekkerder kragbron as die 1.5 wat in die Mazda 2 beskikbaar is. Die 115 kW en 206 Nm is lekker sterk en sal die CX-3 100 km/h laat haal in 9,5 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn behoorlike 197 km/h. Al kwaal is dat die 2.0 effens brul, en by dié voertuig sal ʼn stiller enjin beslis beter pas en bydra tot die luukse gevoel. Die goeie brandstofverbruik teen 6,7 ℓ/100 km vergoed egter daarvoor.

Op die pad ry die CX-3 regtig lekker. Die vering is soepel genoeg sodat hy nie ongemaklik voel nie, maar wel goeie padhouvermoë kan bied. Die Mazda is met ses lugsakke, ABS, EBD, remhulp, vastrap- en stabiliteitsbeheer toegerus – dit verseker dat jou reistog veilig bly. ʼn Lekker funksie op die CX-3 is die kop-op-vertoon (HUD) wat verseker dat jy jou oë ten alle tye op die pad kan hou.

Dit is bitter maklik om die CX-3 op te som. Dit is ʼn lieflike buksie, maar bied egter beperkte spasie. Indien jy op soek is na ʼn ruim gesinsmotor – soek elders. Dit is ʼn produk van puik gehalte, en Mazda se diensplan en waarborg is baie aantreklik vir diegene wat jaarliks baie kilo’s ry. Vir diegene wat nie ʼn groot kar soek nie, is die CX-3 puik… dis net sy prys wat begin wild voel.

Die reeks lyk só:

Mazda CX-3 2.0 Active115 kW/206 Nm6,9 ℓ/100 kmR346 700
Mazda CX-3 2.0 outo115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 kmR366 500
Mazda CX-3 2.0 Dynamic115 kW/206 Nm6,6 ℓ/100 kmR379 000
Mazda CX-3 2.0 Dynamic outo115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 kmR392 900
Mazda CX-3 2.0 Individual115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 kmR450 900
Mazda CX-3 2.0 Hikari115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 kmR469 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/onbeperkte km-diensplan en waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Renault Captur 88 kW turbo Dynamic outo88 kW/190 Nm5,4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R374 900
Opel Crossland X 1.2 Turbo Enjoy outo81 kW/205 Nm5,4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R378 000
Ford EcoSport 1.0T Titanium outo92 kW/170 Nm6,3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R393 600
Citroën C3 Aircross 1.2T Shine81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R399 900
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm5,5 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R449 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Verstaan die CX-30 is selfs nog beter as die CX-3. Maar nie beskikbaar in SA.

Stof ·

Is daar regtig nie ‘n handrat model beskikbaar nie?
Sou dit so wees, verloor hulle mos die grootste deel van die potensiele klante?

Hendrik ·

Wel Europa gaan elektries en van 2030 is daar nuwe regulasies in 5 Europese lande , Duitsland inkluis, dat alle nuwe voertuie wat gekoop word elektries moet wees. Die beweging in die ooste is baie stadig en selfs Toyota wat wou waterstof pad wou gaan as alternatief het die program gelos.

Kombiman ·

Die CX30 is laasweek bekend gestel. Ek doen gemiddeld 5000km per maand op my CX3 (2017 model en staan tans op 170000 probleemvrye kms) my volgende voertuig is defnitief weer n Mazda CX3 of CX30. Al baie ander voertuie toets bestuur maar hy bly tops in sy klas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.