Mening: Ons laat dié kinders in die steek

Die Rally 2 Read- opvoedkundige trust beywer hom al meer as twee dekades lank vir die verspreiding van boeke en ander opvoedkundige materiaal by skole in kwesbare gebiede. (Foto: Brendon Staniforth/Maroela Media)

Maroela Media berig gereeld oor moedertaalonderrig.

En in die Afrikaanse gemeenskap word daar deurlopend hard geveg vir die behoud van gehalte onderwys en beheerliggame en ouergemeenskappe se noue betrokkenheid daarby.

Tog is daar soveel kinders in skole wat eenvoudig in die steek gelaat word.

Ford Suid-Afrika is al vir ʼn wyle betrokke by ʼn program genaamd Rally 2 Read. Dié opvoedkundige trust beywer hom al meer as twee dekades lank vir die verspreiding van boeke en ander opvoedkundige materiaal by skole in kwesbare gebiede.

Weens die regering se mislukkings gryp korporatiewe Suid-Afrika toenemend in en help hulle om ingevolge uitgebreide maatskaplike verantwoordelikheidsprogramme te red (wat daar nog te redde is) en basiese dienste aan veral armer en meer kwesbare gemeenskappe te lewer.

As deel van die Rally 2 Read-veldtog besoek ons onder meer ʼn laerskool in Motherwell, ʼn woongebied in Gqeberha (Port Elizabeth). Daar is op die oog af nie ʼn enkele heel vensterruit nie. En ook nie enige deure nie.

Een van die laerskool se departementshoofde spreek ons toe en bedank Ford en die Rally-program vir die boeke wat aan die skool geskenk word. Die departementshoof gee ook konteks aan die daaglikse stryd wat skole soos dié teen misdaad en geweld in die gebied moet voer.

Hoe op aarde kan dit ʼn werklikheid by ʼn laerskool wees?

Slegs die administrasiegebou by dié skool het elektrisiteit. Die drade is gesteel. Al die gloeilampe ook. En die WiFi wat die departement voorsien het, het lankal voete gekry.

Die deure is afgesteel, glo deur inwoners van ʼn nuwe nedersetting net oor die bult van die skool. Ons hoor rillerstories. Onderwysers van die skool, met die hulp van inwoners, het afgesit na die nedersetting om hul deure te gaan terugeis maar is met ʼn kwalik bedekte dreigement begroet: “Vat julle deure, maar sou julle dit doen, brand ons vanaand die ganse skool tot op die grond af. Dan is daar niks …”

Ek is stomgeslaan. Waar is die polisie? Waar is die Tintswalo’s waarvan pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede praat? Waar kom die hulp vandaan?

Dit bestaan dalk iewers; iewers vir ʼn klein groepie Suid-Afrikaners in die land se spogbuurte. Maar in Motherwell? Hier is dit moeilik om te sien, dít kan ek jou verseker.

Geweld en uiterste wetteloosheid ten spyt is dit vanjaar die derde keer dat Ford dié program in die Oos-Kaap aanbied. Die resultate is tasbaar.

ʼn Gr. 5-leerder, wat twee jaar gelede kwalik kon lees, lewer ʼn pragtige aanbieding aan die afvaardiging – met die Rally 2 Read-program wat ʼn reusebydrae tot dié vordering gemaak het.

Danksy die program kry leerders se leesvaardighede ‘n geweldige huptstoot. (Foto: Brendon Staniforth/Maroela Media)

Dudu Nxele, korporatiewe kommunikasiebeampte by Ford, benadruk: “Dit voel asof dit nog steeds te min is, asof dit nie ʼn verskil maak nie. So hoekom dan die moeite doen?

Dit is eenvoudig: elke bietjie help.

“As jy ʼn verskil in een kind se lewe kan maak, is dit die moeite werd – ongeag hoe klein daardie verskil is.”

Ek hoor haar en ek stem heelhartig saam. Maar ek is ook hartseer. En ek is kwaad. Woedend. Dit mag mos nie.

Daar ís geld, maar miljarde daarvan word gebuit en in die koffers van skurke gestop wat die land se kinders van hul toekoms stroop.

Die lot van dié kinders, 30 jaar ná die aanvang van die demokrasie, mag mos nie nou só uitsien nie?

Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, en Willem van de Putte, motorjoernalis van Independent Media, help van die talle bokse met boeke (en balle) aandra. (Foto: Maroela Media)

Terwyl die onderwysdepartement al hoe meer beheer oor skole wil opeis en besluite uit gemeenskappe se hande probeer neem, wens ek daar was ʼn manier waarop ons elke minister en meeloper kon dwing om klas te draf by dié skole – of hul eie kinders daarheen te stuur … Ek kan jou waarskynlik waarborg dat die situasie blitsvinnig sal verander. Maar hulle doen dit nie. Dáárdie bevoorregtes kyk veels te maklik anderpad.

En hier in Motherwell, oënskynlik vergete deur die regering, is dit maatskappye soos Ford wat die spreekwoordelike ligte help aanhou.

En die boeke en die hoop hierheen bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.