Mercedes-Benz B200: ʼn Regte-egte mamma-motor

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het die Mercedes-Benz B200 toetsbestuur: 

Foto: Verskaf

Met die eerste oogopslag beïndruk die Mercedes-Benz B200 wat in my parkeerplek vir my wag my nie juis nie. Maar ʼn toetsmotor is altyd ʼn lekker ding, so ek laai my skootrekenaar met die nodige entoesiasme in die kattebak en ry om my kinders te gaan oplaai.

Nou moet ek byvoeg dat ek elke dag iewers tussen die kantoor en die huis in my kop ʼn noodsaaklike transformasie maak, van Maroela Media-werknemer na mamma. Teen die tyd dat ek vir Ousus oplaai, is my foon gekoppel met die kar se bluetooth en het ek reeds my ma gebel om ʼn reëling te tref. Die Mercedes se klank is verstommend helder en die oproep het moeiteloos verloop – iets wat dikwels nie die geval is met toetsmotors se bluetooth-funksionaliteit nie.

ʼn Rukkie later laai ons my jongste en ʼn maat op. Die twee seunskinders het heeldag rondgehardloop en geswem, en klim met besige lyfies en klam handdoeke agter in die motor. Terwyl ek aanvanklik gewonder het wat die nut van ʼn sondak in ʼn skynbaar gewonerige motor soos dié Mercedes is, ontdek ek vinnig dat die ekstra ventilasie wat dit bied, nuttig is as ʼn mens seunskinders rondry wat nie noodwendig welriekend vars ruik nie.

Foto: Verskaf

Nou raak dit besig. Soos seunskinders maar is, eksperimenteer hulle gretig met al die funksionaliteite in die motor, en ontdek vinnig-vinnig ʼn hele paar goed waarvoor ek nog nie tyd gehad het nie – sommige daarvan nuttig en ander bloot oulik. My seun is dol oor die gekleurde liggies in die motor se afwerking wat verstel kan word om van kleur te verander – pienk, pers, blou, rooi. Dis subtiel genoeg dat dit nie steurend is nie, maar prettig genoeg om ʼn tienjarige vir ʼn rukkie besig te hou.

Ook die sitplekke, wat aangeskakel kan word om ʼn bietjie te beweeg, is vreemd, maar interessant, en ek reken dis nuttig om jou op die lang pad wakker te hou – ʼn mens skrik nogal as die sitplek jou sonder waarskuwing van agter in die lae rug boks of as die kante skielik knus om jou bobene vou. (Dié funksie is nie ʼn masseer-funksie nie, net ʼn paar verstellings in die sitplek wat nou en dan vanself effens verander en verstel sonder om ongemaklik te raak.)

Foto: Verskaf

Maar kort voor lank ontdek ek ʼn klompie nuttige eienskappe van dié motor wat beslis die besige lewe van ʼn ma aansienlik sal vereenvoudig, ten minste wanneer sy in haar motor is. Die beste hiervan is waarskynlik die twee piepklein muis-beheerpanele op die stuurwiel, een onder elke duim, waarmee die rekenaarskerm van die motor beheer kan word. Vir ʼn ma wat dinge onder haar duim moet hou, is dit fantasties. Ek koppel my foon (nie net die bel-funksionaliteit nie, maar my hele foon) met die motor se rekenaar, en siedaar – my foon en alles daarop is onder my duime terwyl ek bestuur, sonder enige moeite of gevaar.

Die groter muis-beheerpaneel aan die bestuurder se linkerkant is gemaklik bereikbaar en bruikbaar as ʼn mens ʼn groter beheerpaneel verkies, en jou arm rus gemaklik op die armrus in die middel wanneer jy dit gebruik. Die funksionaliteit daarvan is instinktief genoeg dat dit kort voor lank nie nodig is om te kyk wat jy doen nie.

Foto: Verskaf

Vir op- en aflaai van maats met bagasie is daar ʼn knoppie op die bestuurder se deur waarmee die kattebak oop- en toegemaak kan word. Mammas hoef dus nie vroeg soggens in hul pajamas voor die skool uit te spring om die kattebak oop te maak nie – dit kan sommer uit die motor deur die bestuurder oop- en toegemaak word. Binne-in die kattebak se rand is ʼn lekker groot en sigbare nood-stopknoppie wat ʼn kind kan druk indien mamma die kattebak te vinnig op sy kop toemaak.

Die rekenaar is toegerus met ʼn stewige en gebruikersvriendelike navigasiestelsel. Die grootste bonus van dié stelsel is dat dit aanwysings op die ruit voor die bestuurder projekteer, sodat dit nie eens nodig is om links na die rekenaarskerm te kyk wanneer jy die aanwysings wil volg nie – nog ʼn lekkerte as jy kinders na vreemde plekke toe moet rondry. Hiermee saam word die spoedgrens en jou huidige spoed – wat flikker as jy die spoedgrens oorskry – subtiel in die ruit voor jou geprojekteer sonder om steurend te wees.

Foto: Susan Lombaard

Hoe meer ʼn mens met dié skynbaar vervelige motor ry, hoe meer opwindend raak hy. Ek ontdek kort voor lank dat hy lekker krag het, en verbasend lig op brandstof is – nog ʼn voordeel vir ʼn ma wat baie rywerk moet doen. Japie, Maroela Media se kantoorhond, pas gemaklik agter in die kattebak nadat ek die deksel uitgehaal het sodat hy nie die leersitplekke beskadig nie (hoewel hy nie besonder ingenome lyk met sy ryplek in die kattebak nie). Self saam met Japie is daar genoeg plek in die kattebak vir kinders se rugsakke, en nuttige klein rek-mandjies aan beide kante van die kattebak maak seker dat water- en koeldrankbottels regop bly en nie in die motor uitloop nie.

Die motor se veiligheid beïndruk my – natuurlik nog iets wat vir ʼn ma wat kinders rondry onontbeerlik is. Die baanbeheerstelsel sorg dat die motor tussen die strepe op die pad bly as jy oor ʼn sperstreep na ʼn ander baan dwaal wanneer jou aandag verdeeld raak (of bloot nalaat om jou flikker te gebruik). Die eerste keer toe die Mercedes my skielik terugruk na my baan toe ek van baan verwissel sonder om my flikker te gebruik, skrik ek nogal, maar daarna waardeer ek die veiligheidswaarde daarvan. Die spoedgrens van die motor kan ook vasgestel word om te voorkom dat jy te vinnig ry terwyl jy met ʼn kind in die truspieël probeer raas.

Foto: Verskaf

Daar is baie dinge wat die motor outomaties vir jou doen: Die ligte, ʼn waarskuwingsalarm as jy te naby ʼn ander voorwerp kom (met duidelike aanduidings op die rekenaarskerm oor waar presies die gevaar is), deure wat outomaties sluit en die reënsensor op die voorruit. Die motor sluit ook outomaties wanneer jy met die sleutel in jou handsak van hom af wegbeweeg, en sluit weer outomaties oop wanneer jy naby kom en die handvatsel trek indien die sleutel in jou handsak is. Só ry ek vir ʼn week rond sonder om een keer die sleutel in my handsak hoef te soek. Die gevaar hiervan is natuurlik dat jy maklik die sleutel in die kar kan vergeet, as jy gewoond raak daaraan dat jy nie self te hoef te sluit wanneer jy uitklim nie.

Die motor se ratte word beheer met ʼn hefboom regs van die stuurwiel, wat dinge nóg ʼn bietjie makliker maak vir ʼn ma wat haar hande vol het, en die motor skakel vanself oor na parkeer-modus en skakel die handrem outomaties aan wanneer jy die motor afskakel.

Teen die tyd dat ek die Mercedes-Benz B-200 moet teruggee, is ek nogal dikbek. Die motor groei op jou. Dit pas in by die leefstyl van ʼn besige ma met baie hooi op haar vurk, en is naderhand een van daardie geriefies wat aanvanklik soos ʼn luuksheid voel, maar gou-gou ʼn noodsaaklikheid word. ʼn Mens raak lief vir die ding, want dit maak die lewe net soveel makliker.

  • Nota deur Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis:

Mercedes-Benz se B-Klas is ʼn MPV of Multi Purpose Vehicle. Dié baktsyl het in die 2000’s baie gewild geraak, dink aan motors soos Renault se Scenic. MPV’s en sedanmotors is onder geweldige druk van sportnutsvoertuie. Dis ʼn jammerte, want as ʼn mens weer in ʼn MPV of ʼn sedan ry – kom jy agter hoe prakties hulle is, en hoe lekker hulle ry.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz B200 Style120 kW/ 250 Nm5.6 ℓ/ 100 kmR525 900
Mercedes-Benz B200d Style110 kW/ 320 Nm4.5 ℓ/ 100 kmR559 100

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die Mercedes-Benz B-klas het tans nie ʼn direkte mededinger in die mark nie. BMW het hul 2-reeks Active Tourer in SA gestaak. Ford se B-Max, Renault se Scenic en Volkswagen se Golf SV is nie een meer beskikbaar nie. So – as jy van ʼn MPV-mamma-motor hou, is dié beslis ʼn puik opsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Grooot publisiteit gerig op Vader Kersfees… of ‘n geskenkie vanaf die borge… Wie anders as mamma kan so ‘n goeie opstel opdis… sonder poeding vir nagereg nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.