Moto Guzzi V7 Racer – 100 jaar lange erfenis in een motorfiets

(Foto: Brain Cheyne)

Op 15 Maart 1921 is die maatskappy Società Anonima Moto Guzzi gestig. Baie min motorfietsvervaardigers kan hulle daarop roem dat hulle al vir 100 jaar ononderbroke motorfietse vervaardig. Net soos sy Amerikaanse eweknie, Harley-Davidson met sy V-twee-enjins, het Moto Guzzi se unieke enjinuitleg sy uitstaande kenmerk geword.

Die V7 se storie het in 1967 met die V7 700 begin. Die enjin was ’n V-twee-enjin van 757 cc wat dwars in die raam gemonteer was. Oor die jare het Moto Guzzi voortgebou op die V7 en ná meer as 50 jaar verskyn die V7 III. Ek het die voorreg gehad om met hierdie fiets te ry in Moto Guzzi se eeufeesjaar.

Die V7 het verskeie variante en verkoop verbasend goed hier in Suid-Afrika. Italian Motorcycle Importers het onlangs ’n Moto Guzzi-saamtrek gereël en ná hierdie byeenkoms het daar net een model oorgebly van sy voorraad, die V7 Racer. Nie dat dit ’n slegte ding is nie. Van die vier variante verkies ek die voorkoms van die Racer. Die fiets lyk uiters sportief, en was ook toegerus met ’n Arrow-uitlaatpyp. Die fiets is gestileer soos die café racers van ouds met ’n enkelsaal, en handvatsels wat ver vorentoe en laag sit. Die afwerking op die Guzzi is uitstekend. Die glimmende tenk lyk of dit ongeverfde aluminium is, maar is eintlik silwer geverf. Die rooi aksente van die raam en swaaiarm vul die ontwerp uitstekend aan.

As jy jou sit kry op die saal met sy blokkies stikwerk, besef jy hoe smal die V7 is. Die brandstoftenk is slank en die twee silinderkoppe steek aan weerskante van die tenk uit. Die tenk het ook ’n swart leerband met rooi stiksels wat oor die lengte van die tenk loop. Dit is hierdie soort afwerking wat eie aan Moto Guzzi is.

Voor jou is twee analoë wysers wat jou spoed en toere aandui. Daar is so ’n paar waarskuwingsliggies en ’n klein vloeikristaleenheid wat dinge soos tyd en ritafstand wys. Die uitleg is die eenvoud vanself. Voor die meters is daar ’n klein skermpie wat saam met die groot ronde voorlig die karakter van die fiets vasvat.

Toe ek op die fiets klim, het ek eers ’n paar minute geneem en my verwonder aan al die detail. Ek wou alles inneem. As jy die aansitter druk, het die fiets so ’n effense waggel aan hom. Die handvatsels is heelwat vorentoe gemonteer, maar nie ongemaklik nie. Die koppelaar is verspot lig en die eerste rat het ’n luide meganiese klank aan hom. Die hele ervaring van die V7 is egter dat hy lewend voel. Asof daar ’n hart en are moet wees. Die terugvoer wat jy kry van die fiets behoort enige motorfietsentoesias opgewonde te maak. Wat dit nog meer spesiaal maak, is die nommer op die handvatsels. “No 0572” pryk daarop. Dit is een van net 1 000 V7 Racers wat gebou is.

Die wringkrag van die V-twee, tesame met die bulder van daardie Arrow-pyp, maak die ryervaring baie spesiaal. Die kraglewering is maar ’n karige 52 perdekrag, maar is meer as genoeg vir hierdie soort fiets. Die V7 kan ’n redelike topspoed haal, maar weereens is dit van akademiese waarde. Dit is nie hoe jy hierdie fiets ry nie.

Die V7 is ’n uiters moderne fiets onder al daardie outydse afwerking. Sluitwering, tolbeheer en selfs twee ryprogramme is alles deel van die V7-pakket.

Die Moto Guzzi V7 Racer het oral koppe laat draai en dit is ’n fiets wat jy wil ry sonder ’n eindbestemming in gedagte. Jy ry hom vir die plesier. Hierdie fiets het my net weer laat besef hoekom ek mal is oor motorfietsry.

(Foto: Brain Cheyne)

Gaan loer gerus by Italianmi.co.za vir meer inligting oor dié motorfiets.

Spesifikasies:

Enjin744 cc V-twee
Gewig (nat )209 kg
Kraglewering38 kW @ 6 200 rpm
Wringkrag60 Nm @ 4 900 rpm
Tenkkapasiteit21

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Nee wat, hierdie een lyk nie so mooi soos die VII 750 super sport van my jonger dae nie. (So 45jr terug)
Was op die resiesbaan altyd voorlangs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.