Motorfietsdag om 2024 aan’t rol te kry

Dit is 2024. ’n Nuwe jaar breek aan, en baie mense beny my die voorreg wat ek het om die nuutste motorfietse te ry. Dit klink asof dit die ideale tydverdryf is, maar dit is lekker harde werk. Tussen my voltydse werk deur moet ek week na week fietse bespreek en mediaverklarings dophou. Dan is daar die foto’s neem, artikels skryf en instuur. Net om alles weer van voor af te begin.

En snaaks genoeg, as die druk begin wys, dan doen ek amper die ondenkbare: Ek gaan ry motorfiets om te ontspan. Die aksie van beweging deur ’n landskap en tyd op ’n motorfiets bly vir my ’n onbeskryflike ervaring.

Ek het al ver paaie gery met ’n motorfiets. Ek was al noord, in gietende reën deur Haenertsburg se grondpaaie. Oos tot in Swaziland, en tot bo-op die Sani‑pas. Suid tot in Gamkaskloof, en van daar wes tot by Paternoster. Ek het al op Laingsburg lank gesels met ’n omie wat sy jong dae herleef in die truspieël van sy lewensmotorfiets. Ek het al melktert geëet saam met Annelize, die eienaar van die padstal op De Vlugt. Ek het toe sommer nog ’n porsie bestel, want ons was die enigste twee mense daar en ek wou klaar luister hoe sy haar kind deur universiteit gesit het met melktert.

Ek was al op die plaas Grootdriefontein buite Murraysburg waar hulle elke jaar ’n stiltefees hou. Die stilte is tasbaar en die sterrehemel skoon en blink. Net soos op Verneukpan nadat die inperkings gelig is. Die motorfiets was my toegangskaartjie tot mense se stories. Die grootte van die enjin of die fabrikaat het absoluut geen rol gespeel nie.

As hierdie na iets klink wat jy ook graag wil doen, maar jy weet nie waar om te begin nie, omkring dan 27 en 28 Januarie in jou dagboek. Suzuki bied gereeld hulle motorfietsveiligheidsdag aan by die Red Star Raceway net buite Delmas, maar hierdie een gaan baie meer as dit behels. Vir twee dae sal daar ’n motorfiets-expo gehou word, en die meeste van die vervaardigers gaan daar wees om hul produkte uit te stal.

Omdat die baan vir die padskool bespreek is, sal jy ongelukkig nie van die fietse kan toetsbestuur nie. Jy kan egter die fietse bekyk, opklim, en jou vrae vra. As daar dan iets is wat jou oog vang, kan jy verder met die betrokke vervaardiger reël vir ’n toetsrit. Sover dit die baanry betref, is dit nie ’n tradisionele baandag nie. Geen fietse wat onpadwaardig is, sal toegelaat word nie. Vir slegs R300 kan jy rustig om die baan kom ry en aan jou vaardighede werk. Dit is die ideale plek om dit te doen. Almal ry in dieselfde rigting, en daar is geen gevaarlike kruisings nie!

As jy dus oorweeg om te begin motorfiets ry, kom maak gerus ’n draai by Red Star op een van die dae. Dalk is daar iets wat jou oog vang, en kan jy ook deel word van hierdie besondere tydverdryf. Ek hoop ek sien jou daar.

Meer inligting en waar om vir die padskool te registreer, is op Suzuki se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.